Mila Guy oor uithou en selfvertroue in die vermaakbedryf

Mila Guy oor uithou en selfvertroue in die vermaakbedryf
Mila Guy Klyntji Taalgenoot.jpg

Klyntji x Taalgenoot

In die Somer 2018-uitgawe van Taalgenoot praat Mila Guy oor die pad wat sy moes loop om vandag gereeld op televisie en in verskeie films gesien te word. Die foto's is tematies amper soos iets uit Alice in Wonderland; terwyl 'n poppeland uitgebeeld word, word dit egter duidelik gemaak dat hierdie akteur "g'n poppie" is nie. In die voorbladstorie praat sy oor die aanvanklike uitdagende pad om by erkenning en sukses uit te kom: "Ek het gesien 'n mens kan nie net iets verwag nie – jy moet hard werk daarvoor en selfs dán is daar geluk betrokke. Rolverdeling het my gewys selfs die beste akteur kry nie die werk as sy of haar energie nie by die projek pas nie. Jy kan net jouself wees, hard werk, soveel moontlik doen om raakgesien te word, en dan vertrou wat sal gebeur, sal gebeur," vertel sy.

Mila vertel dat 'n traumatiese en geweldadige aanval veroorsaak het dat sy en haar gesin Nieu-Seeland toe getrek het, maar dat sy nooit laat gaan het van Suid-Afrika as haar tuisland nie. Alhoewel sy graag deel wil wees van ander lande se meer diverse film- en televisiebedrywe, sal sy altyd terugkom Suid-Afrika toe. "Dis vir my vreeslik dat ons mekaar nóú nog nie net kan aanvaar nie. Iets soos Swart Maandag [toe daar teen plaasmoorde betoog is] het 'n baie goeie doel gehad, maar dan moes een ou dit gaan bederf deur die ou landsvlag te waai. Hoekom? Dit vat net een mens om al die ander af te trek. En ek dink die meeste Afrikaners raak nou moeg daarvoor en is gefrustreerd. Ja, ons geskiedenis is lelik, en ons is jammer, maar dis nie meer wie ons is nie. Nie almal nie."

Sy vertel dat dit belangrik is om 'n breë wêrelduitkyk te hê om sodoende 'n wyer denkwyse te ontwikkel wat jou ontvankliker en verdraagsamer maak, veral in 'n multikulturele land soos Suid-Afrika. Sy spreek haarself uit teen die moderne "ek, ek, ek" kultuur van sosiale media en hoe daar op hierdie platforms sonder skroom negatiwiteit en neerhalendheid gebruik word om ander sleg te sê. Om hierdie rede vind sy die Liefde Wen beweging, begin deur Bouwer Bosch, 'n welkome vars asem: "Dit gaan oor balans. Liefde Wen is verfrissend tussen die aanhoudende mededinging en geboeliery deur. Dis ook 'n klomp millennials, maar dis die teenpool van die selfsug wat jy andersins daar [in die sosiale media] sien. Dis die soort mense wat mekaar die ruimte gee om hulself te wees, hul sê te sê, maar ook mekaar wil help, steun en werklik omgee. En dís wie Afrikaners eintlik is." Lees die volle storie hier.

Mila Guy Taalgenoot Klyntji.jpg
Mila Guy poppekas.jpg
mila guy.jpg

Oorspronklike storie geskryf deur Delia du Toit, met foto's deur André Badenhorst (Black Frame Photography). Stilering: Maritsa Baartmann. Grimering: Gerlia Muller. Produksie-assistent: Rudi Kindler

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Mila Guy oor uithou en selfvertroue in die vermaakbedryf gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand