Wat om nie by die Ontlaering-kongres te mis nie

Wat om nie by die Ontlaering-kongres te mis nie
Plakkaat ontlaering 2021.jpg

Registreer nou vir Antjie Krog, Lynthia Julius, Pieter Odendaal en meer

Die Ontlaering-span van 2021 (Bibi Burger, Earl Basson, Janien Linde en Mathilda Smit) het ’n treffende tweedagprogram aanmekaar gesit vir die derde Ontlaering-kongres. Ontlaering is ’n projek wat ten doel het om platforms te skep vir moontlike herverbeeldings van die pedagogiek van die Afrikaanse letterkunde, maar dit strek ook verder deurdat die plek en breër rol van Afrikaans in die wêreld ondersoek word. Die eerste Ontlaering is in 2018 in Potchefstroom (NWU) en in Pretoria (UP) gehou. Die tweede, in 2020, het by die Qwaqwa-kampus van die UV plaasgevind. Vanjaar se kongres word aanlyn aangebied. Vir meer agtergrond oor 2021 se fokus, lees die oproep om voorstelle wat vroeër op Klyntji gedeel is.

 

Wat om na uit te sien

29 April

Die hoofrede oor (Afrikaanse) letterkunde word deur Antjie Krog gelewer. Afrofuturisme in Alettie van den Heever se Stof word deur Jerome Coetzee ondersoek, waarna Kanya Viljoen praat oor haar Die Skrif Is Aan Die Muur as ’n “liggaamlike ruimte om terug te praat”. Ignatius Botes kyk na plekpoëtiese beskouings aan die hand van Gilbert Gibson se skryfwerk en die Vrystaat.

Ná middagete volg ’n paneelbespreking: “Afrikaanse taalonderrig te midde van ’n pandemie — ontsluit geslote grense dalk nuwe onderrigruimtes?” Adri Breed, Marius Swart, Shirmoney Rhode, Timothy Colleman en Jolyn Phillips neem deel hieraan. Voorts word die onderwerp van “standaardisering as ’n produk van die tydgees” bespreek deur Sulene Pilon en Gerhard van Huyssteen. Janien Linde en Johanita Kirsten kyk daarna na die potensiaal van betrokke poësie om ’n sensitiwiteit vir taalvariasie en -ideologie by voorgraadse studente te kweek. Bibi Burger lewer ’n voordrag oor die pedagogiese potensiaal van ’n plekspesifieke stap- en kreatiewe skryfwerskwinkel, waarna Alta Vos kyk na die transformering van letterkundetekste. Die dag word afgesluit met nog ’n hoofrede, hierdie keer deur Andries Coetzee oor taalkunde.

30 April

Die dag skop af met ’n opvoedkundige hoofrede deur Michael le Cordeur. Daarna volg Maria Snyman met ’n aanbieding oor Antjie Krog se werk. Mathilda Smit bied ook haar navorsing aan: “Met die oog op gister, vandag en môre: Die Afrikaanse versdrama in die visier, met spesifieke verwysing na Antjie Krog”. Hardus Ludick kyk na Nataniël en sy stories.

’n Paneelbespreking van die onderrig van Afrikaanse letterkunde in die breë konteks deur Marena Lotriet, Yves T’Sjoen, Marni Bonthuys en Ronelda Kamfer volg ná middagete. Die digters Pieter Odendaal en Lynthia Julius lees laastens van hulle werk voor, waarna daar afgesluit word.


Hier is die volle program in PDF-formaat; bywoning is gratis.

Registeer hier vir die sessies wat jy wil bywoon.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Wat om nie by die Ontlaering-kongres te mis nie gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand