Die heilsaamheid van Jack Parow se Trompie-agtige persona

Die heilsaamheid van Jack Parow se Trompie-agtige persona

In dié dokkie word verken hoe die 'pirate van die caravan park' die mas opgekom het

Onder die naam “Muis is Baas” bedank Zander Tyler meer as ’n dekade gelede uit sy werk en trek terug na sy ma om sy aandag voltyds aan musiek te wy. Ná een aand van “bietjie op die dorp uit mission” (só vertel die ‘Cooler as ekke’-rapper in From Parow to Parowfest: The Jack Parow Story, ’n dokumentêre film wat onlangs by die 2020 Silwerskermfees onder die bestendige hand van Charlenè Brouwer première het) kom hy by die huis toe Pirates of the Caribbean op die televisie speel en, geïnspireer deur Jack Sparrow, die main pirate of the Caribbean, word Jack Parow, die pirate of the caravan park, gebore.

Voor Suid-Afrika aan Jack Parow en sy kenmerkende lang kep bekend gestel is, het Tyler (38) onder andere in ’n visfabriek gewerk en ’n vakleerlingskap as ’n werktuigkundige gedoen. Die dokumentêr bied ’n blik op die kunstenaar se lewe en die gebeure wat lei na Parowfest, Jack Parow se eerste musiekfees van sy eie wat in 2017 in Utrecht plaasgevind het.

Daar is iets aan Jack Parow se persona wat hom ’n Trompie-gevoel gee, merk die digter en musiekkenner Danie Marais, een van die kommentators in die dokumentêr, op. Marais lyk byna verbaas wanneer hy sê dat daar tog iets baie eg en heilsaam aan Jack Parow is.

Sy eerste groot treffer ‘Cooler as ekke’ is in 2009 opgeneem en dit is met ’n begroting van R2500 in ’n prop house verfilm. Die meeste ouers sou dié musiekvideo waarskynlik twyfelagtig aanskou, maar Tyler se ma – in verwondering oor wat haar seun die afgelope naweek opgeneem het – het haar twee dogters dadelik laat kom om na die song te luister.

From Parow to Parowfest

Sedertdien het Jack Parow een van die mees herkenbare kunstenaars in Suid-Afrika geword, met ’n enorme gevolg in Nederland en België. Hy het selfs al in Rusland, Dubai, Engeland en Amerika opgetree. Tot op datum het hy vyf studio albums en twee EP’s vrygestel, sowel as ’n kort televisiereeks, Dis Hoe Ons Rol, wat in 2016 op kykNET uitgesaai is. Ook sy biografie Die Ou Met die Snor by die Bar, geskryf deur Theunis Engelbrecht, het in 2015 verskyn.

In From Parow to Parowfest vleg Brouwer binne die bestek van ’n uur deur Zander Tyler se voorstedelike kinderdae met insette van sy ma en ouer suster, asook sy eerste rap crew wat iewers tussen ’n huis naby Kloofstraat en verskeie partytjies in Kaapstad ontstaan het. Dan is daar ook die verkenning van die besluit om in Afrikaans eerder as in Engels te skryf, tot en met Parow se latere samewerking met gevestigde kunstenaars soos Die Antwoord, Die Heuwels Fantasties, Fokofpolisiekar en Valiant Swart. Filmredigering is deur Christiaan Scheepers gedoen, aan wie Brouwer die sukses van die dokkie deels toeskryf.

In die film is daar deurentyd kommentaar van Danie Marais, Loki Rothman, Louise Crouse, Merwe Marchand le Roux, Rufio Vegas en Hardus van Deventer. Daar word ook deurlopend van Tyler se kinder- en jeugfoto’s gedeel waarvan sommiges hieronder ingesluit is.

Die film is op DStv BoxOffice beskikbaar.

From Parow to Parowfest
From Parow to Parowfest
From Parow to Parowfest
From Parow to Parowfest
From Parow to Parowfest
From Parow to Parowfest
From Parow to Parowfest
From Parow to Parowfest
Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Die heilsaamheid van Jack Parow se Trompie-agtige persona gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand