Veronique Jephtas praat nie ommie bos nie

Veronique Jephtas praat nie ommie bos nie
Soe rond ommie bos voorblad.jpg

Protespoësie as 'n weapon of choice

“I suppose that the root of the resentment – a resentment which hides a bottomless terror – has to do with the fact that a woman is tremendously controlled by what the man’s imagination makes of her [...].” Só begin die uittreksel van James Baldwin se If Beale Street Could Talk wat as motto van Veronique Jephtas se debuutdigbundel, soe rond ommie bos (2021, Protea Boekhuis), dien. “The truth is that dealing with the reality of men leaves a woman very little time, or need, for imagination,” lui ’n verdere gedeelte van die uittreksel. Die aard van Jephtas se poësie wat in die bundel volg, is dus duidelik: hier lê verse wat gesetel is in ’n realiteit van wydverspreide femicide, rassisme en ongelykheid, waarin die waarde van luidkeelse protes nie geringgeskat kan word nie. En in soe rond ommie bos verklaar Jephtas self (in haar bedanking aan Ronelda Kamfer): “King, jou woore, ‘Vee, jy censor jouself’, het gemaak dattie ding begin ruk en van daai tyd af, toe maats ek mettie attitude van ’n girl met twee curly bollas, ’n lollipop in my mond, ’n AK47 en my mirrelvinger na die wêreld toe”.

Hier lê verse wat gesetel is in ’n realiteit van wydverspreide femicide, rassisme en ongelykheid, waarin die waarde van luidkeelse protes nie geringgeskat kan word nie.
— Andréa Müller

Veronique Jephtas, oorspronklik van Paarl, verwerf in 2019 haar honneursgraad in drama en teaterstudies by die Universiteit Stellenbosch en spesialiseer hiervoor in kreatiewe skryfkunde. Sy debuteer in 2020 by Woordfees as dramaturg met Hoe change hulle. In dieselfde jaar voltooi sy die Jakes Gerwel-skrywersresidensie. Jephtas se indrukwekkende resumé sluit in skrywer, aktivis, digter, spoken word-kunstenaar, regisseur en aktrise – in daardie volgorde, volgens haar biografie in soe rond ommie bos

Die spreker in die bundel het ’n sterk aktivistiese ingesteldheid en sy blyk om bewus te wees van haar rol as digter en as spreekbuis vir protes: “as jy ienage iets wil change moet jy protest jy moetie vullis ytgooi jy / moet tyres brand jy moet poems skryf / al lees nieman mee rêragie” (‘optog’). Ook die gebruik van Kaaps regdeur die bundel kan beskou word as ’n middelvinger vir Standaardafrikaans en -literatuur en die stilswye oor sekere onderwerpe, ervaringe en perspektiewe, soos dié wat in soe rond ommie bos vervat word. Die natuurlike vloei van klank en die ritme van die gedigte in soe rond ommie bos herinner aan spoken word poetry. Kyk byvoorbeeld Jephtas se voorlesing van ‘spite’ by die bekendstelling van soe rond ommie bos.

Die titel van die bundel sinspeel op die bekende Afrikaanse gesegde “om iemand om die bos te lei”: om iemand te kul of te bedrieg. Die bundel as geheel is as’t ware ’n toer “rondom die bos”: die leser word op ’n toer geneem van die leuens wat aan ’n jong generasie Suid-Afrikaners en Suid-Afrikaanse vroue vertel word – leuens van onderdanigheid, minderwaardigheid en geweld – die skadelike uitwerkings daarvan, en die spreker se proses van ontnugtering en ontdekking – en herroeping – van die waarheid, van realiteit. Jephtas loop juis nie om die bos met die onderwerpe waaroor sy dig nie – sy plunder eerder reguit deur die bos, met ’n luidspreker: “soe rond ommie bos / my tong skiet los / ek praat ytie mond vanne meid mette warme bôs / ek praat ytie oegpunt vanne maid yt Stellenbos / hie wil ekkie bly nie / wan hie is niks vi my nie” (‘die man wattie koeie melk’).

soe rond ommie bos / my tong skiet los / ek praat ytie mond vanne meid mette warme bôs / ek praat ytie oegpunt vanne maid yt Stellenbos / hie wil ekkie bly nie / wan hie is niks vi my nie
— Veronique Jephtas

Die bundel is in drie dele verdeel: “mettie wysheid wat nawete bring”, “issie ’n cycle nie, is life” en “hie rukkie ding”. Al drie dele bevat gedigte wat die spreker se ontnugtering skets ten opsigte van die leuens van rasse- en genderminderwaardigheid en die geweld wat uit beide vloei. Die sogenaamde “wysheid wat nawete bring” in die eerste gedeelte van die bundel blyk (onder andere) te wees: “jamme sê betieken fokkol” (‘sorrie’). Hierdie ontnugtering evolueer tot in die derde gedeelte van die bundel, waar die spreker se protes teenoor witbevoorregting en Wit Suid-Afrikaners die kragtigste weerklink, soos in die slotstrofe van ‘ôs wil oek’: “susan, ek en jy issie equalie / jou capitalism en racism en patriarchy wil nettie op raakie / jou privilege skrie soes jy met geboorte / my culture issie ’n costumie / braids isse protective hairstyle not a trend / [...]”.

susan, ek en jy issie equalie / jou capitalism en racism en patriarchy wil nettie op raakie / jou privilege skrie soes jy met geboorte / my culture issie ’n costumie / braids isse protective hairstyle not a trend
— Veronique Jephtas

In deel twee van die bundel, “issie ’n cycle nie, is life”, eggo die digter se vervreemding en teleurstelling met die post-94 Suid-Afrikaanse realiteit. Kwessies soos armoede (‘12 desember 2016’), dwelm- en drankverslawing (‘krismis innie nuwe hys’, ‘mandela se legacy’, ‘sannie’) en prostitusie (‘the eldest profession’, ‘visfabriek’) word uitgebeeld as die oorsaak van desperate omstandighede waarin privilege nie bestaan nie en waarin die mense in magsposisies nie daarin slaag om die beloftes van die post-94-rainbow nation na te kom nie. Maar dit is veral in die gedigte in die bundel waarin geslagsgebaseerde geweld en femicide aangespreek word, waar die bundel sy trefkrag kry.

Dit is byvoorbeeld hoogs treffend dat die openingsgedig van die bundel ‘uyinene mrwetyana’ is. Die gedig handel natuurlik oor die moord op Uyinene Mrwetyana in 2019 en die daaropvolgende anti-GBV-proteste en die kollektiewe woede van Suid-Afrikaanse vroue wat daardeur aangewakker en vasgevang is. Die openingsgedig lê dus die fondasie vir die tema van woede teenoor geslagsgebaseerde geweld en femicide in Suid-Afrika, en die persone in magsposisies wat dit toelaat. Die spreker se ontnugtering ten opsigte van die leuens van gelykheid, veiligheid en beskerming, en die teleurstelling in manlike figure (gewoonlik in magsposisies) wat versuim in hulle plig om (werklike) gelykheid en beskerming aan vroue (veral Bruin en Swart vroue) te bied, word beklemtoon in gedigte soos ‘die man wattie koeie melk’, ‘born free’, ‘R200’, ‘man staan’ en ‘is daa rêrag ’n God?’. In gedigte soos ‘kamma kô ma? nawt yet’, ‘spite’ en ‘golfie’ word die spreker se kwesbare posisie as jong meisie, wie se lewe in die hande van ander – dikwels mans – was, duidelik uitgedruk. Jephtas draai wel nie doekies om nie: “assie nai net moet wiet / is mense soes hy oo wie ek poems skryf” (‘wynberg, wynberg’).

Die bundel eindig toepaslik met die gedig ‘briekie kettangs los’, wat die roeping van die bundel as geheel saamvat: om die kettings en die sogenaamde siklus van onderdrukking en ongelykheid te breek, moet daar eerlike, oop gesprekke gevoer word oor die realiteit van die post-94 Suid-Afrikaanse samelewing; daar kan nie verder om die bos gepraat óf gelei word nie.

In haar bundel verwoord Jephtas ’n vars stem in gesprekke rondom femicide, geslagsgebaseerde geweld (GBV), rassisme en die post-94-konteks in Suid-Afrika. Die bundel is myns insiens verteenwoordigend van ’n kollektief van jong Suid-Afrikaanse stemme: ’n amalgamasie van dié van ’n jong vrou, ’n Bruin vrou, ’n student, ’n born-free Suid-Afrikaner wat woedend is, wat teen onreg en diskriminasie baklei, wat die Suid-Afrikaanse samelewing ’n beter, veiliger plek wil maak, en wat moeg is vir om hierdie kwessies praat. Die bundel word juis onder andere opgedra aan “ammel wattie kankers vannie liewe se gat skop”. Poësie en die skryf van gedigte blyk Jephtas se weapon of choice te wees, en sy bewys in soe rond ommie bos die effektiwiteit van dié wapen.

Foto: Nardus Engelbrecht/Woordfees

Foto: Nardus Engelbrecht/Woordfees

optog

 eendag sit ek en my vriend byte die drama dep en hy sê, jy is ’n
lopende optog
wan ek hettie tyd vi wit mense en hulle kak nie
in fact, ek hettie tyd vir ienage een se kak nie
ek het gedink isse insult
toe onthou ek vi steve en ashley en dulcie en allie anner. sharpeville
en feesmustfall
hoe my ma hulle innie fabriek getreat wôd
apartheid
winnie en my ma en my ouma en ronelda en lee-ann en taren en
elmarie en monique en crystal en kay
en saartjie
as jy ienage iets wil change moet jy protest jy moetie vullis ytgooi jy
moet tyres brand jy moet poems skryf
al lees nieman mee rêragie 

 

innie pad

ek het iewes gelees dat mans amper nientag pesent vannie tyd
dink ’n vrou sal padgie as hulle dieselle way loep
vrouens het ophou padgie
die nawiek toe doen ekkit by ’n fees met wit mense
ses wit mense het in my vasgeloep
een tannie het groot geskrik
sy het besef
sy is in my pad 

 

bly nog ’n rukkie

gie my nog een klap tien my wang
gooi nog een glas wyn deu my gesig
trek nog een kee my hare
gil my naam af innie gang
briek nog een laaste bôd in my naam
haal wee ôs foto’s yt elke raam
kô trug
bly nog ’n rukkie
langer 

 

femicide

ek sit innie bib
headline ná headline lees ek hoe nog ’n liggaam gevind is
my trane sit in my oë
ek chat met my chommie matteo
ek kannie hylie
wan my first draft vir my honours moet in
en my supervisor gannie nou omgie oo my gevoelensie
die department gannie nou omgie oo hoe gebriekie nation issie
wan in show business lee ôs van kleintyd af
the show must go on
die show se poes 

 

end game

ek sallie eeste een wies om te admit dat
met groot hare kô aandag en onnorage baggage
by woordfees 2019 toe gan kyk ek endgame
die een tannie sak af
jy kan nie jou hoë hare maak as jy teater kom kyk nie
ek gie haa toe ’n vylkyk
toe sak sy wee af
ek grap maar net hoor 

die sad deel vannie hele storie
wassie ees dat sy it gesê hettie
dit wassie dat ek kon hoor sy joke genuinely
en is uneducated oo hare nie
maa it wassie feit dat my wit vrinne vi my sê
ek kan nie glo sy sê dit vir jou nie, maa hulle sê dittie vi haa nie
die tannies wattie kon sienie sit nou op anne mense se seats
en ek sit en dink hoe ek my hare hoër kan maak virrie volgende show

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Veronique Jephtas praat nie ommie bos nie gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand