Johnny is nie dood nie: Hy werk aan 'n mural

Johnny is nie dood nie: Hy werk aan 'n mural

Foto’s: Verskaf

Celeste Theron gesels met kunstenaar Johnny Allison in Pretoria

Johnny Allison is ongetwyfeld ’n mooi man – maar ek is hier om te gesels oor sy kuns, moet ek myself herinner met die diep en besielde blik waarmee hy my vrae beantwoord oor ’n glas wyn. Ons sit by Peaches in Hazelwood, waar ons afgespreek het om mekaar vinnig te ontmoet voor hy weer vertrek op sy volgende groot commission. “Ek was bang om jou weer te sien, jy is soos regtig Afrikaans,” laat weet hy sommer uit die staanspoor. Ek is nie seker of dit ’n belediging is nie, maar probeer hom gerusstel dat ek wel Engels praat. “Nee, dit gaan die toon waarop ons nog altyd kommunikeer… Ek wil dit nie verander nie,” dring hy aan, en skink vir my nog wyn. Op 27 het hy reeds meer as 50 murals agter sy naam. Verlede jaar is hy aangewys as een van Design Indaba se Emerging Creatives en hy het onlangs sy eerste solo exhibition, Random Order, by Brutal-galery in Kaapstad tentoongestel. 

Ek vra hom hoeveel murals het hy verlede jaar voltooi. Hy lag vir my vraag en sê hy hou nie regtig count nie, maar hy dink dit was om en by 18, waarvan 15 commissions was vir Chicken Licken. Johnny is die gedrewe laatlam van ’n eksentrieke familie wat in die laaste vier jaar ontluik het in ’n voltydse muralist. Sy suster is ’n danseres in Hongkong en sy broer is die vernaamde kunstenaar, Black Koki. Johnny is nie ’n struggling artist nie, alhoewel hy glo die struggle is belangrik. As kid het hy reeds verbasingwekkende tekentalent getoon, wat aangemoedig is deur sy ondersteunende familie wat hom die geleentheid gegun het om sy talent verder te ontwikkel by Pro Arte Alphen Park – ’n kunsskool in Pretoria. 

Johnny is nie ’n struggling artist nie, alhoewel hy glo die struggle is belangrik.
— Celeste Theron

Hy bieg dat hy kuns te ernstig opgeneem het, omdat dit vir hom ’n taal gebied het waarmee hy universeel kon kommunikeer, aangesien hy gevoel het dat sy taalvaardighede hom in die steek gelaat het. Nadat hy grafiese ontwerp by Inscape studeer het en vir ’n ruk in die industrie gewerk het as ’n animator en illustrator, het hy daarna gestrewe om iets meer tasbaars te skep met sy hande. Dis hier waar ek hom ontmoet het vir die eerste keer, vier jaar gelede, by ’n uitstalling van Anton Kannemeyer. Die youngster het ywerig met my gepraat oor kuns en so het die universe conspire dat ons toe uiteindelik saam werk by Riky Rick se Cotton Fest.

Op daai stadium het Johnny net murals in swart en wit geskep – daar was ’n gevoel vir beweging en vloeiende lyne. Elke vorm kom duidelik uit en mens kan voel dat dit ’n soliede liggaam is. Die geheel het ’n natuurlike eenvoud wat rustig en kalm lyk. Ek onthou toe hy vir my ’n voicenote stuur en sê hy oorweeg dit om een of twee kleure te begin byvoeg by sy murals. Die manier dat hy elke estetiese besluit noukeurig oorweeg het, het my verstom. Niks is lukraak aan sy werk nie. Hy is absoluut efficient.

Een aand by ’n partytjie jare gelede kom unpack hy my psige saam met sy kunssak (wat hy oral saamdra) en sê vir my presies wat hy van my dink. Hy vra my vir hoe lank gaan ek nog wegkruip agter my teater (Haus Babadada), terwyl hy elke kwas in sy sak uitpak en noukeurig vir my verduidelik waarvoor hy die gekose tools saamdra. Ek het gedink dis nogal voorbarig, maar iets begryp van sy ambisie. Drie jaar later het hy ontaard in die kunstenaar wat vandag hier voor my sit, bekend vir sy enorme helderkleurige murals wat hy voltyds skep vir Chicken Licken, met ’n span wat vir hom werk. 

Johnny is deesdae bedrywig op die pad en toer die land voos om murals te skilder in elke obskure hoek van die suidelike halfrond. Dit los hom met min ruimte om enige iets anders na te streef, maar hy is dankbaar vir hoe dinge in sy guns val. Sy dissipline en werksadel is te bespeur in sy vasgestelde leefwyse; hy vas, neem koue storte en probeer die daily struggle van menswees te embrace as ’n tool om homself te verbeter. “Mens moet nooit te gemaklik raak nie, dis wanneer mens ophou groei. Ek probeer myself gedurig uitdaag deur myself bloot te stel aan ongemak.” Dinge raak ongemaklik toe my sigaret heeltemal aan die brand slaan toe ek dit met ’n kers probeer aansteek. Hy lag en neem ’n video op sy foon tot daar niks meer van die sigaret oorbly nie. My aandag draai weer na sy werk, terwyl ek deur sy murals swipe op my foon. Sy Instagram page is keurig ge-curate.

In die begin lyk sy ordelike komposisies asof dit eenvoudig en moeiteloos tot stand gekom het: Sterk, diep kleure met helder ondertone trek mens onmiddellik in. Daar is ’n beklemtoning van duidelike en ritmiese vormverdeling oor die groot oppervlaktes wat hy skilder wat my ietwat aan Pierneef se stilistiese benadering herinner. Johnny beaam my voorgevoel oor Pierneef, maar sê hy was as kind in beroering gebring deur ’n boek oor MC Escher (1898–1972), ’n Hollandse grafiese kunstenaar en drukmaker wat roem verwerf het vir sy onmoontlike wiskundige komposisies wat perspektief heeltemal op sy kop gedraai het.

By nader betragting let ek op hoe hy kleur en lig gebruik om vorme in ewewig te hou om mens se oë langs bepaalde lyne te lei en dat sy oënskynlike harmonieuse komposisies glad nie so eenvoudig is nie. Sy kunswerke is opgebou uit veelvuldige vorms wat die indruk van ’n opeenvolging van lae tekstuur gee. Dit lyk asof hierdie vorme agtermekaar lê, wat ’n gevoel van diepte gee. Al is die voorwerpe vereenvoudig, kom dit nie vlak voor nie. Sy temas is meestal speels met ’n gevoel van optimisme. Hy erken dat hy die onderliggende optimisme gekweek het; dat hy doelbewus moes afstand doen van sy kunssinnige neiging om die lewe te ernstig op te neem en verwys spottend na homself as ’n kunstenar. Dis die limitations van ’n brief wat hom bevry: Om as kunstenaar sy vaardighede vir ander mense te offer, is die sleutel tot sy geluk.

Hy erken dat hy die onderliggende optimisme gekweek het; dat hy doelbewus moes afstand doen van sy kunssinnige neiging om die lewe te ernstig op te neem en verwys spottend na homself as ’n kunstenar.
— Celeste Theron

“You shouldn’t try to reinvent the wheel, you just need to build on that wall. Ek besef alte goed as kunstenaar steun ons op die skouers van ander mense se kreatiwiteit en ek probeer baie hard om deel te neem aan daai community. Deur myself met like-minded mense te omring.” En daai wall, wil ek weet, watter een het jou byna gebreek? Sonder om te huiwer antwoord hy: “Die een by Design Quarter verlede jaar. Dit was vier of vyf verdiepings hoog, 15 meter breed en pikdonker. Ek en my assistent, Thabang, kon slegs in die aande werk met ’n koplig of selfoonliggie en moes die mural in vier dae voltooi – terwyl my girlfriend my graag net wou sien.” Dit klink rof, moet ek toegee. “Dit was ’n watershed-oomblik vir my, waar ek besef het ek kan nie date terwyl ek hierdie najaag nie. Ek het ’n full-time mindset oor hierdie ding, en ek lean daarin. Ek het nie tyd om stability te offer nie – ek is maar ’n one man show, ’n lone wolf.”

Ons besluit op ’n tweede bottel wyn, terwyl die gesprek na ’n meer persoonlike rigting kantel. Soms, wanneer die ongemak hom onderdruk, slaan hy oor na Engels. Hy maak sy lang lokke agter sy kop vas en vertel my dat hy gelukkig genoeg is om deel te wees van ’n baie hegte gesin waarin hy aktief betrokke is. “My broer en my ouers speel ’n groot rol in my mentorship en is ’n groot deel van my process.” Sy ma is ’n kunstenaar en bedryf ’n wedding venue en sy pa is ’n oogspesialis. Wanneer hy nie verf nie, help hy van oggendstond af uit op hulle kleinhoewe. Hy wys vir my foto’s waar hy sy pa help spit aan ’n indrukwekkende tuin. Sy bruingebrande gelaat is nie skaam vir die son nie en glinster met die graaf in sy hand. Ek vra vir die rekening voor die son ons onkant vang – en besef hy het dit reeds betaal. Miskien is ek regtig Afrikaans, maar my calvinisme is in check. Ek bedank hom vir sy ruimhartigheid en besluit om iets van sy selfversekering te neem.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Johnny is nie dood nie: Hy werk aan 'n mural gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand