Rek, strek en zol: verhoog jou joga

Rek, strek en zol: verhoog jou joga
Illustrasie: Simóne Viljoen vir Klyntji

Illustrasie: Simóne Viljoen vir Klyntji

Meditasie ontmoet 420

So tussendeur al die neerdrukkende gevoelens wat gepaard gaan met ’n globale pandemie (en ’n grendelstaat, vroeër vanjaar) het ’n groep jogi’s ’n gaping raakgesien en ’n inisiatief in die kuberruim geskep. Hulle maak dagga-sigarette of CBD-olie deel van die aandagtigheidspraktyke wat hulle reeds beoefen, naamlik joga en meditasie. 

Marguerite Wolfaardt en Linnet Chihaka het Herb Flow saam begin. Hulle het mekaar ontmoet tydens hulle joga-onderwysersopleiding in Houtbaai en hulle gesprekke het onder meer gedraai by die inkorporasie van daggagebruik by die beoefening van joga. So het iets ontwikkel van ’n blote idee na ’n medewerking aan ’n joga-geleentheid — maandelikse aanlyn “herb-flow” in die gemak van jou eie huis. In die toekoms sal jogi’s dit moontlik ook kan doen in publieke natuurareas soos parke of op strande (indien die wette wat daarmee verband hou, verder verslap word).

Illustrasie: Simóne Viljoen vir Klyntji

Illustrasie: Simóne Viljoen vir Klyntji

Die klasse begin met ’n bekendstelling in die eerste halfuur van die klas sodat almal gemaklik met mekaar kan raak. Hiertydens kan jy deel hoekom jy dagga gebruik en hoe dit jou help in jou aandagtigheidspraktyke. Hierna volg ’n tipe yin-flow-jogaklas wat ontwikkel in tempo, maar nie ’n hoë-energie vloei vereis nie. Marguerite sê die klas is ontspannend van aard, en gaan gepaard met matige hoeveelhede dagga wat jou vlak van bewustheid verhoog en jou toelaat om meer teenwoordig in jou verstand en liggaam te wees. Sodoende kan jy meer aandagtig wees en gemakliker fokus op jou gedagtes en op hoe jy voel. Die klas sluit dan af met ’n meditasie-sessie wat die voorgenoemde positiewe elemente verder kan versterk.

Min dagga word aanbeveel — alhoewel gereelde gebruikers sal weet waar hulle limiete is, word daar aanbeveel dat jy eers navorsing doen en matigheid voor oë moet hou as die inname van THC vir jou nuut is. Marguerite sê spottend dat joga en ’n kop wat draai nie noodwendig pasmaats is nie. Soos met enigiets in die lewe, moet mens jou limiete ken, voeg sy by. Die algehele waarneming en bewustheid van die teenwoordigheid van jou liggaam en jou gedagtes moet sodra jy op jou mat klim, soos met enige jogaklas, jou hooffokus wees. Luister daarom na jou liggaam en wees bewus van jou reaksies.

Herb Flow Yoga is nie die eerste dagga-joga-hibriede wat in Suid-Afrika ontstaan het nie. Roxy Louw en Sam Barton behartig joga-retreats, wat hulle CannaYoga gedoop het. Op hulle webtuiste word hierdie praktyk beskryf as ’n kombinering van twee soorte antieke medisyne. Die gesamentlike gebruik van medisinale gereedskap, ontspannende joga en matige hoeveelhede dagga, kan ’n effektiewe manier wees om die druk van die moderne samelewing te verminder, en dit kan ook die simptome van stres, angs en depressie help verlig.

Linnet Chihaka en Marguerite Wolfaardt besig met herb-flow.

Linnet Chihaka en Marguerite Wolfaardt besig met herb-flow.

Dagga-joga is inderdaad nie ’n nuwe konsep nie. Dit het reeds groot opspraak gemaak in Kanada en in enkele state soos Kalifornië in die VSA, en die geskiedenis daarvan strek selfs verder as die hedendaagse praktyke. Histories is dagga deur verskillende kulturele en religieuse groepe gebruik, byvoorbeeld in Boeddhisme, Veda, Hindoeïsme, Rastafarianisme, en ook deur die Khoi-San. In heelwat van hierdie groepe is daar uitgangspunte wat die gebruik van dagga saam met aandagtigheidspraktyke óf goedkeur óf teenstaan. Groepe soos die Veda streef na suiwerheid van verstand en liggaam, en nie almal stem saam dat daggagebruik met joga en meditasie versoenbaar is nie. Aan die een kant word beweer dat daggagebruik vir rekreasie ’n soort ontvlugting is van pynlike emosies, veral as jy dit te veel gebruik, en dat dit angs kan veroorsaak en ’n negatiewe impak op jou verteringstelsel kan hê. Andersyds word joga en meditasie beskou as individuele stukke gereedskap wat jou kan help ontspan, teenwoordig en gefokus kan laat voel en kan help met beide geestes- en fisieke gesondheid. Deur hierdie praktyke met CBD en/of THC te kombineer, kan dit jou ervaring verryk en intensiveer, en dit kan jou selfs dieper en verder op jou innerlike aandagtigheidsreis neem. Tydens hierdie soort gebruik, is dagga dan iets anders as bloot ’n middel tot ontvlugting. Dit maak eerder deel uit van antieke medisinale praktyke wat spirituele voordele kan inhou, en wat jou geestesgesondheid kan bevorder.

Eindelik gaan dit oor wat vir jou werk, met die oog op wat jy glo en hoe jy jou eie idee van spiritualiteit, aandagtigheid en rekreasie definieer. Die pandemie het heelwat van ons gewys dat ons alles bietjie stadiger kan vat en ’n minder gejaagde leefstyl kan handhaaf, en (aanlyn-)joga, dagga en meditasie is drie praktyke waardeur dit aangehelp kan word in ’n land waar jy wettiglik mag spliffies rook in die veiligheid van jou huis. 

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Rek, strek en zol: verhoog jou joga gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand