KYK: 'n Dokkie oor Johan Heyns se opstand teen apartheid

KYK: 'n Dokkie oor Johan Heyns se opstand teen apartheid

Filmmaker Adam Heyns verken sy oupa deur gevonde beeldmateriaal

Die 19-minuutlange dokumentêr Exorcist of Apartheid se meestal gevonde beeldmateriaal is indringend, spanningvol en intens. Die ontsenuende klankbaan deur Jacob Israel, gemix deur Peach van Pletzen, is nie soseer gewelddadig nie, maar gaan wel oor verset teen ’n brutale en monsteragtige sisteem van onderdrukking.

Die film handel oor Adam Heyns (regisseur, redigeerder en vervaardiger) se driejaarlange ontdekkingstog oor die lewenswerk van sy oupa, dr Johan Adam Heyns, wat bekend bly vir sy opstand teen die apartheidsisteem en die NG Kerk se destydse ondersteuning daarvan. Dit was eers toe Adam se ouma vir hom ’n boks vol VHS tapes gegee het, dat hy die volle omvang van sy oupa se rol in die weerstandbeweging besef het. Willem van den Heever is die mede-vervaardiger.

Johan Heyns is in 1994 in ’n sluipmoordaanval in die agterkop geskiet; deur hulle sitkamervenster voor sy kleinkinders. Adam en sy gesin was ten tyde van die voorval in Duitsland gewees en het op die radio van die voorval verneem, en later op die lughawe op pad terug Suid-Afrika toe in die New York Times daarvan gelees. So vertel Adam se pa, Christof Heyns, in die stuk ’n Soldaat van vrede. Niemand is ooit vervolg nie en die identiteit van die moordenaar bly onbekend.

Dit was eers ná Johan Heyns in 1982 uit die NG Kerk se leierskapstrukture gestem is, vanweë sy streng kritiek teen apartheid, dat hy as moderator van dié kerk verkies is tydens die noodtoestand in 1986. Die apartheidbeleid is toe onder sy leiding, formeel veroordeel deur dié kerk – ’n groot terugslag vir die destydse regering.

Een van die dokumentêr se mees treffende oomblikke is beeldmateriaal van Johan Heyns se Geloftedagpreek by die Voortrekkermonument in 1988, waar hy die skare van duisende Afrikaners aanspreek. Hy breek af aan die heersende ideologie dat Afrikaners die uitverkore volk van God is – ’n beroep op moraliteit wat hom nie juis gewild gemaak het onder sy eie geledere nie.

In die film word die roete ook verken wat Johan Heyns gestap het om tot die besef te kom dat apartheid nie verdedig kan word nie. In Amsterdam het hy vir die eerste keer saam met ’n Swart persoon nagmaal gevier; dit was daar dat hy werklik besef het wat in die naam van die kerk gedoen word.

Die film is ’n subjektiewe verkenning van (gedeelde) erfenis, asook ’n poging om sin te maak van die verlede se invloed op die hede. Dit is ’n eerbetoning van Adam aan sy oupa. Die kyker word wel ook uitgenooi om eienaarskap van dié gedeelde erfenis te neem en verder daarop te bou.

Die dokumentêr se première by The Bioscope in Johannesburg, op 22 Augustus 2018, het hittige bespreking onder ’n groep jong Suid-Afrikaners ontketen. Het die kerk werklik verander? Wat van die uitsluiting en veroordeling van gays? Kan mens in 2018 nog geduldig wees met ’n rassis om tot ’n diepere besef te kom? Is Suid-Afrika vandag in ’n beter plek in vergelyking met die 1980’s? Hierdie vrae is van dié wat bespreek is.

Die film is in 2019 by verskeie filmfeeste gewys in Amerika, Italië, Switserland, Nederland en elders. Dit is plaaslik bekroon by die Jozi Film Festival. Dit word nou in 2020 op Klyntji beskikbaar gemaak.

Die klankbaan is op Jacob Israel se Marchlands gebaseer, wat hy beskryf as ’n tipe grensgebied – ’n area tussen twee lande – ’n niemandsland. Hy vergelyk dit met ’n right of passage; ’n tawwe area om deur te beweeg waar jy nie meer jou vorige self, en nog nie jou toekomstige self is nie. Vir hom is dít waar Suid-Afrika sigself tans bevind, in ’n oorgangstydperk wat sal bepaal hoe die pad vorentoe lyk. Israel sê by die première iets in die lyn van: “Maybe as South Africans we are still in the continuous marchland, trying to get through, to exit our borderland into the country where we are supposed to be. It is time to stand up against the bullshit.”


’n Vorige weergawe van hierdie storie het op 03/09/2018 verskyn. Dit is sedertdien effens aangepas.

Redakteur van Klyntji, assistent-kurator van die Konstitutionele Hof se kunsversameling en tans besig met 'n LLM in mediareg. Instagram / redakteur@klyntji.com

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van KYK: 'n Dokkie oor Johan Heyns se opstand teen apartheid gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand