Klyntji

Stylgids

Klyntji se stylgids word deurlopend bygewerk en aangepas.


Koppe

In koppe word daar gebruik gemaak van enkel, reguit afkappingstekens “ ' ” in plaas van aanhalingstekens. 

Geen skuinsdruk word in koppe gebruik nie. Slegs hoofletters word gebruik om byvoorbeeld die titel van ’n film, album, bundel ensovoorts aan te dui.

Geen leestekens word aan die einde van ’n kop geplaas nie. Dit sluit byvoorbeeld dubbelpunte of vraagtekens in.

Alle getalle word in nommers geskryf.


Inhoud

Publikasie- (ook internetpublikasie-), album-, film- en toneelstuktitels word in skuinsdruk geskryf en word gevolg met die jaartal van verskyning (sowel as die uitgewer/platemaatskappy/produksiehuis indien so verlang), byvoorbeeld “Antjie Krog se Country of my skull (1998, Penguin Random House)”.

Kunswerke en foto’s se titels word in skuinsdruk geskryf, en word opgevolg met die jaartal, as voorbeeld “Judith Mason se The Man Who Sang and the Woman Who Kept Silent (1999)” – die dimensies en medium word nie in die teks gemeld nie.

Kunsuitstalling- en fotoreekstitels word slegs met hoofletters aangedui.

Podsendingtitels word in skuinsdruk geskryf.

Liedjiename en die titels van gedigte, kortverhale en strokiesprente word in enkelaanhalingstekens geskryf.

Artikeltitels, essay-titels, hoofstuktitels, asook die titels van aanbiedinge, lesings en referate word slegs met hoofletters aangedui en nie met aanhalingstekens nie.

Televisiekanaalname word nie in skuinsdruk geskryf nie, televisie- en radioprogramme wel.

Televisiereekse se titels word in skuinsdruk geskryf, opgevolg met die jaartal waarin die reeks (of die eerste episode) vir die eerste keer vrygestel is in hakies, byvoorbeeld “Emily in Paris (2020)”. Episodetitels word slegs met hoofletters aangedui.

Wetgewingname word in skuinsdruk geplaas.

YouTube channels en -videos se titels word slegs met hoofletters aangedui.

Studierigtings en die titels van modules/vakke en departemente/fakulteite word met kleinletters geskryf (behalwe vir tale), byvoorbeeld visuele kunste, sielkunde, fisiese wetenskappe. MAAR: Afrikaans, Latyn, Grieks, ens.

Algemene plant- en diername word met kleinletters geskryf, byvoorbeeld wilde dagga/kankerbos.

Wetenskaplike benamings vir diere en plante word in skuinsdruk geskryf en die eerste letter moet ’n hoofletter wees, byvoorbeeld Boophone disticha.

Geen punte word tussen die voorletters van ’n naam geplaas nie, byvoorbeeld ID du Plessis, DJ Opperman.

Die afkortings vir aanspreekvorme word met kleinletters geskryf (tensy dit aan die begin van ’n sin staan) en sonder ’n punt aan die einde, byvoorbeeld dr, mnr, mev, prof. (Dit geld ook vir die Engelse ekwivalente.)

Engelse woorde word nie in skuinsdruk geskryf nie.

Alhoewel Engelse woorde en algemene spreektaal welkom is, word Standaardafrikaanse grammatika deurgans (sover moontlik) toegepas vir konsekwentheid. Samestellings wat gedeeltelik bestaan uit ’n Afrikaanse woord en ’n Engelse woord, word verbind met ’n koppelteken of word vas geskryf, byvoorbeeld “uitge-pass” of “uitgepass” as nuutskepping vir “passed out”. Gemengde taal-samestellings met die Afrikaanse voorvoegsel “ge-” word altyd met ’n koppelteken aangedui, byvoorbeeld “ge-grapple”.

Nommers een tot nege word uitgeskryf, vanaf 10 in nommers.

Duisende word aangedui met ’n komma en nie met ’n spasie nie, byvoorbeeld “500,000”, nie “500 000” of “500000” nie.

Bladsynommers word met die afkorting “bl.” aangedui, met geen spasie tussen die afkorting en die nommer nie, en tussen hakies geplaas, byvoorbeeld “(bl.13)”.

Woorde wat afgelei is van eiename word met kleinletters geskryf, byvoorbeeld “Surrealisme” teenoor “surrealisties”; “Christus” teenoor “christen”; “Bybel” teenoor “bybelse”.

Publikasietitels of ander eiename wat deur die uitgewer (of die betrokke party) met ’n kleinletter geskryf word, word ook so op Klyntji geskryf, byvoorbeeld “bidorbuy”, “kykNET”, “adrienne maree brown”.

Die simbole vir maat- en geldeenhede word direk voor/ná syfers geplaas, byvoorbeeld R20, nie R 20 nie; en 4cm, nie 4 cm nie.

Sentimentaliteit en clichés moet liefs vermy word. Ook so met oordrewe stellings oor Afrikaans.

Pull-out quotes word ná die paragraaf waar die teks oorspronklik verskyn, geplaas.

Die Britse spelling vir Engelse woorde word verkies bo die Amerikaanse spelling, byvoorbeeld “recognise” in plaas van “recognize”; “centre” in plaas van “center”; “favourite” in plaas van “favorite”.

Inteksverwysings word aangedui met die jaartal en titel van die teks waarna daar verwys word, byvoorbeeld “William Seitz verwys in sy boek The art of assemblage (1961) na…” Sekondêre inteksverwysings lyk soos volg: “William Seitz (in Dezeuze, 2008) verwys na…”

Indien die inteksverwysing aan die einde van ’n sin geplaas word, word daar ’n punt ná die volledige inteksverwysing aangebring.

Selfnoemfunksie: Wanneer ’n woord na homself verwys, word dit in skuinsdruk geskryf, byvoorbeeld “ons lag oor hoe blokkerig die woord abstraksie is”.


Onderskrifte en sosiale media

Kunswerke word so volledig moontlik beskryf (sover as wat die inligting geredelik beskikbaar is) in die volgende volgorde: Kunstenaar naam en van, kunswerk-titel, (datum). medium, grootte in cm. Indien al die kunswerke in die storie van dieselfde kunstenaar is, hoef die kunstenaar nie gemeld te word nie.

Punte word slegs na onderskrifte ingesluit ná ’n volledige sin, indien minder as ’n volledige sin gebruik word, word die punt uitgelaat.

In sosiale media-plasings word titels van boeke, albums, films, ensovoorts tussen enkelaanhalingstekens geskryf.


A

Afrikase – in verwysing na die kontinent van Afrika (aangesien “Afrikaanse” ’n ander betekenis het)

A.k.a. of a.k.a. (afkorting vir “also known as”, let op die punt ná elke letter)

(Die) Ander (sonder aanhalingstekens, word slegs met ’n hoofletter -A aangedui)

apartheid, ook post-apartheid en (post-)apartheid-Suid-Afrika of enige ander verbinding met “apartheid” (let op die kleinletters)

B

band (nie orkesgroep nie)

boeddhis, boeddhisme

Bruin – met verwysing na ’n persoon of groepsbeskrywing (of “Coloured, sien “Swart”)

byvoorbeeld (uitgeskryf in plaas van die afkorting “bv.”)

(Die) Bybel (skuinsdruk soos alle publikasietitels)

C

calvinis, calvinisme

Coloured – met verwysing na ’n persoon of groepsbeskrywing (of “Bruin”, sien “Swart”)

China (nie Sjina nie)

christen, christelike, christendom (afleiding van die oorspronklike stam met kleinletter – “net Christus met ’n hoofletter want dis die actual dude se naam”)

D

daoïs, daoïsme

deur (nie “deur om” nie; byvoorbeeld: “Hierdie probleem kan bekamp word deur die toepassing van sekere reëls”)

deurbring (jy bring tyd deur saam met iemand; jy “spandeer” nie tyd nie)

dokkie (aanvaarde afkorting vir “dokumentêre reeks/film”.)

Distrik Ses (eerder as District Six of Distrik 6)

E

End Conscription Campaign (ECC)

F

feminiteit/feminien ( as vertaling vir “femininity”/“feminine” in plaas van “vroulik”; verwysend na sogenaamde vroulike eienskappe met die idee dat enigeen daaroor beskik ongeag geslag)

G

ge- (in die verledetydvorm kry woorde wat begin met be-; ge-; her-; er-; ont-; en ver- nie ge- vooraan nie, byvoorbeeld: “Sy het my herken”, nie “sy het my geherken” nie)

(is) gebore (nie was gebore nie)

geslagsbevestigingoperasie (as vertaling vir “gender confirmation surgery”, nie “sex change” of “geslagsverandering” nie)

“Google” as eienaam word met ’n hoofletter geskryf; “google” as werkwoord word met ’n kleinletter geskryf (dieselfde geld vir byvoorbeeld Instagram vs instagram/TikTok vs tiktok)

gunsteling (verbindings met “gunsteling” word altyd vas geskryf, byvoorbeeld “gunstelingboek”)

H

“hierdie” moet opgevolg word met die selfstandige naamwoord waarna daar verwys word (NIE “ons gebruik hierdie om mee te verf” NIE; eerder “ons gebruik hierdie stof om mee te verf”)

HJ (“Huidige Jaartelling” in plaas van “nC” of “na Christus”)

huidiglik (word in aanhalings aanvaar weens grootskaalse gebruik, andersins “tans”)

hip-hop (nie hip hop, Hip Hop of HipHop nie)

I

Die werkwoord “is” is in die meeste verlede tyd-sinne toepaslik; “was” word bloot gebruik wanneer die toestand nie meer voortduur nie (byvoorbeeld: “Die gehoor is vooraf gewaarsku”; en “ek is gebore,” teenoor “dit was ’n skouspelagtige event”)

J

K

Khoikhoi, meervoudvorm Khoikhoin (nie Khoisan nie, tensy dit ’n direkte aanhaling is of as daar na beide groepe verwys word)

Klyntji (op Klyntji word “Klyntji” nie in skuisdruk geplaas nie)

kortbundel (as vertaling vir “chapbook” met verwysing na poësie en/of kortverhale)

L

luiters/doodluiters (as vertaling vir “easy-going/mellow/chilled”)

M

maskuliniteit/maskulien (as vertaling vir “masculinity”/“masculine”, nie “manlik(-heid)” nie; verwysend na sogenaamde manlike eienskappe met die idee dat enigeen daaroor beskik ongeag geslag)

meelewend/medelye/medelyend (as vertaling vir “compassionate”)

moontlik (so lank/ver moontlik, nie “so lank/ver as moontlik” nie)

N

O

old-skool

outobiografies/e en oudiovisueel (nie “autobiografies/e” of “audiovisueel” nie)

P

persoon van kleur (PVK)

podsending (nie potgooi nie, dit klink soos opgooi)

Q

R

redakteur-at-large (bydraende redakteur word ook aanvaar)

reuse (verbindings met “reuse” word altyd vas geskryf, byvoorbeeld “reusekrag”)

rock ’n roll

ruimte (as vertaling vir “space”, nie “spasie” nie)

S

San (nie Khoi-San nie, tensy dit ’n direkte aanhaling is)

selfdood (nie “selfmoord” nie)

Swart – met verwysing na ’n persoon of groepsbeskrywing (Klyntji skryf verwysings na alle rasgroepe met hoofletters in erkenning van historiese en hedendaagse ongeregtighede, sowel as van die kunsmatigheid van ras. Vir meer inligting kyk hier)

T

transgender persoon/mens(e) MAAR transgenderregte (in eersgenoemde voorbeeld dien “transgender” as byvoeglike naamwoord om die persoon te beskryf; in laasgenoemde tree “transgender” as selfstandige naamwoord op)

U

V

VHJ (“Voor Huidige Jaartelling” in plaas van “vC” of “voor Christus”)

“vs.” (afkorting vir versus, let op die punt aan die einde van die afkorting)

vulva (in plaas van “vagina” in die meeste gevalle, waar verwys word na die vroulike geslagsorgaan in haar geheel)

W

“wie” word altyd saam met “se” of “van” gebruik met verwysing na menslike antesedente, anders is “wat” toepaslik (byvoorbeeld “die man wie se baadjie dit is” of “die ou van wie jy praat,” teenoor “die man wat sy baadjie verloor het”)

Wit (met verwysing na ’n persoon of groepsbeskrywing; sien “Swart”)

X

Y

Z