Van die FAK tot Fokofpolisiekar: Ontmoet Die Bos Parade

Van die FAK tot Fokofpolisiekar: Ontmoet Die Bos Parade

Foto’s verskaf / Graeme Lees

Die beste ding sedert beskuit

Op ’n koue aand in Maart 2023 in De Stomme Jonge (RIP) in Stellenbosch, tree Die Bos Parade vir die eerste keer voor die publiek op. Stoele is in die courtyard in ’n tipe halwe sirkel gepak. Terwyl die band – geklee in swart – hulle instrumente instel en die gehoorlede hulle wyn en bier afsluk midde-in die geselligheid van die okkasie, deel ’n bandlid, geklee in ’n manspak en ’n doilie-tjalie om haar skouers gebind, individueel-verpakte stukke beskuit vir die gehoorlede uit. “My ma het dit gebak,” vertel sy soos sy dit uitdeel, en voordat die ontvanger té entoesiasties oor dié sentimentele stukkie beskuit kan raak, verklaar sy: “Moenie jouself beskyt nie.”

Daarna neem ons beskuit-uitdeler haar plek in tussen die res van die band, wat in die klein opening voor die gepakte stoele ingerig is saam met ’n ou televisiestel. Met ’n luidspreker in die hand stel sy Die Bos Parade aan ons voor: Op kitaar is Sybrandt Boerewors, met ’n flaphoed so reg uit die Boereoorlog; Johannika Vermaak speel die tjello en Sersant die kontrabas; sy is Wilma Koeksister en sy sing. Wat volg is ’n musikale reis deur ou volkswysies en Afrikaanse TV-temas en treffers wat op onverwagse maniere vernuwe en herverbeel word – alles unplugged, met Wilma se operasangstem wat die ruimte vul terwyl die televisiestel stille beeldmateriaal van die Volkspele, die EFF en parlementêre brawls van regoor die wêreld tussen static oor die skerm flits. Die atmosfeer is gemaklik, intiem.

Die set list sluit in liedjies uit die FAK soos ‘Ek soek na my Dina’, ‘Sarie Marais’, ‘Aanstap Rooies’ en die vergete ‘Ek sing van jou’, en Fokofpolisiekar se ‘Hemel op die platteland’, tesame met instrumental interludes en oorspronklike komposisies. Die gewoonlik annoyingly chipper en repetitive ‘Ek soek na my Dina’ word byvoorbeeld ’n hauntingly beautiful blues-y rendition wat die diep verlange na die verlore Dina baie beter by die luisteraar tuisbring. ‘Ek sing van jou’ word ’n tong-in-die-kies-parodie van kuis Afrikaner heteronormatiwiteit, terwyl Wilma aan die einde van die song vir ons vertel dat sy ’n lesbiër is. Selfs Fokofpolisiekar se ‘Hemel op die platteland’ kry ’n hele smooth latin bossa nova make-over (’n weergawe meer gepas “vir die kieskeurige oor”, verduidelik hulle). Die effek is egter nie een van ’n cover band wat ’n nostalgiese blaai deur die Afrikaner-musiekerfenis bied nie; nee, die ou songs word heeltemal herverwerk en rearrange om iets totaal nuut tot stand te bring. Weg is die cringey eentonigheid wat gewoonlik met ou Afrikaanse volk- en popliedjies gepaard gaan. Wat oorbly, is ’n soundscape van – so eenvoudig soos dit is – mooi musiek. Dis onverwags. Dis mesmerising. Dis befok.

Weg is die cringey eentonigheid wat gewoonlik met ou Afrikaanse volk- en popliedjies gepaard gaan. Wat oorbly, is ’n soundscape van – so eenvoudig soos dit is – mooi musiek. Dis onverwags. Dis mesmerising. Dis befok.
— Andréa Müller

’n Disclaimer: Soos baie jong, progressiewe Afrikaanssprekendes vandag, distansieer ek myself van enige vuil wasgoed (Voortrekkerkappies en two tone-pakke inkluis) wat uit die moerse hoop baggage van Afrikanererfenis en -kultuur kom. En my kennis van Afrikaanse volksliedjies sluit in kinderliedjies soos ‘Bobbejaan klim die berg’, ‘Jan Pierewiet’ en ‘Saai die waatlemoen’. Hoe kon hierdie mense met die belaglike stage names my só bekoor met hierdie trip deur die kollektiewe geheue van die (sogenaamde) Afrikaner? In kort: Ek móés meer uitvind oor wie en wat Die Bos Parade is.

So, op ’n koue aand in April ontmoet ek en Elodi Troskie vir Sybrandt Boerewors en Wilma Koeksister in ’n huis in Kaapstad se suidelike voorstede om meer uit te vind oor Die Bos Parade.

Wie de FAK is Die bos parade?

Die Bos Parade is Graeme Lees (ook bekend as Sybrandt Boerewors) en Vasti Zeeman-Knoesen (alias Wilma Koeksister) se musiekprojek. “Ander eensgesinde fantastiese kunstenaars word ook betrek om deel te wees van hierdie handeling soos daar ’n behoefte is,” verduidelik Die Bos Parade se website. Die Bos Parade is, in hulle eie woorde, “aural bundu bashing” waarvan die “klankkombinasies […] bes beskryf [kan] word as ’n kakelbont poespas lappieskombers wat nou as ’n drop sheet gebruik word”. 

Vasti en Graeme is beide musiekonderwysers; Graeme gee kitaar (Frank Freeman was een van sy studente), en Vasti gee sang. Vasti is opgelei in opera en het opera aan UCT studeer. Graeme was betrokke in die teaterscene in die Vrystaat, maar ná die finansiële ineenstorting in 2008 het befondsing opgedroog en het hy Kaap toe getrek. Vasti en Graeme het mekaar ontmoet circa 2014 by die Edge of Wrong-musiekfees, ’n musiekfees wat gerig is daarop om brûe te bou tussen kulture en gemeenskappe deur middel van eksperimentele, avant-garde en improv-musiek en -kunsvorme. Graeme verduidelik dit as: “Hoe ver speel jy om so naby aan ‘verkeerd’ te kom.”

Wat uiteindelik Die Bos Parade sou word, het reeds in circa 2014/2015 begin onder die naam Tonteldoos. “Ek wou iets doen wat my interesseer,” vertel Graeme. “Ek het Kaap toe getrek met die idee om in die jazz scene betrokke te raak en toe ek actually hier is en begin speel, besef ek ek hou nie rerig daarvan nie.” Die groot katalisator vir Tonteldoos – en dus, Die Bos Parade – was Graeme se liefde vir Americana en veral Bill Frisell se jazz-verwerkings van Amerikaanse folksongs. As selferkende Bill Frisell-nerd (sy eie woorde) het Graeme besef dat daar nie so iets is wat met Afrikaans gedoen word nie. “So Tonteldoos was hoofsaaklik ’n copy van Frisell se goed,” verduidelik Graeme, “baie meer ’n jazz-struktuur, baie meer improvisasie, en ek dink daar was vier vocal liedjies in die set gewees.” Dit was egter glad nie Diana Krall se tipe jazz nie, maar eerder meer roots-geïnspireerd, met selfs ook slam poetry deur ene Ons Klyntji-redakteur Toast Coetzer, vertel Vasti. Maar nadat ’n ander band met dieselfde naam op die (social media) scene verskyn het (en ’n dorp met dieselfde naam reeds bestaan) moes Graeme en Vasti rebrand.

Graeme het intussen verwerkings begin doen wat weg beweeg het van jazz af, en met lockdown is ’n klomp van die musiek wat op Toeriste Treffers verskyn, Die Bos Parade se eerste EP, in Graeme se studio in sy agterplaas opgeneem. Die titel van die EP is ’n nod in die rigting van Julius Malema se uitsprake dat Wit Suid-Afrikaners toeriste in Suid-Afrika is, en hulself soos gaste in ’n land moet gedra.

Die titel van Toeriste Treffers is ’n nod in die rigting van Julius Malema se uitsprake dat Wit Suid-Afrikaners toeriste in Suid-Afrika is, en hulself soos gaste in ’n land moet gedra.
— Die Bos Parade vertel alles

'n sound scrapbook of sorts

Luister ’n mens na Die Bos Parade se Toeriste Treffers-EP en sien ’n mens hulle perform, is dit baie duidelik dat hier ervare en geskoolde musikante betrokke is: Die Bos Parade is g’n amateurs nie, maar vakmanne. Hulle parodieë en satire lees daarom geensins soos slapstick Leon Schuster nie, maar eerder as weldeurdagte, intentional eksperimente met klank, sowel as met konsepte soos erfenis, kultuur en herkoms. In fact, alles wat Vasti en Graeme met Die Bos Parade doen, ís baie deliberate en deurdag: “Ons wíl hê dit moet half cheap wees, maar funny wees, maar nié cheap wees nie,” verduidelik Vasti. “Als is baie, baie intentional,” beklemtoon Graeme.

Alhoewel die Bos Parade-personas my herinner aan wat Ralph Rabie en kie destyds met Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band gedoen het, sê Graeme vir my dat sy inspirasie vir parodie en satire meer van Frank Zappa af kom. (Graeme het ’n impressive versameling Zappa-CD’s in sy studio.) Op hierdie noot vertel Graeme vir my dat hy as kunstenaar “at peace [daarmee is] dat niks original is nie”. “Ek steel orals,” bieg hy. (“Good artists copy, great artists steal,” mos.) Die Bos Parade is daarom “a sound scrapbook of sorts”.

Daar is egter baie red tape en weerstand betrokke by die verwerking van ander kunstenaars se musiek, soos Graeme en Vasti geleer het toe hulle ’n punk rock weergawe van Laurika Rauch se bekende ‘Stuur groete aan Mannetjies Roux’ in 2020 verwerk het. “Ek het vir Laurika gekontak en haar gevra ‘kan ek dit arrange?’ Sy antwoord toe ‘ja, nee, dis fine’,” vertel Graeme. “Ek gaan toe en arrange dit, en ek is moerse happy daarmee – bygesê dis ’n punk version van dit, right. Ek stuur dit vir haar en hoor niks terug van Laurika nie. Die publisher kom terug na my toe en is soos ‘jy het die liedjie gebreek’ – dis letterlik haar woorde oor die foon gewees.” “Graeme was baie discouraged daarna,” vertel Vasti. “Toe skryf hy vir ons ‘Byeboerwa’.” (In dié weergawe van Carike Keuzenkamp se liedjie het die byeboer ook sy vellies vir Doc Martens verruil.) “So nou as ek toestemming moet vra, stuur ek eerder net ’n demo,” bieg Graeme. “Ek’s op die punt waar ek nie wil toestemming vra nie, ek sal eerder jammer sê.”

Hulle speel vir my hulle “gebreekte” weergawe van ‘Mannetjies Roux’ — en dis befok. Wie sou ooit dink ’n moshpit sal kan ontstaan op ‘Mannetjies Roux’? Dat jy “O, stuur ons net so bietjie reën” wil skree terwyl jy head-bang? (Laurika, as jy hierdie stuk lees, asseblief asseblief asseblief kan Bos Parade hulle weergawe van jou liedjie vrystel vir die publiek om te geniet? Die swartskape van Die Volk sal jou ewig dankbaar wees.)

Wie sou ooit dink ’n moshpit sal kan ontstaan op ‘Mannetjies Roux’? Dat jy ‘O, stuur ons net so bietjie reën’ wil skree terwyl jy head-bang?
— (Laurika, as jy hierdie stuk lees, asseblief asseblief asseblief kan Bos Parade hulle weergawe van jou liedjie vrystel vir die publiek om te geniet?)

“Ek dink volksliedjies het na Graeme toe gekom toe die Laurika-ding nie uitgewerk het nie,” meen Vasti. “Ons wou meer mainstream [en] sulke tipe famous liedjies doen, en toe begin ons eksperimenteer met volksliedjies – want volksliedjies het geen regte daarop nie, jy kan doen daarmee wat jy wil, so dit gee jou vrye teuels. En dit het actually goed uitgewerk, want daar is goeie goed daarbuite,” vertel Vasti. Hulle doen egter nie nét volksliedjies nie, beklemtoon sy.

Toeriste Treffers bevat byvoorbeeld oorspronklike instrumentele komposisies en interludes wat geïnspireer (ehem) is deur die “Konstantia-tannies” van die suiderlike voorstede van Kaapstad. (Daar was ’n ekstra strategiese “t” êrens in daardie track se titel geplaas, vertel Graeme. Ek los dit maar vir jou om uit te werk waar, liewe leser.)

“Dis ’n baie lekker show om op te tree,” vertel Vasti verder. “Dis baie fun omdat Graeme regtig geïnkorporeer het dat ek ’n baie dramatiese operasanger kan wees in die een liedjie, en dan soos baie rowwerig wees in die ander. En dan is ’n ander van die songs net hierdie magical, stil tipe song; en dan ander is baie well-known, en dan party wat Graeme self compose het.”

Graeme vertel dat hy baie van die bladmusiek vir liedjies wat hy verwerk, in liefdadigheidswinkels kry. Dís ook hoe hy op die bladmusiek van ‘Ek sing van jou’ afgekom het – ’n song wat se Google searches nie eers één cover of YouTube video met ’n montage van Boereoorlog-foto’s oplewer nie.

Graeme is ook baie gestel op die tegniese aspekte van sy musikale komposisies. “Ek kan nie ‘Saai die waatlemoen’ gebruik nie, want dit is nie soos ‘Ek soek na my Dina’ waar die melodielyn van ’n tegniese punt af iets interessants doen nie,” verduidelik hy.

Ook op ’n visuele vlak is Die Bos Parade ’n plakboek van beelde uit die verlede en hede. Graeme het byvoorbeeld die musiekvideo vir hulle verwerking van ‘Hemel op die platteland’ geskep met beelde uit ou Sarie-tydskrifte wat hy in liefdadigheidswinkels gevind het. (Kyk dit hier — dis fantasties.) Die album cover self is “gesteel” van ’n ou kasset-cover, vertel Graeme. Die foto van sy ma by ’n Mini uit die 60’s is ge-photoshop, en die oorspronklike kasset se font is nagemaak vir hulle eie teks. Die “Draadloos met Bluetooth” bo-op die cover is ’n verdere humoristiese, tong-in-die-kies-omgang met verlede en hede (note ook die slinkse spelling van “Stereo” as “Steureo”). Graeme het ook vir Toeriste Treffers ’n album sleeve en liner notes met dieselfde knip-en-plak-approach geskep. Blaai daardeur hieronder.

'n mens kan nie “slag” sonder “lag” spel nie

In die inleiding tot Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar, ’n bundel kritiese opstelle oor Afrikaner-kollektiewe herinnering, skryf Siegfried Huigen en Albert Grundlingh oor die Franse sosioloog Maurice Halbwachs se konsep van kollektiewe herinneringe. Volgens Halbwachs besit ons elkeen ons eie, unieke herinneringe wat ons self deur ervaring opdoen, maar ons besit terselfdertyd ook groepsherinneringe: “’n Mens onthou as individu, maar is daarin nie alleen nie.” Die milieu waarin ’n mens grootword en leef, vorm ’n raamwerk waarbinne die inhoud en vorm van herinneringe bepaal word; daarmee ook word identiteite bepaal. Herinneringe kan dus by individue ontstaan selfs al het hulle dit nooit direk “ervaar” nie. Huigen en Grundlingh verduidelik dat kollektiewe herinneringe vloeibaar is; soos wat herinneringe oor generasies vervaag, bepaal die belange en eise van die hede die kollektiewe herinnering.

Die Bos Parade is dus ’n plundering, ’n herrangskikking selfs, van die Afrikaner se kollektiewe geheue (en die historiese en, let’s be honest, emotional baggage wat daarmee gepaard gaan); ’n mash-up van die hede én van die geskiedenisse wat nog “warm” en “koel” op die Afrikaner se nek blaas, om Halbwachs se terme te gebruik. Dié band se plundertog is egter nie gerig op sentimentele nostalgie óf blindelingse afslagting nie, maar op herverbeelding en herskepping. “Soms kry ouer liedjies ’n nuwe voorskoot en soms word hulle geslag. Mens moet tog onthou dat jy nie ‘slag’ sonder ‘lag’ kan spel nie,” verklaar hulle.

Volgens Graeme is dit therapeutic om op hierdie vernuwende wyses om te gaan met Afrikanererfenis en -kultuur. “Dis ’n cheap vergelyking, okay, maar ek voel ons is soos musikante op die Titanic,” sê Graeme. “Ons wil mense laat lag, maar ook iets laat voel,” voeg Vasti by.

Dis ’n cheap vergelyking, okay, maar ek voel ons is soos musikante op die Titanic.
— Graeme Lees (Sybrandt Boerewors)

Oor wat volgende vir Die Bos Parade wag, vertel Vasti dat Graeme al klaar ’n idee het vir Die Bos Parade se volgende era: ’n Meer 80’s/90’s-feel, met tydperk-spesifieke make-overs vir Sybrandt en Wilma. Op 31 Mei (destydse Republiekdag) stel Die Bos Parade ’n nuwe enkelsnit ‘Ek’s net dom’ vry. Vasti en Graeme is beide baie opgewonde om as Die Bos Parade op te tree in nóg huiskonserte. Op 2 Junie tree hulle in ’n huiskonsert in Oranjezicht op.

In Van Volksmoeder tot Fokofpolisiekar skryf Annie Klopper:

Die voorskriftelikheid rondom die Afrikanervolk se musieksmaak het reeds begin met die totstandkoming van Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) in 1929. Die FAK was funksioneel in die besluit oor watter musiek “volksvreemd” en watter “volksvriendelik” was. Die eerste publikasie van die FAK-Volksangbundel (1937) het onder meer ten doel gehad om die Afrikanerjeug gebiedend en trots “lekkerliedjies” te laat sing langs piekniekmandjies vol soet koeksisters, by prettige boeresport-byeenkomste en in sangklasse en kore. […] Die nalatenskap van hierdie volksliedjies (waarvan die wysies dikwels ontleen is aan uitheemse volksliedere) het as voorganger gedien vir die massas afgesaagde en vraagtekenlose Afrikaanse lirieke wat dekades daarna nog soos stroop uit luidsprekers lek en die Afrikaanse musiekbedryf boeppens laat staan.

Met hierdie idee in gedagte maak dit sin dat Die Bos Parade gehore met ’n mate van discomfort konfronteer — whether jy in die Laurika-kamp is en dalk voel Die Bos Parade is besig met ’n massacre, óf whether jy, soos ek, gewoonlik gril vir stroopsoet Afrikaanse pop- en volkswysies en die simboliek waarmee dit verpak word. Hoe dit ook al sy, is Die Bos Parade ’n pallet cleanser op die Afrikaanse musiek scene: Die bitter swartkoffie waarmee ’n stukkie tuisgebakte beskuit so lekker afgaan.


Luister na Die Bos Parade se debuut-EP, Toeriste Treffers, op jou gunstelingplatform, en kyk hulle musiekvideo’s en sitkamersoirées op YouTube. DM Die Bos Parade direk op Instagram om hulle in ’n huiskonsert naby jou te sien, of om hulle te book.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Van die FAK tot Fokofpolisiekar: Ontmoet Die Bos Parade gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand