Headbang- en moshpit-vriendelik: VOLK se Afrikaanse treffers van 'n ander aard

Headbang- en moshpit-vriendelik: VOLK se Afrikaanse treffers van 'n ander aard

VOLK is Frank Freeman, Dillon Myburgh en Mika Burger . Bandfoto’s: Nardus Engelbrecht

VOLK speel live by Surfa Rosa (en verkondig Die Woord van Alternatiewe Afrikanerskap in Kaapstad)

Surfa Rosa is lank reeds bekend as dié samekomsplek vir Kaapstad se alt kids. Geleë in Harringtonstraat, in ’n shady-ish, stiller gedeelte van die stad, so ’n kilometer van bustling en hashtag-trendy Breëstraat af, dien dié dive bar as die Mekka vir diegene wat hou van hardehout en harde musiek, gewoonlik van die psych-rock/punk/new wave aard. Dis nie ’n groot plek nie; die smal area tussen die kroeg en die booth seating dien as dansvloer en die nóg smaller stegie regs van die kroeg dien as afkoel- en vergaderplek vir rokers en kakpraters.

Op ’n soel somersaand in vroeg-Maart vanjaar word die swaardviskop, Tiki-masker en disco ball wat oor die dansvloer van Surfa Rosa waghou (if you know, you know), getuienis van niks minder as ’n wonderwerk nie: Op dié aand, in dié intieme, sweterige ruimte, laat die three-piece band VOLK los met ’n ge-punk en ’n ge-rock ’n roll in Afrikaans – ’n gebeurtenis wat in die Kaap só skaars is dat dié gig werklik as ’n wonderwerk beskou kan word. “It’s not often that an Afrikaans band braves the Cape Town scene, but an increased popularity of the consumption of brandy & coke in the CBD area has proved that the market is ripe and ready for new wave Afrikaans music,” lui die persverklaring vir die show op Surfa Rosa se Instagram-blad. “My hart is ’n trein wat loop op brannewyn,” sing Frank Freeman (stigter en frontman) immers op die derde enkelsnit op VOLK se debuut-EP, wat met dié besonderse geleentheid in Surfa Rosa release word.

VOLK live in Kaapstad by Surfa Rosa. Foto’s deur Jurie “VETMAN” Neethling.

VOLK is die brain-child van sessiemusikant en Bloemfontein-boorling Frank Freeman. Freeman, VOLK se frontman en songwriter, is ’n gesoute (en gesogte) guitarspeler wat saam met die land se bekendste kunstenaars record en toer. Hy deel die verhoog en recording studio met groot name soos Arno Carstens, Francois van Coke, Zolani Mahola, Ard Matthews en aKING, en hy speel in verskeie TV-produksies en teaterwerke (onder andere saam met legendes soos Amanda Strydom). Hy het verlede jaar saam met Neil Sandilands die pad deur die land gevat op Sandilands se “Kaap tot Mpumalanga”-toer, en tree weer in Mei saam met Sandilands in Jeffreysbaai op. En dis hý wat destyds, in 2019, Eet Kreef Herleef! op die been gebring het en saam met Laudo Liebenberg, Sheldon Yoko, Schalk van der Merwe en Mikhaela Kruger nuwe lewe in die legendariese Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band se ikoniese album Eet Kreef! ingeblaas het. (Ek het vir die eerste keer Freeman sien optree by die opvoering van Eet Kreef Herleef! by Woordfees 2020. Die experience kan ek maklik in drie woorde opsom: Holy. Fucking. Shit.)

Ná die sukses van Eet Kreef Herleef! het VOLK ontstaan vanweë Freeman se begeerte om nuwe Afrikaanse musiek te skep wat hy self wens bestaan het. (Ongeag sy Engelse naam, is Freeman nie ’n soutie nie.) En met ’n repertoire en skills soos syne, wie anders is meer geskik om dít te skep? I’ll tell you who: Frank. Fokken. Freeman. Gooi Dillon Myburgh op tromme en Mika Burger op bass om dié vision te realiseer, en dis ’n perfekte resep vir presies dít – musiek wat nie klink soos enige ander Afrikaanse musiek wat al bestaan nie. Of soos Freeman dit aan die gehoor in Surfa Rosa stel: “Afrikaanse treffers van ’n ander aard.”

In die volgepakte ruimte van Surfa Rosa se dansvloer kry die gehoor ’n eerstehandse ervaring van wat dít behels: ’n rof-en-onbeskofte mengelmoes van psych-rock, punk en good ol’ rock ’n roll, headbang- en moshpit-vriendelik. Met songs wat tematiek rakende Afrikaanswees en Afrikaneridentiteit en -kultuur aanraak, is dit quintessential Alternatief Afrikaans, maar dis beslis nié Fokofpolisiekar nie (en ek bedoel dit as ’n kompliment); dis eerder hoogs oorspronklik, vars en nuut. ‘Bons’ is ’n manifesto van die moderne Alternatiewe Afrikaner: “Ek lyk kak in ’n khaki-hemp,” sing Freeman voordat hy (in Engels, sodat almal kan verstaan) ’n baie amusing storie vertel van Os du Randt wat hom byna in ’n bar in Bloemfontein wou moer omdat sy hare lank is, totdat Os hoor hy kom van die Kaap af. (Freeman woon al jare lank in Kaapstad.)

Kunswerke vir VOLK se enkelsnitte deur Regardt Visser.

Maar wat ek die meeste waardeer van VOLK se musiek is dat dit ook temas buiten die lot van die Alternatiewe Afrikaner aanraak: ‘Tussen die lyne’ is ’n modern love song met beautiful lirieke (’n YouTube comment beskryf dit as: “How I imagine The War on Drugs would sound if they were South African”); ‘Heroine’ is ’n new wavey song oor lust; ‘Baby Fourie’ is ’n song oor ’n modern woman wat “[regs] swipe vir haar casual seks”; en ‘Twak in die sak’ is ’n lekker punk-nommer reminiscent van The Ramones. ‘My hart is ’n trein’ se bassline en catchy koor maak dit net ’n lekker fokken (harde) song. Ander songs, soos ‘Ritmeboer’, is vaagweg evokatief van die tipe beelde wat in old school-Voëlvry gehoor word – dink Kerkorrel-en-kie-meets-psychedelic-rock. Kortom: Dis fokken cool musiek wat happen om Afrikaanse lirieke te hê. En dis moeilik om nie op die aansteeklike ritmes en lekker basslines te wil headbang of dans van pure genot nie. Soos Freeman aan die Ingelsmanne in die gehoor sê: “Jy hoef nie te verstaan nie; niemand luister by ’n gig na die lyrics nie. Dis vir ná die tyd.”

Soos destyds met Eet Kreef Herleef! se opvoering in 2020 was ek blown away met die tegniese vaardigheid, afgerondheid en kwaliteit van VOLK se performance. Myburgh slat daai tromme dat dit maklik lyk (dis beslis nie), Burger se basslines is sauve AF en Freeman se guitar face moet obviously ’n doel dien, want jissus, daai man kan ’n guitar speel dat die sweet letterlik drup. “God sit in Frank Freeman se vingers,” kom die gedagte by my op terwyl ek tussendeur kopskud en lyfskud gawk.

Ná die show gesels ons vinnig met Freeman. “Mens moet Afrikaans so cool maak dat Engelse mense ook kom,” sê hy vir ons. My gevoel is weer dat Afrikaans nie as sinoniem vir konserwatief, kak musiek of sokkie gebruik moet word nie — an uphill battle, maar iets wat VOLK wel beslis daardie aand in Maart bewys het moontlik is. Selfs in ’n dive bar in die Kaap kan rock ’n roll en punk verhef word tot Die Woord van Alternatiewe Afrikanerskap For All. A-fokken-men.


VOLK toer in Mei in die noorde! Vang hulle 23 tot 25 Mei in Pretoria en Potch. Venues en line-ups word binnekort aangekondig. Hou VOLK se Instagram-blad dop vir details.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Headbang- en moshpit-vriendelik: VOLK se Afrikaanse treffers van 'n ander aard gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand