'n Lys van Afrikaanse en plaaslike podsendings

'n Lys van Afrikaanse en plaaslike podsendings
118472277_676737592923591_3257102184421175909_o.jpg

Ons het Klyntji-lesers gevra waarna hulle luister

Podsendings as medium moedig persoonlike en meer oop gesprekke aan. Dit is makliker as om iets finaal tot teks te omskryf — in podsendings is daar dikwels ’n liminaliteit wat behoue bly, iets meer ongebonde. En dié medium is gewild. Ons het ons lesers op Instagram gevra watter Afrikaanse en Suid-Afrikaanse podsendings hulle na luister. Die aanbevelings wat ons ontvang het, word hier gedeel. Die lys is dus nie volledig of besonders streng gekeur nie en jy kan addisionele voorstelle hieronder maak. En wie weet, dalk is daar eendag ’n amptelike Klyntji-podsending. Terloops, volgens Klyntji se stylgids verkies ons “podsending” bo “potgooi” – laasgenoemde klink effe braakagtig.


huiDIG

huiDIG is ’n podsending waar twee regstudente, Michelle Oelofse en Brigitte Geyer, die Afrikaanse poësie verken. Afrikaanse digkuns, oud en nuut, word in die konteks van vandag geplaas in hierdie lighartige verkenning van die betowerende krag van poësie. Dié podsending het reeds in 2019 ontstaan en hulle trek al by 33 episodes. Daar was ook al ’n Klyntji-storie oor huiDIG.

Luister die podsending hier.


Air It

Air It is ’n feministiese en kuns-podsending met filosoof Jana Vosloo en kunstenaar Nicolene Burger. Deur verskillende kultuurtekste en teoretiese dissiplines op eklektiese wyse te gebruik, probeer Vosloo en Burger om hedendaagse denkwyses binne die Suid-Afrikaanse konteks te ontwortel, te ontrafel en te herdefinieer. In elke aflewering ontleed hulle ’n kulturele teks om dubbelsinnighede, waardegapings en verouderde idees in die Suid-Afrikaanse diskoers aan te spreek. Deur hierdie kwessies in die openbaar “te air”, hoop hulle om gesprekke op te wek sodat broodnodige verandering aan die gang gesit kan word om ’n meer inklusiewe en meelewende (medelyende, compassionate) samelewing vir almal te skep.

Luister hier.


Sitkamer

Sitkamer is ’n podsending vir enigeen wat belangstel in gesprekke oor Afrikaanse letterkunde. Met ’n uitgesoekte geselskap neem Mercy Kannemeyer die leiding in die eerste gesprek tussen Bibi Burger, Earl Basson, Janien Linde, Alwyn Roux en Remona Voges-Van Huyssteen oor die betekenisassosiasies van ’n sitkamer. Daarnaas gesels Alwyn met Yves T’Sjoen oor die Gentse Sentrum vir Afrikaans en die Studie van Suid-Afrika, en Mercy voer ’n gesprek met die PC Hooft-pryswenner vir poësie Alfred Schaffer. Angie Gallagher is Sitkamer se formidabele redigeerder en Franco Prinsloo die komponis agter die temalied. Die podsending word geborg deur die Afrikaanse Taalraad en die Internasionele Vereniging vir Afrikaans.

Luister hier.


WAT met Willim Welsyn

“Gesprekke met mense WAT al goeters gedoen het.” Kyk maar net na die wye verskeidenheid mense met wie Willim Welsyn al gepraat het oor etlike jare heen – tans meer as 170 episodes. Die pluimpie van aanhouer wen kom hom toe. Sy eerste gas was boonop die Ons Klyntji-redakteur Toast Coetzer. Hierdie podsending is ’n ware kultuurbate.

Luister hier.


The South African-ness

Die drie stigters van Veldskoen, Nick Dreyer, Ross Zondagh en Nic Latouf, gesels met innoverende, veerkragtige Suid-Afrikaners wat wonderlike dinge buite Mzanzi doen. In die podsending word die idee van Suid-Afrikaansheid (as beskrywende naamwoord) verken: ’n Gemoedstoestand. ’n Hartstoestand. Die versameling van eienskappe en houdings wat iemand as lid van die reënboognasie identifiseer.

Luister hier.


Mannetjiesvrou

’n Podsending vir die Afrikaanse lesbiër. Leer jou les.

Hierdie podsending deur Angie Gallagher, Candess Kostopoulos, Christi Kruger en Phia Smit is voorheen op Klyntji gefeature – sien die storie hier.

Luister die podsending hier.


Subteks

’n Voormalige weeklikse program oor skrywers, digters en boeke met Zalman S Davis. Dit is Saterdae- en Woensdagaande op drie FM-radiostasies uitgesaai en is ook aanlyn in podsending-formaat beskikbaar.

Luister hier.


Coffee with Candice

Sluit aan by die aktivis, skrywer en Vogue se “mees inspirerende vrou” Candice Mama vir ’n koppie koffie. Sy voer openhartige gesprekke met slimkoppe, visioenêre, musikante, veranderingmakers, gedagteleiers, mees-gesoekte vlugtelinge en merkwaardige skrywers. Sy ondersoek wat dit is wat tot hierdie oomblik gelei het en wat ons kan leer om ons lewens se volle potensiaal te ontsluit.

Luister hier.


For Water For Life

Die For Water For Life reeks beklemtoon die stories, waarde en die skaarste van water in suidelike Afrika. Dit word gedoen deur boeiende storievertelling en hoë produksiegehalte. Gugulethu Mhlungu en Sekoetlane Phamodi is die aanbieders en ontmoet gaste wat dit hulle lewenswerk gemaak het om ons water te bewaar in die hoogs ongelyke en waterskaarse Suid-Afrika. Die uitdagings ervaar deur en die insigte van geoloë, genesers, innoveerders, boere, organiseerders en aktiviste word ondersoek, aan die hand van inheemse kennis en voorpuntwetenskap.

Luister hier na die water.


Azille Coetzee: In my vel, in ons taal

Toe Ronèl Geldenhuys en Netwerk24 vir Azille Coetzee genader het om ’n podsending te maak, het sy dadelik geweet sy wil die geleentheid gebruik om weereens in die psige van die Afrikaanse kultuur van die oomblik te grawe. Die reeks neem die vorm aan van ses gesprekke met Afrikaanssprekendes: Marita van der Vyver, Ronelda Kamfer en Nathan Trantraal, Mercy Kannemeyer, Dana Snyman, Kabous Meiring en Chase Rhys. Wat beteken dit om vandag Afrikaans te praat en in Afrikaans te skep; hóé is ons vandag besig om Afrikaans te wees? “Taal is happening, bru.”

Luister hier.


So loop hy maar

Aangebied deur Niel Nogsteeds en Pietie Beyers: So Loop Hy Maar, Die Lewe en So. 71 episodes oor alles en niks.

Luister hier.


Wat de vloekwoord

Wat de vloekwoord is ’n reeks waarin die standpunte en houdings van inhoudskeppers in die vermaaklikheidswêreld en die media oor vloek en taboe onderwerpe ontgin word. Deur onderhoude met bekende (Afrikaanse) skrywers, TV- en filmvervaardigers, regisseurs, akteurs, musikante, redakteurs, joernaliste, podsenders en bloggers leer die luisteraar meer oor sensuur in Suid-Afrika, wat die funksie van vloek is, hoe kykers en luisteraars op vloekwoorde reageer, ensovoorts.

Luister hier.


Tafelmaniere

’n Podsending deur Fredrick Kotzé wat sy gedagtes rondom die Afrikaanse taal en kultuur en Suid-Afrika deel. “Hierdie taal is ’n wille taal, met meer buierigheid as ’n tiener wat nie sy iPhone kan vind nie.”

Luister hier.


Fearless & Unfiltered

Lidia Rauch praat met Suid-Afrikaners uit alle oorde oor die samelewing en wat inklusiwiteit en transformasie vir hulle beteken, en hoe hulle glo dat ons agentskap gebruik kan word om ongelykheid effektief aan te spreek.

Luister hier.


Het ons iets gemis? Deel jou voorstel met ons

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van 'n Lys van Afrikaanse en plaaslike podsendings gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand