Edó: Werkit boetie, werkit

 Edó: Werkit boetie, werkit

Foto’s: Sam Marais, via @edomostert

Van kleindorpiedinge na drag-ikoon

Edó Mostert is ’n sanger, fotograaf en drag queen met groen vingers. Hy is gebore in Alexanderbaai, het in Piketberg skoolgegaan en al die kleindorpiedinge soos rugby kyk op Saterdae en NG Kerk op Sondae deurgemaak, totdat hy uiteindelik na die groot stad verhuis het. Tydens die inperking het hy teruggetrek na sy ouers se huis op Piketberg, waar hy hulle twee hondekinders, Gin en Tonic, help grootmaak het en ook ’n diep liefde vir plante ontwikkel het. 

Vir die afgelope tien jaar werk hy as troufotograaf, en dié journey het begin toe hy by Inscape Design College in Kaapstad gestudeer het. As kind wou Klein Edó graag ’n popdiva word. Britney Spears, Christina Aguilera, Céline Dion en Spice Girls was van die popsterre na wie hy opgekyk het. Later is hy aan Beyoncé en Lady Gaga blootgestel, en die droom het aanhou groei. Van sy laerskooldae af neem hy al sanglesse, maar hy meen hy het nie altyd so gegooi op die verhoog soos wat hy nou doen nie. Hy het maar net met sy engelstemmetjie stilgestaan en gesing. Al het sy lewe ’n hele klomp draaie gevat, reken hy dat hy presies nou op die plek is waarvan hy in sy kinderjare gedroom het. Al beklee hy verskillende rolle, was sy main ding altyd om ander mense se lewens op die een of ander manier te verryk. 

“Ek het altyd daarvan gehou om mense te laat lag. Om mense goed te laat voel. Ek het altyd vriendinne se hare ge-straighten en hulle make-up help doen, want dit het hulle goed laat voel oor hulleself,” sê Edó. 

Dié uitkyk om ander se lewens beter te maak, het op laerskool begin. Edó het daarvan gehou om sy onderwysers se lewens makliker te maak. Met ’n laggie sê hy, hy het altyd die reëls gevolg, en dis 100% people-pleasing in aksie. As fotograaf kry hy dit al vir tien jaar reg om ’n impak op mense se lewens te hê en nou, as ’n queer Afrikaanse icon, maak hy sy merk op ’n veel groter vlak. 

Aan die Hoërskool Piketberg matrikuleer Edó as ’n A-kandidaat, en hy is daarna na Inscape Design College waar hy interior architecture studeer. En al wou hy eintlik opskop, het sy ouers gesê sy studies was te duur om op te skop, en hy moes deurdruk. Weer eens slaag hy, volgens hom “by some miracle”, met vlieënde vaandels. In sy tweede jaar by Inscape Design College het sy pad met fotografie gekruis. Edó verduidelik:

“Toe raak ek absoluut mal verlief daarop. Toe ek daai kamera het wat lekker depth of field het, toe is die koeël deur die kerk. Toe wou ek net foto’s neem. Ek wou opskop en my eie fotografiebesigheid begin. Wat ek in hindsight seker maar kon doen, maar ek wou ook die gevoel kry dat ek iets klaargemaak het. Ek voel die jonger generasie (lag) maak nie altyd iets klaar nie. Ek self. If it doesn’t give me joy, I don’t finish it. Behalwe as dit belangrik is, natuurlik.” 

In 2018 voltooi hy ’n make-up-kursus “net om bietjie iets anders as fotografie te doen”, en om ’n ander kreatiewe uitlaatklep te vind. “Dit voel partykeer so ’n mens invest so baie in jou day job of jou daydream, as I like to call it. Dit sluk jou heeltemal in,” meen Edó. Om te voorkom dat hy nie ingesluk word deur die alledaagse nie, het hy hier en daar mense se make-up gedoen. In sy agterkop het hy geweet hy gaan eendag ’n drag queen wees. Hy het ook geweet dat hy nie ’n drag queen gaan wees wat op ’n verhoog klim en sleg lyk nie. Voordat Edó se drag queen-drome gerealiseer het, het die realiteitsreeks Wat Dit Vat op VIA eers oor sy pad gekom. 

In sy agterkop het hy geweet hy gaan eendag ’n drag queen wees. Hy het ook geweet dat hy nie ’n drag queen gaan wees wat op ’n verhoog klim en sleg lyk nie.

Wat Dit Vat het Edó in 2021 genoop om uit Piketberg uit terug Kaap toe te trek. Hy beskryf die verfilming daarvan as ’n bubble en ’n absolute blur vir sewe weke van sy lewe. Sy fotografiebesigheid was die besigste ooit, en hy het hard gewerk om geld te maak sodat hy die pandemie kon oorleef. 

As jy tot op hierdie stadium nog nie weet van wie ek skryf nie, gaan die volgende beslis ’n klokkie lui – “Werkit boetie, werkit.” ‘Werkit boetie’ is die song wat Edó vanuit sy ervaring by Wat Dit Vat kon skep. Hy vertel die song was skaars twee dae uit, toe book hy sy eerste drag gig by dieselfde show waar die Kanadese drag queen, Brooke Lynn Hytes van RuPaul’s Drag Race, opgetree het. Dié warrelwindoomblik beskryf hy: 

“En ek is net soos, guys I’ve never performed in drag, but let’s go! Toe het ek 3 weke om te gaan van never performed in drag to soos moet hakke koop, moet ’n rok laat maak, moet hip pads kry. Ek het toe nog nie pruike gehad nie, want dit was net eenvoudig te duur. En ek moes dansers kry, danspassies leer. Dit was chaos.” 

Intussen het Edó se drag career van krag tot krag gegaan. Hy doen sy eie shows, en is deel van ’n produksiemaatskappy wat produksies doen om mense in die drag community te uplift. 

Op ’n vraag oor hoekom hy drag begin doen het, sak Edó af: “Sjoe, wow, what a loaded question!” Hy brei uit dat indien hy maer en cis bodied was, hy nie noodwendig ’n drag queen sou word nie, omdat dit nie dieselfde statement sou maak soos wat hy tans in en met sy liggaam en kuns doen nie. 

“Ek is ’n plus sized man wat op stage klim en pretty decent lyk; my make-up is goed gedoen, my outfits is well-constructed, ek maak ook my mond oop en ek kan actually goed sing. En ek doen dit alles met confidence.” 

Hy sê indien hy maer en cis bodied was, hy nie noodwendig ’n drag queen sou word nie, omdat dit nie dieselfde statement sou maak soos wat hy tans in en met sy liggaam en kuns doen nie. 

Met hoe hy represent, stuur hy ’n positiewe boodskap na die wêreld toe uit. En dié boodskap? “Fuck the world and do what you want to do,” sê hy met erns. Die hoofrede waarom hy drag doen, is om vir klein Edó’s daarbuite te wys dat dit okay is om authentically jouself te wees. Hy weet dis nou al holrug gery om te sê “wees net jouself”, maar hy glo ook dat jy die enigste persoon is wat in jou pad staan om jou drome te bereik. Hy is bewus daarvan dat daar jonger queer mense is wat voel hulle kan nie uit die kas uit kom nie. Die depressie-, angs- en selfmoordsyfers onder die LGBTQIA+ gemeenskap is hoog. Hy wil ’n smile op mense se gesigte sit en mense laat verstaan dis okay. Dis okay om te wees wie jy is.

Edó sê hy het nie drag begin doen om homself te empower nie – sy drag naam is ook “Edó” omdat hy juis voel hy “stepped into [his] power before doing drag”, waar baie queens begin met drag om hulleself meer selfvertroue te gee. In die drag-kultuur is daar altyd die vraag wie die persoon was wat die betrokke drag queen vir die eerste keer in drag gesit het. Daardie persoon word dikwels dan na verwys as die drag queen se “drag mother”. Edó antwoord laggend dat hy homself die eerste keer in drag gesit het. Iemand moes hom wel help om sy bra aan te trek, want hy het nie geweet hoe dit werk nie, maar verder aan was hy fine en in beheer van sy image. Edó is sy eie drag mother, en hy is dieselfde mens in drag as in die regte lewe. Daarom het hy ook besluit om sy naam net Edó te hou. Van sy gunsteling-drag queens is Trixie Mattel van RuPaul’s Drag Race en die Suid-Afrikaanse drag queen, Manila von Teez. Oor Manila sê hy: 

“She hustles. Sy uplift ander drag gueens, sy maak klere, sy dans amazingly goed, haar humor is amazing. Ek sing natuurlik beter as sy, maar sy sal saamstem daarmee. She makes things. Sy maak dinge werk, sy sit Suid-Afrikaanse drag op die map. En sy is polished.”  

Rok deur @manilavonteez

Naas saam met afgeronde kunstenaars soos Manila von Teez werk, geniet Edó hoe powerful drag hom laat voel. Hy voel asof hy die wêreld kan conquer en daar is nie ’n enkele persoon wat vir hom kak kan vertel nie. Hy lyk amazing en hy sing amazing. 

Ek pols vir Edó ook oor Evita Bezuidenhout, want as jy mooi daaroor dink, is Evita Bezuidenhout een van Suid-Afrika se oudste en bekendste drag queens. Edó verduidelik ook dat Evita drag in ’n tyd begin doen het waar indien sy dieselfde materiaal op die verhoog as ’n Wit man perform het, dit nie dieselfde trefkrag sou hê nie.  

“She used the spectacle of drag to convey the message she wanted to. Sy het die absolute bizarreness van ’n man wat as ’n vrou opgedress is, en nie eers noodwendig fokken great gelyk het altyd nie, I mean, she was polished, maar jy kon nog steeds gesien het dis ’n man, maar she used that to convey a political message that she wouldn’t have been able to convey as a man.” 

Hy dink ook nie dat die meeste mense noodwendig vir Evita as ’n drag queen sien nie, hulle sien haar eerder as ’n karakter soortgelyk aan Dowwe Dolla of Casper de Vries.  

En sy boodskap aan ander? 

“Ek dink oor die algemeen moet daar ’n kultuur wees to push yourself, do better things, do other things, explore more. Moenie net complacent wees met jou average day job in ’n kleindorpie waaruit jy nooit kan uitkom nie. Ek kom uit ’n kleindorpie uit en kyk waar is ek.”

Ek kom uit ’n kleindorpie uit en kyk waar is ek.
— Edó Mostert
Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Edó: Werkit boetie, werkit gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand