Koos Kombuis: monumente vir Breyten en kie
In die Breytenbach-sentrum se Digterstuin / Foto: Koos Kombuis

In die Breytenbach-sentrum se Digterstuin / Foto: Koos Kombuis

'Hierdie plek is die naaste waaraan ons uitgewekenes ooit aan 'n monument sal kom'

My kop is vol monumente. Ek weet nie waarheen om hulle te skuif nie.

Vir sewe maande lank was ek feitlik alleen. Vir sewe maande lank was ons almal feitlik alleen. Ons het onsself verbeel dat ons tussen ander mense is, maar ons was nie. Ons sosiale persoonlikhede het verander van mense van vlees en bloed na internet-konstrukises.

Ons het ’n volk van dwalende geeste geword. Ons het besef hoe eensaam en hoe arm ons is. Hoe eensaam en hoe arm ons nou al sedert 1948 is.

Die grendeltyd het ons nie van nuuts af ingeperk nie. Die grendeltyd het ons laat besef hoe geïsoleerd ons nog altyd was, hoe ons toegelaat het dat ons harte ingekerker word in tronke van ideologie.

Wanneer laas was Afrikaners werklik plesierig? Voor ons die kolossale struktuur buite Pretoria opgerig het, die reusagtige kubus waarheen ons, ons siele gestuur het vir bewaring terwyl die FAK-liedere al holler om ons ge-eggo het en die danspassies verstar het tot manneristiese katatonie?  

Hoe lank nog gaan ons volk ons identiteit vasknoop aan dooie monoliete van klip, marmer en staal? 

Die Stijdom-koepel, daardie bastion van gemengde kitsch, het genadiglik self gekraak en vrywillig vergaan. Die ander staan nog hardkoppig daar, kry warm in die son, en basuin in stilswye hulle boodskap uit van ’n vergete era van Afrikaner-baasskap.

Ons leef nou in die Post-Standbeeld-Era. Van die onlangse helde het niemand standbeelde opgerig nie. Daar is, sover my kennis strek, nie standbeelde van Johannes Kerkorrel, Mannetjies Roux, Pieter-Dirk Uys, Zola Budd, Karen Zoid, Refentse, Francois van Coke, of Churchil Naudé nie. 

Vele van die ou helde en gode en legendes van die volk het verdien om geëer en onthou te word. Ten spyte van hulle menslike tekortkominge – en dis nie asof die meer resente alternatiewe helde nie hulle eie menslike tekortkominge het nie – was manne soos Paul Kruger en Jan Smuts sonder twyfel groot geeste, reuse op die skouers van reuse op die skouers van reuse.  

Ons lewe in ’n donker tyd, sê Steve en sy maters wat deur hulle musiek en grendel-optredes, lewe in die ou monumente probeer blaas het.

Werk mond-tot-mond-asemhaling op graniet?

En ons, die sogenaamde alternatiewes, is ons nie net so verstar in ons denke en versugtinge nie? 

Ons sê ons het nie standbeelde nodig nie, maar ons het ons rolmodelle. Ja, net soos Steve-hulle, aanbid ons hulle; net so desperaat soos die regses, kniel ons aan die voete van dooies en gryses.

Ons helde leef in ons harte, nie in monumente nie. Maar vir so lank as wat ons smag na helde en leiers, lewend of dood, om vir ons van antwoorde te voorsien, is ons net so diep in die kak. Ons dra dalk helder T-shirts in plaas van khaki, maar ons is almal ewe ideologies gestrem. 

Daar is weliswaar ook nooit ’n standbeeld opgerig vir die vader van Afrikaner-protes Breyten Breytenbach nie. En dis dalk ’n goeie ding.

Daar is weliswaar ook nooit ’n standbeeld opgerig vir die vader van Afrikaner-protes Breyten Breytenbach nie. En dis dalk ’n goeie ding.
— Koos Kombuis

Daar is darem een plekkie op die tyd-ruimtelike aarde waar die naamlose man met die groen trui vir altyd sal voortleef. Heel gepas in Wellington, sy tuisdorp. Nie eintlik ’n monument nie, eerder ’n collage van saamgeflanste goeters. Amper soos Joe’s Beerhouse in Windhoek. 

Al wat die Breytenbach-sentrum se Digterstuin kort is ’n ry toilet-sitplekke, dan was dit ’n statement.

Maar dalk moet dit juis nie ’n statement wees nie. 

Ek was die afgelope naweek daar. Ja, ek het ’n naweek in Wellington spandeer. Ek het twee aande in ’n ry gesing in daai pragtige teatertjie met die oulike naam, Die Bôrdienghuis. (Die plek is nou moerse smaakvol oorgedoen deur Banna Spammer en Alma Nel, gaan loer gerus in as julle ooit die dorp besoek.) Dit was vir my ’n gepaste plek om my sewe maande van konsert-stilte te verbreek.

Sewe maande van grendeltyd. Die sewe maer maande van isolasie en emosionele verkalking.

Ek wou vir die eerste keer in sewe maande uitreik na ander, maar ek was bang om te “relate” met regte mense van vlees en bloed.

Die aand voor die eerste vertoning het ek in die backstage-kamertjie gesit en so op my eie die stilstuipe gekry.

My kop was vol vrae. Is dit nou regtig die einde? Van die pandemie? Van al die oordonderende idiotiese ideologieë van die laaste klomp dekades?

Toe, uit die bloute, gebeur iets wat ek glad nie verwag het nie.

’n Hond het ingestap by die deur. 

So ’n groterige, maer, swart-bruin affêre wat gelyk het of hy sopas uit die SPCA ontsnap het. 

Ek was onseker oor wat om te doen.   

Ek sou later uitvind dat dit ’n dame-hond is, dat haar naam “Gracie” is, en dat sy blykbaar tydens die grendeltyd, toe daar min of geen vertonings in die teater was nie, haarself gereeld tuisgemaak het op die rusbank van die backstage-area.

Ek moes opstaan om vir haar plek te maak, en het plaasgeneem op ’n stoel langs die bank.

Ek het begin gesels met die hond. Daar was baie dinge wat ek wou weet.

Hoekom is ons vir sewentig jaar lank onderdruk? wou ek weet. Eers deur die Nasionaliste, toe deur die Zuma’s?

Is dit die einde van sewe maande van eensaamheid?

Is dit die einde van sewentig jaar van foltering deur arrogante regimes?

Dit sou ’n gesprek word wat die hele naweek geduur het.

Ja, so ongewoond was ek aan menslike interaksie dat ek voor elke show backstage gesit en gesels het met ’n hond met die naam Gracie.

Gracie, wat in sewe maande nie kunstenaars se teenwoordigheid beleef het in haar backstage-area nie, was duidelik nie seker hoe om op te tree teenoor my nie. Selfs wanneer ek haar probeer streel het, het sy nie eintlik emosie getoon nie. Dit was asof sy wou wegsink in die agtergrond, asof sy nie wou hê iemand moet eintlik van haar notisie neem nie.

Agter die Bôrdienghuis-teater se verhoog by die Breytenbach-sentrum / Foto: Willem Mulder

Agter die Bôrdienghuis-teater se verhoog by die Breytenbach-sentrum / Foto: Willem Mulder

Mens kan nie die hond mooi op hierdie foto sien nie. Ek het in elk geval die indruk gekry sy wou nie graag afgeneem word nie. En daar was sekere onderwerpe waaroor sy volstrek geweier het om te praat. Toe ek haar eindelik vra, moedeloos met haar moedswillige stilswye: “Gracie, tussen jou en my, wat dink jy van Afrikaanse musiek?” het sy net haar kop onder die kussing ingedruk en botweg geweier om enigiets te sê.

Die hond, Gracie / Foto: Koos Kombuis

Die hond, Gracie / Foto: Koos Kombuis

Gracie het ’n fok omgegee vir die issues waarmee ek worstel, dit was so duidelik soos daglig.

Toe ek nie hond haaraf kon maak met my eerste groupie in sewe maande nie, het ek opgestaan en ’n draai deur die beroemde Tuin van Digters gaan stap.

Dit was skemeraand. Oor die heinings kon ek die heerlike aksente hoor van dosyne Wellingtôners wat verby-stap en skerts. Die ergste koue byt was uit die lug. ’n Nuwe somer was op pad.

Ek het skielik onverwags tuis gevoel tussen die driedimensionele voorwerpe, die talle gedigte wat uitgestal is tussen die plante, en die droë fonteintjies en handgeskilderde klippe.

Orals in die tuin kon ek die gevleuelde woorde lees van digters wat al verbygegaan het, pyn-gedagtes en jubelverse van vroeëre geslagte; herinneringe uit die dageraad van Afrikaans.

Ek het meteens besef dat daar twee groepe helde in ons gedeelde – of verdeelde – verlede was. Aan die een kant was daar die De la Reys en die De Wets – generaals uit die Boere-oorlog – en naasaan hulle was daar die heldinne, vroue van durf en daad. Olga Kirsch. Klara Majola. Racheltjie de Beer. Soos die son sak, het ek gesukkel om details uit te maak, en kon ek nie meer geskiedenis en mite van mekaar onderskei nie.

Ek het gedink aan ’n derde soort held. En ek het besef dat hierdie tuin eintlik ’n monument is vir hulle.

Die waansinniges, die verlooptes, die alternatiewes, die verdwaalde kindertjies van die spesiale klas. 

Die seuns wat nie saam met die kadette wou marsjeer nie. 

Ingrid Jonker wat blindelings die see ingestap het. 

Al die wanaangepastes van ’n waansinnige eeu toe ons volksvaders tydelik die kluts kwytgeraak het. Die geweldige misverstande tussen spilse genialiteit en konserwatiewe geloof. 

Ek het voor my geestesoog die gesigte gesien van al die jong Afrikaanse akteurs en aktrises van vergange se dae, wie se ouers desperaat vir hulle kinders se siele gebid het toe die eerste plattelandse drama-toere hulle semi-dekadente slakkegang tussen dorpe met spits kerktorings gebaan het. 

Ek het gedink aan al die joiners, die verraaiers, die hensoppers, die andersdenkendes, die gemartelde siele wat nooit, nooit as te nimmer, kon tuis voel in die smal weg van die Calvinisme nie, wat die breë paaie van die wêreld gaan opsoek het, waar hulle die een na die ander hulleself uitgewis het met alkohol, dwelmmiddels, selfdood, arrestasie, obsessies en wanhoop.

Die twintigste eeu was ’n eeu vir doeners en daders, nie vir dromers nie.

Korreksie: die twintigste eeu was ’n eeu vir dromers van die idealistiese soort, nie vir siniese harte wat alles bevraagteken, alles ontken, alle waardes wou sloop om te herondersoek, alle oorgelewerde wysheid satiriseer en bevraagteken nie.

’n Druppel gal in die soetste wyn. 

’n Swart skaap in elke gesin.

’n Druppel gal in die soetste wyn. 

’n Swart skaap in elke gesin.
— Koos Kombuis

Terwyl ek daar in die Tuin van Digters buite die Bôrdienghuis-teater op ’n bankie gesit het, het ek besef: ja, ek is after all tog ook deel van ’n tradisie.

Hierdie tuin is my tradisie. 

En hierdie plek is die naaste waaraan ons uitgewekenes ooit aan ’n monument sal kom.

O, dis baie meer verganklik as die strukture wat gebou is om te hou. Die Voortrekkermonument sal vir ewig bestaan, want dis godsonmoontlik om hom te skuif. Maar met verloop van jare sal hierdie tuin oorgroei word, of die erf sal ontwikkel word vir woonstelle of ’n mall. Soos die oorgroeide paadjies en naamborde van OppiKoppi, sal ook die Breytenbach-sentrum dalk eendag vergete en verlate daar uitsien, en dan was al ons strewes en ons stuipe dalk verniet.

Maar ek kan nie anders nie.

En as ek my lewe binne Afrikanerdom sou oorhê, sou ek elke keer presies dieselfde aweregse keuses maak, deur dieselfde tuinhekkie ontsnap na die buitekant van die laer, om dieselfde duistere hole in dieselfde vreemde stede te gaan opsoek, dieselfde rymlose poetry skryf by dieselfde halfgebrande kerse in dieselfde buitekamers, ver van huis en haard en erfporsies en prysuitdelings en al die mense wat vrome offerandes bring by die vele altare van middelmatigheid en meerderwaardige misnoë.  

Ná my aandmeditasie het ek teruggekeer na Gracie toe, backstage. Sy was bly om my te sien.

Daar was, benewens die hond, ook ander lewende siele.

Die teater was vol mense wat wag om die konsert te sien. Ek het talle ou vriende herken wat ek al byna vergeet het.

In die gehoor het ek bekendes gesien, mense van my kerk. Dana was daar, en die lede van die popgroep Orwellington, en die meisie saam met wie ek jare gelede op daai road trip Port St Johns toe gegaan het, en geliefdes en kennisse wat ek admireer en verstaan al wil ek hulle nie elke dag sien of ’n huis met hulle deel nie, want die meeste van hulle is net kort duskant stapelgek.

Op die verhoog van die Bôrdienghuis-teater / Foto: Willem Mulder

Op die verhoog van die Bôrdienghuis-teater / Foto: Willem Mulder

Ek het gesing. Deon Meiring het my gejoin op die verhoog om sy goue stem te voeg by ’n roerende duet-weergawe van ‘Bicycle Sonder ’n Slot’.

En ons het gelag en gesels en pizzas geëet uit die Bôrdienghuis se pizza-oond en vir een naweek lank het ons, ons eie Nagmaal op die dorp gevier, en mekaar gekoester en aan die hart gedruk.

En toe ek Sondagoggend huis toe ry deur die hoofstraat van die Paarl – koes, koes onder die lang skaduwee van die Taalmonument verby – het ek geweet: dit was my mense dié. Dit is die volk wat Hermann Gilliomee nooit sal noem wanneer hy ’n boek oor Afrikaners skryf nie.

En ons is nie beter of ouliker as die res nie. Baie van ons het voete van klei.

Maar ons leef nog. En ons maak nog steeds ’n geraas. 

En al het ons nie werklike monumente soos die res nie, sal niemand ons ooit kan stilkry nie. 


Koos Kombuis is Klyntji.com se ere-redakteur.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Koos Kombuis: monumente vir Breyten en kie gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand