Toast Coetzer praat met Willim Welsyn oor Ons Klyntji

Toast Coetzer praat met Willim Welsyn oor Ons Klyntji
toast coetzer ons klyntji

Op die WAT-podcast

ICYMI

In hierdie podcast van September 2017 praat Toast Coetzer met Willim Welsyn oor die geskiedenis, sowel as die hedendaagse bestaan van Ons Klyntji. Toast, saam met Erns Grundling en Alice Inggs, en ander medewerkers, is vandag aan die stuur van die eerste en oudste Afrikaanse tydskrif in die heelal. Klyntji.com het in 2014 ontstaan as ’n afsonderlike webjoernaal met Francois Lion-Cachet as redakteur, maar bly verbind aan die zine wat een keer ’n jaar verskyn. ’n Voorbeeld hiervan is Klyn Deuntjies, ’n reeks moody audio tracks van gedigte en verhale wat in die zine verskyn het, wat op Klyntji.com gehost word.

Ouer as Huisgenoot

Toast vertel oor die stig van Ons Klyntji deur die Genootskap van Regte Afrikaners in 1896, wat deur Koos Kombuis uitgegee is in die 1990’s, waarná Toast en Erns in die jaar 2000 as redakteurs oorgeneem het. Ons Klyntji is bekend daarvoor dat dit gevestigde sowel as onbekende dog ontluikende skrywers se werk publiseer. Dit gaan saam met lukrake illustrasies, foto’s, aanhalings en onderhoude wat die tydsgees van die jaar waarin dit verskyn vasvang. Die klein boekie is amper soos ’n tydkapsule. Toast vertel van die knock-on effect van klein dingetjies, soos om in Ons Klyntji gepubliseer te word. Ons Klyntji aanvaar bydraes in alle tale as ’n diverse ontmoetingspunt van dinge wat nie sommer elders sou verskyn of gepubliseer word nie. Hy vertel ook van die ondersteuning van OppiKoppi en Woordfees om die labour of love se uitbreiding moontlik te maak.

Die WAT-podcast

Die WAT-podcast het in Mei 2015 ontstaan en nuwe episodes is sedertdien gereeld vrygestel. Die onderhoud-argief staan vandag oor die 160-episodes sterk, gevoer met ’n verskeidenheid musikante, skrywers, akteurs en ander mense in die vermaakbedryf. Toast Coetzer was die heel eerste gas op die WAT-podcast, waar hy praat oor sy grootwordjare en sy band The Buckfever Underground, onder meer. Hy het weer aangesluit vir hierdie 124ste episode.

Luister na die podcast hierbo of op Spotify, iTunes. Dit kan ook hier afgelaai word. Lees hier meer oor die webjoernaal en zine.

Bydraes vir die Ons Klyntji zine is die hele jaar oop. Stuur jou gedigte, kortverhale, foto’s en illustrasies na info@toastcoetzer.com.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Toast Coetzer praat met Willim Welsyn oor Ons Klyntji gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand