Hierdie dokkie belig die Griekwa-geskiedenis

Hierdie dokkie belig die Griekwa-geskiedenis

'Die Griekwa is nog' deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans

Die Noord-Kaap is ’n provinsie in Suid-Afrika waar die Griekwa rus gevind het. Die meeste mense weet baie min tot niks van die desert-provinsie se klein dorpies soos Griekwastad, Kranshoek en Campbell nie. Dalk omdat mense dink daar gebeur net mooi niks in die Noord-Kaap nie. Niks anders as sand en son en die vlamme rondom Upington op die weervoorspellings nie. Daar is meer aan die Noord-Kaap, soos die Oranjerivier wat vloei vir ons, die gestoot en ge-rush van adrenaline van die Augrabies-watervalle met die gesing van die rooi sandduine wat ons verwelkom met ’n sawwe kleed. 

Wie's die Griekwas?

“Griekwa” is die naam wat gegee is aan ’n gemengde ras-kultuur in die Kaapkolonie van Suid-Afrika, rondom die 17de en 18de eeu. Hulle was gedurende daarie tyd ook bekend as “Hottentotte” en “Hotnots”, wat name is wat aan die Griekwa-mense deur die Nederlanders gegee is. Die Griekwa-mense het eerder “Khoikhoi” verkies, wat beteken “manne onder die manne”. ’n Mens kan hierdeur aanneem dat die Griekwa-mense reeds tydens daarie tyd ’n begeerte vir hul eie identiteit gehad het. Hulle is ’n ras- en kultureel-gemengde volk wat hoofsaaklik afstam van die ondertroue en seksuele verhoudings en selfs moontlike seksuele mishandeling tussen Europese koloniste en hoofsaaklik Khoikhoi-slawe. In ’n wêreld waar dit wit óf swart is, bestaan daar ’n “tussen-in”, maar ons identiteit is nie ’n geleende mengsel van die twee nie, ons het ’n identiteit van ons eie. ’n Identiteit wat sy eie respek verdien.

Die Griekwa is nog 

“Die Griekwa is nog” is ’n projek wat moontlik gemaak is deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA). ’n Projek om ’n stem te gee aan die Griekwa-volk en om seker te maak dat die geskiedenis van die Griekwa steeds onthou word en oorgedra kan word aan nuwe generasies in skole en gemeenskappe, maar ook die wete dat die Griekwa steeds bestaan. Om erkenning te gee aan ons Griekwa-afkoms sonder om te wonder waarvandaan ons unieke features kom. Die primêre bron vir hierie projek deur die SBA was Aäron Messelaar se boek, Forgotten but not Buried. “Die Griekwa-volk is nie ’n homogene etniese groep nie. Dis duidelik uit die naam ‘Basters’ wat hulle aan hulself gegee het en ook deur andere genoem is,” sê Messelaar.

Die Griekwas kry well deserved recognition en acknowledgment of identity deur hierie projek. Onderhoude is gevoer met inwoners van Campbell, ’n klein dorpie in die Noord-Kaap, sowel as Griekwastad, wat ongeveer 48 km uitmekaar is. Tydens die onderhoude spring een van die Griekwa-mans sterk weg deur te sê: “Ek is ’n man van die veld, ek is nie ’n man van die lokasie nie” wat indrukwekkend is in ’n samelewing wat pronk met glitter en gold, fancy this en fancy that. 

Ek is ’n man van die veld, ek is nie ’n man van die lokasie nie.
— Uittreksel van Die Griekwa is nog

Die Adam Kok-manne vanaf Adam Kok l tot Adam Kok V was die leiers van die Griekwa-nasie en vandag nog is Adam Kok V die heersende koning van die Griekwas. Die Adam Kok ll Taalroete in die Vrystaat is in 2013 gelanseer. Daar is ook die Adam Kok-huis waarin Adam Kok III in die 1800’s gewoon het, en daar is ’n standbeeld van Adam Kok III by die Nasionale Erfenismonument in Pretoria, en ook ’n standbeeld van Adam Kok III in Kokstad, KwaZulu-Natal. Die Griekwa is nog teenwoordig, lewendig en trots.


Hierdie storie is moontlik gemaak deur die Art Stories Incubator-program van Breinstorm Brand Architects, in samewerking met Klyntji en Iqoqo. Dit is befonds deur ’n PESP-3-toekenning wat ondersteun word deur BASA en die Departement van Sport, Kuns en Kultuur.

Creative Commons Licence
Dié storie is ingevolge ’n Creative Commons Attribution-NonCommercial-NoDerivatives-lisensie gepubliseer. Dit mag dus herpubliseer word onder die lisensievoorwaardes, solank ’n skakel na die oorspronklike Klyntji-storie ingesluit is, saam met die erkenning hierbo.
Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Hierdie dokkie belig die Griekwa-geskiedenis gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand