Ons is nie almal so nie deur Jeanne Goosen, 'n uittreksel

Ons is nie almal so nie deur Jeanne Goosen, 'n uittreksel
Illustrasie: Manuela Ladu

Illustrasie: Manuela Ladu

Oorspronklike illustrasie deur Manuela Ladu

Wat het ’n mooi Afrikanervrou in die 1950’s gedoen as die lewe begin druk? As haar man ’n verbitterde Ben Schoeman-man is wat moet aansukkel met ’n asmapompie en haar pa ’n kommunis en Katoliek agter elke bos raaksien? As die enigste afleiding die jaarlikse ATKV-konsert op Hartenbos is? Veral as haar doodgoeie bure skielik aangesê word om te trek omdat hulle bruin is? Sy bied vir hulle koek op vertrek aan en sê ons is nie almal so nie. Deur die oë van ’n kind vertel Jeanne Goosen hoe Doris van Greunen van dié wêreld probeer ontsnap: in die bioskoop, met haar Cavallas, met vriende soos Ant Mavis, Uncle Tank – en met Barnie, die swank. In Engels vertaal as We’re not all like that, deur André P. Brink. Die boek is ook in Nederlands en Frans vertaal. “What a funny, anger-provoking and poignant book,” sê Albie Sachs. Bekroon met die CNA-prys in 1990, die Rapport-prys in 1990 en die M-Net-prys in 1991. Die boek het oorspronklik in 1990 by Kwela verskyn en is meermalig herdruk.


Uittreksel

Een môre kry ek en my ma die trein in Kaap toe vir shopping. Ons het ons beste klere aan. Krismis lê om die draai. Die Spoorwegmense kry vroeg pay sodat hulle voor die tyd alles reg kan hê vir Krismis. Dis ’n duur storie, sê my ma, maar nou ja, wat kan jy doen? Jy betaal party jare tot drie maande na die tyd nog af aan al die goed wat jy moes koop om almal gelukkig te hou. Dis presente vir almal en dis ’n geëtery van die môre tot die aand. En vir elkeen wat inval, moet jy ’n drienk gee. Jy moet die huis decorate en daar is Krismis-crackers en dan is daar nog die tips vir die posjong en die vullisbak-boys en jy gee maar, want jy gun hulle ook ’n lekker Krismis. 

Elke jaar belowe sy haarself: dié gaan ’n stil Krismis wees, maar dit werk net nooit so uit nie. Eintlik moet ’n mens in die jaar geld wegsit vir Krismis, sê my ma, maar daar gebeur maar nou net altyd aanmekaar iets waarvoor jy jou beursie moet uithaal. 

Tussen Krismis en Nuwejaar is jy klaar broke. 

Boxing Day is dit Campers’ Paradise en dit kos haar tot laat in die aand om die koue vleis reg te kry en die beet te kook vir die slaai. 

Oujaar is dit die Outspan Hotel waar jy die Nuwejaar in dans en jou vriende wens en dit kos alles geld. Dit wil ’n mens ook nie mis nie, want jy weet nooit of julle die volgende Nuwejaar weer bymekaar sal wees nie. Jy kom wie weet watter tyd van die nag by die huis aan en nou ja, dan is dit die eerste Januarie, die huis is vuil en deurmekaar en daar is al weer ’n klomp mense en sy moet regstaan. Dié is ook net weg en daar moet reggemaak word om Seepunt-pawiljoen toe te gaan, want dis die Coons. En dié mis sy not a damn. 

Tussenin moet sy nog usher vir ’n midnight show en die Vader weet, as alles verby is, is sy die Here dankbaar bly. Hierdie jaar wil sy rus inkry. Ant Mavis kan maar vir haar sê sy moan, maar sy sit net terug soos ’n lady at large en Tank dra aan. Hy kook tot die kos. Sy sit nie eers haar eie batteries in vir haar bioscope torch nie. 

My pa is terug van stock en hy het dit net so lekker, sê my ma, want daardie klomp mans by die stoor hou nou al vir wie weet hoe lank elke dag party. Hy is in die aande ook net klaar geëet by die huis of ou Cottage Pie is hier om hom vinnig te kom haal vir ’n quick one by die Central Hotel. So gaan dit dagin en daguit, sy is gedaan en dit is nog nie eers Krismis nie. 

En hiérdie Krismis, sê my ma, gaan my pa saam met haar en my na my oupa toe of sy sleep hom. Dis ’n skande, dis nou hoeveel jaar al dat sy alleen daar by Oupa aankom, altyd met ’n ekskuus waarom my pa nie ook saamgekom het nie. 

“Hy praat mos nie met jou oupa nie,” sê sy. “Dis ’n disgrace. Oupa is oud en sieklik. ’n Christenmens is nie so nie. Netnou is jou oupa in sy graf en hoe lewe jou pa dán verder met homself saam?” 

Krismisoggend, sê my ma, is ons in die Plymouth weg Crawford toe en sy het nou haar sê gesê. 

Ant Mavis sê my ma werk haar te veel op. Sy moet relax. ’n Mens word net oud voor jou tyd. Kort voor lank is jy in jou graf en wat het jy van die lewe gehad? “Toe, sê my, Doris?” 

“Ek kan nie so wees nie,” sê my ma. “’n Mens het darem nog jou plig.” “Ja, maar jy kan partykeer so ’n singsong maak van alles. Take it easy.” “Jy moet onthou, ek het darem nog ’n kind. Ek moet ’n voorbeeld wees vir haar.” 

“Ek kan jou ook nie aldag verstaan nie, Doris. Jy kan so ’n lekker ou sport wees. Kyk nou die aand by die Moth Ball. Jy was jolly, jy het mooi gelyk en ’n mens kon sien jy enjoy jou. En dan skielik, net die dag daarna, is jy soos jy nou is. Heilig en vol stront. Jy kla oor Piet, maar jy is nét so.” 

Ons klim op die stasie af. My pa wag al vir ons onder die groot klok. Daar is twee mans saam met hom. “Doris,” stel hy my ma bekend, “dis nou ou Fight en dis ou Cole. Ek het jou mos al van hulle vertel. Ek het ou Fight en ou Cole gesê hulle moet een Sondagmiddag hulle vrouentjies oorbring daar na ons toe.” 

My pa lyk jolly. Hy is nie so by die huis nie. Die twee mans skud my ma se hand. “Merry Xmas,” sê hulle. Die een vir wie my pa Fight sê, het ’n lang snor wat in punte gedraai is. 

“En hier is my girlie,” sê my pa en hy tel my op. Hy stap daar op die stasie met my na ’n masjien toe, druk ’n pennie in en dit stoot ’n chocolate uit. “Dè, hier is vir jou ’n chocolate,” sê hy en soen my. Hy het ’n drienk gehad, ek kan dit ruik. “Wat wil jy vir Krismis hê?” vra my pa. 

My pa tel my af en gee sy pay envelope vir my ma. “Nou maar Doris, ons moet weer terug werk toe. Ons het net gou ingery met ou Fight se kar. Koop vir julle ietsie, maar kyk mooi na die geld. Hou die kind by jou dat sy nie wegraak nie, en pas op, die skollies steel weer dat dit bars. Al wat hotnot is, is vandag op straat.” 

My ma se bad mood is oor. Sy lag nou en hou my hand vas. “Ons stap sommer short cut oor die parade Pleinstraat toe. ’n Mens kan omtrent alles wat jy nodig het by die ctc koop.” 

“Wanneer bring oom Barnie dan my apie, Ma?” “Gertie, ek wil nou nie hê jy moet jou hart al daarop sit vir Krismis nie. Barnie moet eers gaan soek vir die aap, want jy kry dit nie hier in die Kaap nie en hy vat nou eers ná Nuwejaar weer die pad.” 

“Dis jammer. Ek het gedink ons kan miskien ’n present vir die apie koop.” Daar is ’n Vader Krismis by die ctc-Bazaar. Ek en my ma het ’n bietjie daar gestaan en hy het vir my ’n blou balloon gegee en my ma het vir my ’n lucky dip by hom gekoop. Hy wou my optel, maar ek het weggeruk. 

“Haai, Gertie!” het my ma gesê. “Ek wil loop. Dis ’n man onder daardie klere. Dis nie ’n regte Vader Krismis nie.” 

“Waar kom jy daaraan?” “Oupa het so gesê. Hy sê die grootmense vertel leuens vir die kinders.” “Miskien is jy al ’n bietjie groot vir Vader Krismis,” sê my ma na ’n ruk. “Kom, ons het baie om te doen. Ek moet nog daar by Spracklens ook aan vir kant. Onthou my.” 

Ons het die hele dag in die strate geloop, by die een winkel in en by die ander een uit. Ek het gewonder hoe lank ek nog vir my apie moet wag en ek het gewens ons kon in die Tuine gaan sit sodat ek kan kyk wat is binne-in my lucky dip. My nuwe skoene het my agter by die hakke geskaaf. My ma het nog vir my ’n plakkie met crinckle paper streamers ook gekoop wat jy waai en my hande was vol met die dip en die plakkie en die balloon. My ma het ook al ’n slag gaan staan, met haar hand op my skouer, haar een skoen uitgetrek en gekla oor haar voete. 

“Sjoe, die Kaap is ook so vol. Kom ons gaan nou eers St Georgesstraat toe, dan eet ons ietsie by die Waldorf.” 

Ek het baie van die Waldorf gehou. Dit was ’n groot plek met baie tafels. My ma sê dis ’n restaurant en as jy hier eet, moet jy sorg dat jy jou maniere ken, die regte messe en vurke gebruik, anders kyk die mense jou gou skeef aan en wonder uit watse soort huis kom jy. 

Die waitresses wat by die tafels omgekom het, het swart rokke gedra met wit kantkappies agter op hulle koppe en wit kantvoorskote. Hulle was almal wit. En dit is als Engels wat hulle praat. My ma sê dit is so in die Kaap. Sy het die order ook gegee in Engels. Vir my het sy ’n steak en kidney pie met gravy gekry en ’n banana split, en vir haar ’n mixed grill en tee. 

’n Paar mense het voor op die verhoog gekom en musiek begin maak. Dit was nogal mooi. My ma het gesê dit is Strauss-walse wat hulle speel. Die man wat die musiek geskryf het se naam was Johann Strauss. 

“Hy het die prágtigste walse geskryf!” het my ma gesê. “As ’n mens mooi luister, kan jy voëltjies hoor sing in sy musiek. Hy het die voëltjies gehoor toe hy deur die Vienna Woods is met sy girlfriend in ’n koets. 

“O, hy was lief vir daardie vrou! Hy het sy musiek spesiaal vir haar geskryf en dan het hulle gedans – hy in ’n swart tuxedo met ’n bow tie en sy met ’n wye, wit rok. Oor die vloer het hulle geballroom terwyl hulle in mekaar se oë gekyk het.” 

“Hoe weet Ma?” “Hulle het ’n prent gemaak van Johann Strauss se lewe. Ek het dit gesien. ‘The great waltz’. As dit terugkom, sal ek jou neem.” 

“En wat het toe gebeur?” “Dinge het nie vir hom uitgewerk nie, en hy moes afskeid neem van haar en toe gaan sy weg.” 

“Hoekom? Hoekom het dit nie uitgewerk nie?” “Ag, ek kan nou nie die storie so goed onthou nie, maar Johann Strauss het ’n helluva lewe gely daarna. Al die kunstenaars kry maar swaar. Jy kan maar oplet. Hulle lewens was almal baie sad.” 

“Maar hoekom?” “Dit is maar so met kunstenaars. Hulle is nie gebore om gelukkig te wees nie.” 

“Wat is geluk?” “Eet jou pie, dit word koud.” My ma het ’n Cavalla aangesteek en die rook in die lug geblaas. “Happiness,” het sy gesê en self sad geword. “As jy dit eenmaal gehad het, soek jy jou lewe lank weer daarna, maar dit hou nie lank nie.” Sy het voor haar uitgekyk en toe gesê: “Geluk is iets wat net vanself met ’n mens gebeur. Op ’n dag word jy wakker, jy doen jou dinge, jy ontmoet iemand en skielik, skielik kry jy ’n gevoel hier binne-in jou. Jy wil sommer lag en huil, alles deurmekaar en dit is asof jy iets gróóts wil doen, iets wat niemand anders kan doen nie, maar jy kan niks doen nie en jy weet ook nie hoe nie. Dit is wat geluk is, dit is wat dit beteken om gelukkig te wees.” 

Die orkes het die lied klaar gespeel. ’n Man met aandklere aan het gebuig en die mense het hande geklap. Die man het omgedraai, met ’n stok ’n teken gegee en die orkes het weer begin speel. 

“Hoor hoe mooi,” het my ma gesê. “Hoor hoe mooi. Johann Strauss moes kies tussen sy liefde vir musiek en sy liefde vir ’n vrou.” 

Ek was besig met my banana split toe ek daardie Barnie-man sien. Hy het agter my ma se stoel gestaan en haar oë met sy twee hande toegemaak. 

My ma het geskrik, maar toe gesmile. “Wie is dit?” “Raai.” Hy het na my gekyk, geknipoog en sy gesig só getrek om te wys ek moenie sê nie. Hy het sy mond ook so getrek dat ’n mens sy goue tand kon sien. 

“Prince Charming.” “Hoe het jy geweet?” Barnie het gelag, sy hande van my ma se oë afgehaal, ’n stoel uitgetrek en by ons kom sit. Hy was baie mooi aangetrek, donkergroen klere met ’n double breast en ’n cream hemp met ’n ligte groen tie. Ek dink hy is mooier as my pa, baie dunner en langer, met sy hare so bruin en half krullerig. 

Hulle was sommer dadelik jolly. “Krismis shopping?” het die Barnie-man gevra. “Hene, Doris, maar jy lyk mooi!” Hy het gemaak asof hy wil fluit en my ma se hele gesig het opgelig. 

“En jy, Aapsticks? Eet jy lekker?” het hy vir my gevra. Hy sê nou ook vir my Aapsticks soos uncle Tank en ek het nie daarvan gehou nie. Ek is nie sy Aapsticks nie en ek sou dit nog vir hom gesê het ook as dit nie was vir die apie nie. 

“Waar is Pickles, oom?” 

“Hy is in sy hok by die huis.” “Moet hy dan in ’n hok bly?” “Ja, anders loop hy weg of anders steel hulle hom.” “Ape moet in hokke bly,” sê my ma. “Hulle is nie mense nie, Gertie. En kry nou die aap uit jou kop.” 

“Ek sal Pickles eendag vir jou bring, dan kan julle twee die hele dag speel.” Ek het gesmile. Miskien is dié Barnie nie so ’n bad ou nie. My má hou van hom. 

My ma het nog ’n keer tee gedrink en Barnie het vir my ’n milk shake gekoop. Hy en my ma het aanmekaar gelag en gesels terwyl ek my lucky dip uitpak. Een keer het hy oorgebuig en iets in my ma se oor gesê. Sy het skaam gelyk en rooi geword. Toe weet ek, sy is gelukkig. 

Barnie is saam met ons daar uit by die Waldorf en hy het my ma gehelp met die pakkies. Op die parade het hy vir my ma ’n groot bos rooi rose gekoop. My ma was vreeslik bly, maar sy wou dit nie wys nie en sê toe vir hom: “Nee, Barnie, jy moenie . . .” Maar hy het die rose in haar arms gedruk, by haar ingehaak en haar na sy Hudson toe gevat wat daar naby gepark was en ons is toe in sy kar terug Parow toe. Ek en my ma het al twee skoon vergeet van die kant wat sy nog by Spracklens wou kry. 

My ma het die rose in ’n glasblompot gesit en ’n aspro in die water gegooi. “Dan bly dit langer vars,” het sy gesê. Die blompot was nog my ouma s’n wat my ma nooit gebruik het nie, maar in die showcase in die voorhuis gebêre het. 

“Sê maar niks vir jou pa oor die blomme nie, hoor, Gertie. Jy weet hoe’s hy. Hy hou nie daarvan dat ’n ander vir jou aandag gee nie.” 

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Ons is nie almal so nie deur Jeanne Goosen, 'n uittreksel gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand