Hoogste Hof vra af: Wat verloor ons as 'n taal vergaan?

Hoogste Hof vra af: Wat verloor ons as 'n taal vergaan?
Foto: Wikimedia

Foto: Wikimedia

Uittreksels uit die uitspraak oor Afrikaans by Stellenbosch

Die Konstitusionele Hof het onlangs in die Gelyke Kanse-saak ten gunste van Universiteit Stellenbosch se huidige 2016-taalbeleid beslis. Die beleid plaas ’n aansienlike groter fokus op Engels as taal van onderrig, teenoor die 2014-beleid wat Afrikaans bevoordeel het. Die hof het beslis dat Engels die lesser of two evils is, siende dat dit inklusiwiteit en toegang tot hoër onderwys vir ’n breër segment van Suid-Afrikaners moontlik maak. Dit word in die uitspraak erken dat die beskerming en uitbou van Afrikaans belangrik is, maar dat dié verantwoordelikheid nie aan universiteite se deur gelê kan word nie, primêr weens kosteoorwegings. Afrikaans by universiteite is te duur. Anders gestel, is die wegdoening daarvan die prys wat betaal moet word vir gelyke kanse vir alle Suid-Afrikaners.

Buiten die wetlike bespreking onderliggend tot die uitspraak, het die hof sigself uitgespreek oor die plek van taal en diversiteit in Suid-Afrika – dit is dié uittreksels wat op Klyntji gedeel word. Daar word aangehaal uit die hoofuitspraak van Regter Edwin Cameron wat onlangs as kanselier van die Universiteit Stellenbosch verkies is. Sy termyn as kanselier skop in 2020 af. Dele is ook aangehaal uit Hoofregter Mogoeng Mogoeng se afsonderlike instemmende uitspraak. Die fokus is egter op Regter Johan Froneman se uitspraak wat volledig in Afrikaans geplaas word, aangesien dit in beide Engels en Afrikaans verskyn het. Die laasgenoemde uitspraak gaan met diep nabetragting met die besluit van die hof om.

Regter Cameron

[…] Afrikaans has been recognised in this Court as “one of the cultural treasures of South African national life”. The flood-tide of English risks jeopardising the precious value of our entire indigenous linguistic heritage. Gelyke Kanse is entitled to invoke that risk. This is because the march of history both in South Africa and globally seems relentlessly hostile to minority languages, including Afrikaans, which is the mother tongue of some seven million on a planet inhabited by seven billion people.

But that is not the University’s burden, as little is the fact that Afrikaans has all but vanished at other tertiary institutions, barring only one other. And the dilemmas the global march of English poses is not the question before the Court. Yet we should not miss the cost that the diminution of Afrikaans at the University entails not only for Gelyke Kanse and its adherents, but for our world, and for ourselves. […]

Hoofregter Mogoeng

[…] With all that done and dusted, it needs be said that Afrikaans is indeed an African language, our historic pride to be treasured by all citizens. Its existence precedes colonialism. And its subsequent development with the appropriately enriching infusion of terms from Dutch or any other European language and the unjust attempt to impose it on others, do not at all affect its original African DNA.

Our highly challenged fiscus has however imposed a constraint on us to share all the acutely limited public resources among ourselves as generously as considerations of justice, equity and reconciliation, informed by reasonable practicability, permit us to. As a result, it is most fitting to appeal particularly to our corporate citizens’ spirit of generosity, to help preserve Afrikaans, and develop other indigenous languages, as essential tools for knowledge impartation and comprehension. And that they can do by deploying resources to the establishment of private institutions of learning envisaged by section 29(3) of the Constitution, which would obviously not be driven by any sinister agenda to discriminate against others on any unconstitutional basis.

None of the dignity-restoring and enhancing aspirational measures laid down in our Constitution should deliberately or inadvertently, be rendered unworthy of the constitutional space they occupy. Plans to enhance the status and promote the use of indigenous languages, in line with section 6 of our Constitution, must thus be developed and kept ready for implementation as soon as the contestation for our scarce resources, by key national priority areas, has ebbed out. Where immediate implementation is reasonably practicable it would arguably serve us well to act. And that process would hopefully extend to the possible recognition and equal development of all spoken languages of the First Nation people.

Regter Froneman

Dit is altyd ’n voorreg om my ampsbroeder, Cameron R, se elegante en meevoerende uitsprake te lees. Weereens is dit geen uitsondering nie. Ek stem saam met die eerste uitspraak se redevoering en uitslag. Die eerste rede daarvoor is natuurlik dat ons gebonde is aan hierdie hof se uitspraak in AfriForum CC, waarop die eerste uitspraak voorbou. My afsonderlike uitspraak bevraagteken nie die onderliggende regsbeginsels van die eerste uitspraak se bevestiging en ondersteuning van AfriForum CC nie. Regspresedent is grondliggend tot ’n regstaat en die legaliteitsbeginsel. Maar hierdie bindende regspresedent word ondersteun deur die substantiewe erkenning dat ons Suid-Afrikaanse geskiedenis en huidige ongelykheid beteken dat wit Afrikaanssprekendes nie dieselfde behandeling as voorheen benadeelde taalminderheidsgroepe kan verwag nie. Die wesenlike voordele wat Afrikaanssprekendes geniet het in teenstelling met ander taalminderhede, maak dit onvermydelik.

Waarom ’n afsonderlike instemmende uitspraak? Omdat, eenvoudig gestel, die pad vorentoe ’n waarskuwing inhou.

Die eerste uitspraak verklaar rondborstig dat “[e]ndorsing the University’s 2016 Language Policy as conforming with section 29(2) comes at a cost. Our judgment must necessarily acknowledge it”. Dit erken dat die vloedgolf van Engels ’n daadwerklike risiko inhou vir minderheidstale as onderrigtale, insluitend Afrikaans. Dit is nie die Universiteit Stellenbosch se las nie, so ook nie die feitlike verdwyning van Afrikaans van ander tersiêre instellings nie. Ek dink dit sal waardevol vir die toekoms wees om na te gaan wat die gevolge is en wie uiteindelik die las daarvan sal dra.

Die werkswyse sal wees om eers —
(a) my siening van die substantiewe regverdiging vir die gebruik van verskillende taalonderrigmodelle op tersiêre vlak in AfriForum CC en die eerste uitspraak uiteen te sit; en dan
(b) die impak daarvan op verskillende taalsprekers by die Universiteit Stellenbosch en verder landswyd in praktiese terme te verduidelik.

Op grond van hierdie analise sal ek dan die gevolge van ons regspraak oor taalkeuse onder die Grondwet probeer ontrafel – en ondersoek doen oor wie dan die las daarvan sal dra.

Substantiewe regverdiging

Beide AfriForum CC en die eerste uitspraak druk die onderliggende rede vir die uitslag uit as een waar die gebruik van Afrikaans as onderrigmedium daartoe lei dat swart studente gestigmatiseer word. Omdat die meeste Afrikaanssprekende studente Engels magtig is, maar swart studente nie eweneens Afrikaans magtig is nie, word ’n taalbeleid wat voorkeur aan Engels as onderrigmedium verleen as normatief redelik geag. Dit volg uit die konteks van historiese en huidige institusionele voorregte wat wit Afrikaanssprekendes geniet het en steeds geniet.

Hierdie regverdiging het gevolge. Daar is ’n onverbiddelike prys wat betaal moet word vir enige vorm van taalonderrig in Afrikaans.

Die mees voor-die-hand-liggende voorbeeld is enkelmedium-Afrikaanse onderrig wat outomaties die uitsluiting van swart studente tot gevolg het. Dieselfde geld vir dubbelmedium-Afrikaanse onderrig waar die vertaling van Afrikaanse lesings in Engels tot die stigmatisering van swart studente lei.

Wat oorbly is parallelmediumonderrig. Dit kan geargumenteer word dat die AfriForum CC-formulering – dat parallelmediumonderrig onvermydelik segregasie meebring, en daarmee saam ook indirekte diskriminasie, ook geld waar bruin studente geskei word van swart studente. Die eerste uitspraak ontduik hierdie afleiding deur eerder normatiewe regverdiging vir die afwyking van volle parallelmediumonderrig te vind in redelike koste-gerigte, praktiese uitvoerbaarheidsgronde.

Praktiese effek

In praktiese terme beteken dit dat op Stellenbosch —
(a) alle eerstetaal Engelssprekendes wat dit verkies, voor- en nagraadse onderrig in Engels sal ontvang;
(b) alle tweedetaal Engelssprekendes wat dit verkies, voor- en nagraadse onderrig in Engels sal ontvang;
(c) eerstetaal Afrikaanssprekendes wat Afrikaans verkies, sal voorgraads afgewaterde onderrig in Afrikaans in verskillende variasies ontvang. Andersins sal dit in Engels wees. Op nagraadse vlak sal hulle onderrig slegs in Engels ontvang;
en (d) eerstetaal isiXhosasprekendes wat isiXhosa verkies, sal nie die geleentheid gebied word om dit te doen nie, maar sal op progressiewe wyse bygestaan word in daardie taal soos wat die 2016-beleid ontwikkel.

Eerstetaal Engelssprekendes is meestal witmense; eerstetaal Afrikaanssprekendes is meestal wit- en bruinmense; eerstetaal isiXhosasprekendes is meestal swartmense en tweedetaal Engelssprekendes sluit swart-, bruin- en witmense in. In die Wes-Kaap verteenwoordig eerstetaal Afrikaanssprekendes amper die helfte van die bevolking (49.6%), eerstetaal isiXhosasprekendes amper ’n kwart (24.7%) en eerstetaal Engelssprekendes slegs ’n vyfde (20.2%).

Hierdie stand van sake word landswyd herhaal —
(a) Alle eerstetaal Engelssprekendes wat dit verkies, kan voor- en nagraadse onderrig in Engels ontvang by enige universiteit in Suid-Afrika;
(b) Alle tweedetaal Engelssprekendes wat dit verkies, kan voor- en nagraadse onderrig in Engels ontvang by enige universiteit in Suid-Afrika;
(c) Eerstetaal Afrikaanssprekendes wat Afrikaans verkies, sal by die Universiteit Stellenbosch afgewaterde onderrig in Afrikaans ontvang en onderrig in Afrikaans met Engelse vertaling by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes Universiteit; en
(d) Eerstetaalsprekendes van enige ander inheemse Afrikatale wat onderrig daarin verkies, sal nie die geleentheid gebied word om dit by enige universiteit te doen nie, behalwe tot die beperkte omvang van die hulp wat enige van hierdie universiteite in hul eie taal mag aanbied om die Engelse onderrigmedium beter onder die knie te kry.

Mens benodig nie internasionale studies nie, waarvan daar vele is, om te besef dat hierdie stand van sake Engels as dominante taal bevestig, nie net op tersiêre vlak nie, maar, soos ons sal sien, ook vanaf laerskool na hoërskool tot by universiteit. Menings mag wissel oor die wysheid hiervan, maar dit is seer eienaardig dat hierdie hof, die uiteindelike bewaker van minderheidstaalregte ingevolge die Grondwet, sy goedkeuring daaraan gee.

Laste en voordele

Cameron R praat van die rasse-byt (“racial edge”) wat hierdie beleid het met betrekking tot wit Afrikaanssprekendes. Hierdie rasse-aspek het egter ook ander, soms verrassende, gevolge. Die eerste is dat die ander medebevoorregtes en draers van ons koloniale en apartheidsgeskiedenis, wit Engelssprekendes, heelhuids daarvan afkom (met hul taalregte ongeskaad) wat die uitoefening van taalonderrigkeuse betref. Die tweede is dat diegene wat die beste kans staan om akademies in Engels as ’n tweede taal oor die weg te kom, juis persone sal wees wat dit kan bekostig om skoolonderrig te ontvang by onafhanklike Engelse privaatskole of voorheen bevoorregte openbare skole. Hierdie ‘nuut’ opvoedkundig-bevoorregte Engelse tweedetaalsprekers sluit swart-, wit- en bruinmense in, wie se moedertaal enige van die ander amptelike tale, Afrikaans inkluis, is.

Die derde, mees kommerwekkende gevolg is vir die hoofsaaklik swart- en bruinmense op die laagste sosioekonomiese skaal van ons samelewing. Hulle woon die swakste toegeruste skole by, beide in befondsing en personeel, in die landelike en stedelik-gemarginaliseerde gemeenskappe en word die meeste benadeel deur slegs Engels as hul keuse van onderrig. Hulle ontvang onvoldoende moedertaalonderrig wanneer hulle hul opvoeding begin en die Engelse onderrig is ook dikwels van ’n swak gehalte.

Volgens die getuienis op rekord is Afrikaans die moedertaal van ’n beduidende gedeelte van bruinmense in die Wes-Kaap (asook in die Noord-Kaap). Dit toon ook aan dat hulle hoofsaaklik van die werkersklas afkomstig is en dat baie van hulle nie Engels magtig of vlot daarin is nie. Statisties gesproke is hulle die bevolkingsgroep met die kleinste verteenwoordiging in tersiêre opvoeding. Armoede beteken dat dit vir hulle moeiliker is om bloot net te aspireer na tersiêre onderrig as vir die meeste andere. As hulle ooit so ver sou kom, is daar net een universiteit in die Wes-Kaap waar Afrikaans nog gekies kan word as medium van onderrig. Wanneer hulle nou daar sou aankom, sal hulle vind dat hul keuse van Afrikaans as medium van onderrig, nie so omvattend is as die meer bevoorregte student wat Engels kies nie. Die bitter waarheid is dat hul armoede en agterstand in Engels, hulle selfs slegter af laat.

Dit is ’n diep ontstellende onreg. Wat is die vergelykende hoeveelheid mense in hierdie groep bruinmense teenoor daardie swartmense wat uitgesluit was, of uitgesluit gevoel het, deur die toepassing van dubbelmediumonderrig by Stellenbosch? Die prentjie is nie duidelik op die stukke nie. Dit was ook nie die middelpunt van Gelyke Kanse se grondwetlike aanval op die 2016-beleid nie. Maar gesonde verstand dui aan dit is ’n wesenlike probleem, nie net vir die betrokke persone nie, maar vir alle gemarginaliseerde en arm mense met ’n moeder- of huistaal wat nie Engels is nie.

Dit is ook nie bloot ’n plaaslike probleem nie. Dit is ’n internasionale probleem, hoofsaaklik gespits op die dominansie van Engels, maar ook met betrekking tot ander koloniale tale soos Frans, Spaans en Portugees. Voorts is dit ook ’n besondere post-koloniale probleem in Afrika, nie slegs in Suid-Afrika nie. In ’n onlangse studie oor die kommerwekkende graad van ongeskooldheid in verskeie Afrikalande merk die skrywer op:

In so-called Anglophone, Francophone, and Lusophone Africa, the prominence given to English, French and Portuguese respectively has rendered African languages instrumentally virtually valueless. What is at issue … is whether it can be deemed appropriate and economically justifiable to devote so many resources to education through the medium of a foreign language such as English, for instance, especially since centuries of experimentation with Western education has not resulted in mass literacy development in the African continent.

– Kamwangamalu Language Policy and Economics: The Language Question in Africa (Palgrave Macmillan, Londen, 2016)

Studies toon aan dat die noodsaaklike vaardighede vir kognitiewe taalkundigheid en interpersoonlike kommunikasie beter ontwikkel onder moedertaalonderrig, oor die algemeen en in die besondere ’n vorm van moedertaal-gebaseerde multitaalonderrig.

Wetenskaplike literatuur toon aan dat effektiewe moedertaal-gebaseerde multitaalonderrig minstens ses jaar se onderrig in die moedertaal verg, tesame met die tweede taal as die vak wat aangeleer moet word vir die moontlike oorskakeling daarna vir sekere akademiese vakrigtings. Dit is egter nie die norm in Afrika nie en ook nie in ons suidelike deel daarvan nie. Hoekom nie?

Sommige skryf dit toe aan elitisme:

Often, although individuals vote for the promotion of a national language … in their personal lives they act in a way that subverts that vote. In many cases, they enrol their children in schools where access to the former colonial language is ensured and, at the same time, demand equal favour for their vernacular. In the sardonic words of the Tunisian general secretary of secondary public education, ‘We do not cease to repeat ‘Arabization, Arabization,’ all the while sending our children to the [French private school system].

– Laitin Language Repertoire and State Construction in Africa (Cambridge University Press, Cambridge, 1992)

En:

[T]he behaviour of the elite speaks more loudly than their tiresome demonstrations of the alleged cognitive and intellectual benefits of early mother tongue education. The duplicity of language planners has caused the elite who are not involved in the language industry to be sceptical, ambivalent, apathetic, or even hostile to the use of African languages in education. This, in turn, has hardened the resolve of parents against mother tongue education in many French-speaking countries.

– Koffi Paradigm Shift in Language Planning and Policy – Game Theoretic Solutions (De Gruyter Mouton, Boston, 2012)

In Suid-Afrika is daar ’n verdere rede om die rug te draai op moedertaalonderrig. Die apartheidstelsel “used promotion of the mother tongue principle, specifically the advancement of the indigenous languages as subject and medium of instruction, as a central instrument of the policy of divide and rule”. En die 1976-Soweto skoolopstande raak steeds diep aan ons nasionale bewussyn.

Om ontslae te raak van die stigma van apartheid in die persepsie van moedertaalonderrig in ons land sal ’n gedugte taak wees. Maar as ons ooit verby moddergooi wil kom, inderdaad verby ons verlede wil kom, is dit noodsaaklik om huidige ongelykhede met nuwe oë te bekyk. Daar is ’n gruwelike ongelykheid in die graad van opvoeding wat onderbefondste en uitgeslote mense in landelike en minder gegoede stedelike woonbuurte ontvang. Daar is baie wat aanvoer dat langer aanvanklike moedertaalonderrig hul benarde posisie sal verbeter, maar dit is steeds hul nie beskore nie. Hulle moet dus genoeë daarmee neem om in Engels taalonderrig te ontvang vanaf ’n uiters vroeë stadium.

Dit is ’n harde en ongenaakbare werklikheid, maar die Engelse opvoeding wat jong kinders in hierdie posisie ontvang, is oor die algemeen van ’n swakker gehalte as wat meer bevoorregte kinders in onafhanklike privaatskole en beter toegeruste stedelike, openbare skole ontvang. En as gevolg van hul uitsluiting verminder hul direkte politieke mag om die toedrag van sake te verander. So gaan die siklus van marginalisering dus voort en word dit al hoe dieper gevestig. Vir hulle is die ‘keuse’ van Engels as medium van onderrig nie vrywillig nie, maar geforseerd, en die vooruitsigte skraal. Verskraling van die Afrikaanse aanbieding by een van die twee universiteite waar dit nog aangebied word, sal bitter min vir hulle help.

Wat verloor ons as ’n taal vergaan? Laat andere praat.

Ngũgĩ wa Thiong'o:

Language as communication and as culture are then products of each other. Communication creates culture: culture is a means of communication. Language carries culture, and culture carries, particularly through orature and literature, the entire body of values by which we come to perceive ourselves and our place in the world. How people perceive themselves affects how they look at their culture, at their places’ politics and at the social production of wealth, at their entire relationship to nature and to other beings. Language is thus inseparable from ourselves as a community of human beings with a specific form and character, a specific history, a specific relationship to the world.

– Ngũgĩ wa Thiong’o Decolonising the Mind: The Politics of Language in African Literature (James Currey, Londen, 1986)

Breyten Breytenbach:

Taal is mens en mens is taal. Afrikaans is die lewende en veranderende en andersmakende uitvloeisel van uiteenlopende en by tye botsende geskiedenisse. Hierdie diverse oorspronge gekenmerk deur aanpassing, verowering, onderdrukking, oorlewing, weerstand en omvorming – afkomstig uit Europese dialekte, Maleis, Portugees, seemanstaal, Khoi-tale, Arabiese Afrikaans, die Koran en die Bybel, die howe en kerke en kombuise en wingerde en fabrieke – het gemaak dat Afrikaans ’n unieke hibridisering vergestalt as kreoolse taal wat by uitstek die verwoording is van die komplekse wêreld waarin ons beweeg.

– Breyten Breytenbach se ondersteunende beëdigde verklaring in hierdie saak

Sonder ’n eie taal, is deel van ons kultuur verlore, ons gewaarwording van onsself vernietig. En as dit gebeur, word diversiteit verloor. Ons verloor dan die geloof verwoord in die aanhef tot die Grondwet dat Suid-Afrika aan almal wat hier leef, behoort, verenig in ons diversiteit.

Dit is regtig eenvoudig. Dis om gemaklik met jou eie self te wees. Enige plek en orals. Om tussen familie en vriende die taal te praat wat ons liefhet. Om winkel toe te gaan en beskaafdheid te verwag as jy hoop om in jou taal bedien te word. En as dit nie moontlik is nie, om beskaafd en vriendelik te verduidelik waarom jy daarvoor gehoop het. En as iemand met jou praat in ’n taal wat jy nie magtig is nie, om verskoning te maak en te sê jy hoop om volgende keer beter te kan doen.

Net so belangrik, ook so in die openbare lewe van ons land. Daar behoort geen rede te wees vir enigeen om verskoning te maak of ongemaklik te voel as jy praat of skryf in jou eie taal, ’n amptelike taal van ons land, nie. Ons moet almal leer om dit te doen op ’n manier wat die uitsluiting van andere verminder, maar dit beteken nie ons word die swye in ons praat, ons skrywe, ons gebruik daarvan, opgelê nie. Solank ons seker maak, so goed as wat ons kan, dat ons nie andere uitsluit wanneer ons dit doen nie. Want dan word dit uitoefening van mag.

Suksesvolle moeder- of huistaalopvoeding en -onderrig kan gedoen word. Lande in Asië, Europa en in Kanada in Noord-Amerika het dit bewys. Die ondersteuning van Amharies in Ethiopië, kiSwahili in Tanzanië en Somalies in Somalië, is toonbeelde daarvan in Afrika. Ironies egter, is die “clear-cut and strongest case of successful vernacular language education in Africa … Afrikaans in South Africa, under the apartheid regime.” Faktore wat daartoe gelei het was die lojaliteit van die taal se sprekers en massiewe politiese en materiële staatshulp. Dit is omskep in die toenemende gebruik daarvan in die ekonomie en ander openbare instellings, insluitende universiteite. Dit is een van die min kleiner wêreldtale wat ontwikkel het tot ’n erkende akademiese taal.

’n Voorbeeld daarvan is Afrikaans se ontwikkeling as ’n regstaal. Handboeke is in Afrikaans deur Afrikaanse akademici geskryf, met ’n groot en belangrike invloed op die ontwikkeling van ons reg. Voor 1947 is slegs ’n paar Appèlhof-uitsprake in Afrikaans geskryf. Vanaf 1947 tot 1994 is veel meer uitsprake in Afrikaans geskryf, veral waar dit die litigante se moedertaal was. Sedert 1994 al hoe minder. In hierdie hof is drie gepubliseerde uitsprake in Afrikaans geskryf en terselfdertyd in Engels vertaal. Miskien is hierdie een die laaste een. Dit sal ’n kwade dag wees. Ek hoop dit sal nie gebeur nie.

Sover ek weet is daar nog nie ’n uitspraak in enige van die ander inheemse Afrikatale in hierdie hof geskryf nie.

Die Grondwet bemagtig elkeen van ons om trots te wees op ons taal. Ons hoef nie een taal te vernietig om die ander te bevorder nie. Dit beteken wel ja, vir wit Afrikaanssprekendes, dat ons sensitief moet handel met die feit dat Afrikaans as magsintrument in onderdrukking gebruik is. Dit moet erken word voordat ons te gou begin kla oor hoe ons nou behandel word. Maar dit keer nie dat ons, en beslis nie bruin en swart Afrikaanssprekendes, nie mag trots wees op ons taal nie. Daar lê ’n lang pad voor voordat wye aanvaarding gevind sal word dat Afrikaans “die verwoording is van die komplekse wêreld waarin ons beweeg”, maar dit begin reeds gebeur.

Dit beteken ook, en miskien meer belangriker, dat ons mede-Suid-Afrikaners wie se huistale die ander inheemse Afrikatale is, hul eie reg onder die Grondwet meer behoort te gebruik. Waar ookal, in enige plek en orals. As dit witmense wat nooit ’n poging aangewend het om enige van daardie tale te verstaan nie, ongemaklik maak, is dit hulle verlies. As dit ander inheemse Afrikataalsprekers sal aanmoedig om die inherente waarde van hul eie taal te bevorder, is dit ook ons Grondwet se belofte.

Dit word dikwels beweer dat sonder geregtelike ondersteuning, minderheidstale uiteindelik sal verdwyn. Maar dit behoort nie onvermydelik so te wees nie. Laat die verbeelding ’n oomblik loop. Verbeel ’n Stellenbosch waar die huidige emosionele en dikwels onsmaaklike openbare, strydige debat verplaas word deur ’n gemeenskap wat saamwerk. Alumni en ander welwillendes kom bymekaar om ’n gewaarwording aan te wakker wat klem lê op die nood van minder toegeruste isiXhosa en bruin en swart Afrikaanssprekende gemeenskappe om toegang te kry tot die universiteit se akademiese uitnemendheid. En dat iets “redelik prakties” daaromtrent gedoen word, naamlik befondsing word geïnisieer om die progressiewe institusionalisering van isiXhosa, Afrikaans en Engels as gelyke taalkeuses by die universiteit te verwesenlik.

Verbeel ’n Grondwetlike Hof waar uitsprake nie uitsluitlik in Engels geskryf word nie, maar in ’n verskeidenheid van ander inheemse tale, met gelyktydige vertalings in Engels in die aangrensende kolom, soos in die Kanadese hofverslae. ’n Geleentheid vir aanvanklike feesviering, voordat ons dit later doodgewoon aanvaar as die norm.

Is dit “redelik onprakties”? Ek dink nie so nie. Om te aanvaar dit is onvermydelik so, is om deel van ons Grondwetlike droom prys te gee. Ons hoef dit nie te laat gebeur nie.

Lees die volle uitspraak met bronverwysings hier.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Hoogste Hof vra af: Wat verloor ons as 'n taal vergaan? gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand