Renaldo Schwarp oor die paradoks van gaywees

Renaldo Schwarp oor die paradoks van gaywees

Illustrasie: @wynona.art via @brandonleefred

Datings apps, verhoudings en verder

Ek maak die Grindr app op my foon oop. Ek sien amper dadelik dat daar ’n 34-jarige man met washboard abs en ’n wit jockstrap sowat 350 meter van my af is. Hy noem homself “BiDiscreetTop” en in sy profiel verklap hy — sonder skaamte — dat hy so gou moontlik seks soek en nudes aanvaar.

Soos ek verder scroll, vind ek honderde soortgelyke profiele; almal binne ’n radius van een kilometer vanaf my woonstel in Bloemfontein se noordelike voorstede. Op Grindr kan gay mans met die druk van ’n knoppie hulle liggaamlike begeertes bevredig — dis nou indien jy die soms weeklange back-and-forth geselsies kan vryspring. Jy kan dit selfs filter volgens liggaamstipe, seksuele posisie-voorkeure en MIV-status.

Voor ons aangaan, is dit belangrik om melding te maak van die wêreldwye vordering wat ons die afgelope twee dekades gemaak het om gay verhoudings (in van sy vorme) in die hoofstroom te vertoon, en hoe dinge verander het.

Toe ek nog op hoërskool was, moes ’n mens doelbewus gay dinge gaan uitsoek — daar was ’n sosiale taboe daaraan. Deesdae is hierdie dinge soveel meer toeganklik en volop. Jy hoef nie eens te gaan soek nie, jy maak net ’n app op jou foon oop en jy kan kies en keur.  

Wanneer ons verhoudings in die LGBTQI+ gemeenskap onder die loep neem, moet ons oor die opkoms van die ondergrondse digitale bathhouse Grindr gesels. Die app met miljoene daaglikse aktiewe verbruikers, is oorspronklik ontwerp om gay mans te help om seks, vriendskap en ook verhoudings, dikwels anoniem, aanlyn te vind. Daar is ook die opsie om jou pronouns bekend te maak, wat natuurlik die app toeganklik maak vir ’n groter verskeidenheid mense — nie noodwendig net gay mans nie.

Hoewel ons die voordele van apps soos Grindr, Scruff en selfs Instagram nie mis kan kyk nie, wonder ek of hierdie manier van na verhoudings (seksueel en/of romanties) soek nie ’n negatiewe impak op die geestesgesondheid van ons as gay mans het nie, en die manier waarop ons verhoudings sien en benader.

’n Onlangse studie van Stonewall, een van Brittanje se voorste lesbiese, gay, bi en trans equality organisasies, beklemtoon hierdie bekommernis van my. Die navorsing wys dat LGBTQI+ persone ’n hoër risikofaktor vir depressie, angs en ander geestesongesteldhede toon as die res van die bevolking.

Die redes hoekom baie van ons enkellopendes, of dié wat in oop verhoudings is, ons amper daagliks op hierdie app bevind, is legio. Om aan te neem dat almal van ons bloot net seks soek, is ook nie heeltemal die waarheid nie. Dis eintlik heelwat meer gekompliseerd.

Onlangse navorsing oor verbruikerspatrone op Grindr wys dat mense dit gebruik om eensaamheid te ontsnap, om sosiaal te verkeer, of om ’n bietjie opwinding in hulle (seks-)lewens in te bring. Dan is daar dié van ons wat dit gebruik omdat ons ’n bietjie verveeld is, of diegene wie se nuuskierigheid bloot die oorhand kry. Ander gebruik dit ook net wanneer hulle ’n bietjie van ’n ego boost nodig het — laasgenoemde is ek beslis self van skuldig.

Nodeloos om te sê gay verhoudings is soveel meer as net die liggaamlike, en dis hoekom dit uiters belangrik is om hierdie tipe beelde en narratiewe te centre wanneer ons hieroor gesels. 

Gay persone is nie meer of minder pervers, losbandig of seksueel aktief as ons straight eweknieë nie. Ondanks wat die samelewing ons wil laat glo.

Gay persone is nie meer of minder pervers, losbandig of seksueel aktief as ons straight eweknieë nie. Ondanks wat die samelewing ons wil laat glo.
— Renaldo Schwarp

Dis iets wat Brandon-Lee Fredericks, ’n digitale bemarker van Kaapstad en LGBTQI+ influencer, sterk in glo. Brandon-Lee gebruik sy sosialemediaplatforms om bewustheid en gesprekke rondom LGBTQI+ kwessies en verhoudings te kweek. 

“Sex sells” lui die ou gesegde. En dis waar, maar terwyl ons deesdae so gewoond is daaraan om gay kuierplekke en produkte met eufemismes en gespierde mans in Jockeys te sien, moet ’n mens jouself afvra of die stigma rondom ons seksualiteit skade aanrig.

“Daar is steeds ’n groot deel van ons bestaan wat gestigmaseer is as queer persone. Dit blyk dat ons nie ware liefde kan vind nie, omdat dit lyk asof ons as ’n gemeenskap nogal toxic is. Daar is steeds soveel negatiewe konnotasies aan gay verhoudings, maar dis maar net deel van die stigma. Die werklikheid staan natuurlik in sterk kontras,” verduidelik Brandon-Lee.

Hoe lyk 'n hedendaagse gay verhouding nou eintlik?

Aan die einde van 2020 het Brandon-Lee aan sy kêrel van drie jaar, Marvin Cupido, verloof geraak en hulle beplan om binne die volgende paar maande die knoop deur te hak. 

Ná ongeveer ’n jaar sedert sy verlowing, het ek by hom gaan aanklop om ’n bietjie meer te hoor oor hierdie stigma wat steeds by gay persone en hulle verhoudings spook.

“Ek moet eerlik wees, dit is soms moeilik om liefde te vind as gay persone. Want ons gaan deur soveel lewensfases wat jou meer oor jouself leer. Selfontdekking en -aanvaarding wat nogal belangrik word soos ons gemaklik met ons seksualiteit raak. Dan moet jy nog die journey van ontdekking doen met die ander persoon. Jy moet egter eers gereed daarvoor wees.”

Hy erken dat ons as mense — gay en straight — maar almal seksuele wesens is en dat ons nie dit net kan oorkyk nie. 

“Seks is deel van alles, maar dit definieer nie ’n verhouding nie. Die feit dat gay persone oorgeseksualiseer is, moet ons as individue nie beperk nie. Seks is maar net ’n klein gedeelte van my verhouding en wie ek as gay persoon is. Daar is meer as net seks aan my en my verhouding. Dis hoekom dit belangrik is om die ander gedeeltes van my lewe en verhouding ten toon te stel.”

sigbaarheid van Gay verhoudings in die media

Die werklikheid is dat dit in 2021 steeds skaars is om TV-programme en flieks te vind wat gesonde LGBTQI+ verhoudings wys.

Die hoofstroommedia beklemtoon gans te gereeld dat heteroseksualiteit die norm is, veral wanneer dit by dinge soos liefde en seks kom. En as jy die konserwatiewe uitkyk van die Afrikanerkykersmark daarby voeg, dan word dit duidelik dat persone wat nie volgens hierdie heteronormatiewe morele kompas leef nie, nie inpas nie.

In 2020 het die Kanadese komediereeks Schitt’s Creek skoonskip by die Emmys gemaak toe hulle ’n rekordgetal van nege toekennings by dié spoggeleentheid ingepalm het. Al nege welverdiend, maar die program se waarde lê nie so erg by die erkenning wat Tinseltown dit gee nie, liewer by die impak wat dit op kykers gehad het en steeds het.

Die verhouding tussen die karakters Patrick Brewer en David Rose kan beskou word as ’n grensverskuiwende storielyn vir LGBTQI+ verteenwoordiging in die hoofstroommedia.

Indien jy nog nie dié Netflix-program gekyk het nie (ek beveel aan jy doen — so gou moontlik), volg die storie die gewese-ryk Rose-gesin, wat geforseer word om in ’n motel in ’n amper-verlate dorpie te gaan woon, ná hulle al hul rykdom in ’n finansiële fiasko verloor.

Dis die romantiese verhouding tussen David (wat as panseksueel identifiseer) en Patrick (gay) wat my en sekerlik ook miljoene ander LGBTQI+ aanhangers se uitkyk oor gay verhoudings ietwat verander het.

Hulle verhouding word van die staanspoor af genormaliseer. Ons sien hoe hulle mekaar kys, hulle eerste date, en ook die oomblik waarin hulle vir die eerste keer sê dat hulle lief vir mekaar is. En wie kan dan daardie traantrekker cover van Tina Turner se ‘The Best’ vergeet!

Die feit dat hulle twee mans is, word eintlik maar ’n onbenulligheid. Hulle word en is soveel meer as net hulle seksualiteit. 

As ons ’n bietjie dieper na die impak hiervan kyk, is dit ook ooglopend dat daar geen storielyn oor homofobie is wat hulle verhouding omsingel nie. Iets wat ek as gay man al so gewoond aan geraak het, dat ’n mens sekerlik na reekse soos hierdie kyk in afwagting daarvoor. 

Vir baie LGBTQI+ mense is hierdie gevoel van algemene aanvaarding ’n nodige gerusstelling. Dit is selde dat ’n LGBTQI+ verhouding uitgebeeld word sonder ’n sweempie van negatiwiteit of vooroordeel.

Iets wat ons beslis meer van moet sien — veral op eie bodem.

In April 2019 het die kopieskrywer en podsendingaanbieder Angie Gallagher ’n ondersoek ingestel na die verteenwoordiging van homoseksualiteit op Suid-Afrikaanse televisie oor die jare. Haar bevindings, gepubliseer in die gay nuusblad Mambaonline, bevestig dat hoewel daar beslis vordering oor die jare was — veral in Afrikaanse film en TV — moet baie steeds gedoen word om volwaardig en volronde verteenwoordiging te bewerkstellig.

“Eerstens, dis belangrik dat daar nou queer karakters op die kassie is. Die blote feit dat daar sigbaarheid is, is belangrik genoeg. Ons moet wel hierdie sigbaarheid krities evalueer, maar ook ondersteun wanneer nuwe queer werk uitkom. Wat ook baie sal help is as gay persone ’n bietjie meer ingesluit word in die proses om hierdie tipe inhoud te skep, want dan sal dit nie erg onder scrutiny kom van die queer gemeenskap nie,” verduidelik Angie aan my via ’n Zoom-oproep.

Suid-Afrika is steeds maar ’n konserwatiewe en homofobiese land. Nie so erg op papier nie, maar beslis in werklikheid.

Dit is dus nie verbasend nie dat byna elke keer as ons LGBTQI+ verhoudings op die kassie sien, daar ’n groot rompslomp van mense is wat briewe skryf om te kla, sosiale media toe hardloop om hulle haatspraak te spuug, en selfs dié wat so sterk daaroor voel dat hulle sommer ook fliekteaters boikot — Inxeba se 2018-bekendstelling is ’n perfekte voorbeeld hiervan.

Ons het hierdie selfde tipe reaksie gesien toe 7de Laan hulle eerste gay soen in 2017 gebeeldsend het en ook toe Boer Damian (wat uiteindelik nou ook sy pot se deksel gevind het) sy eerste verskynsel op kykNET se gewilde pasmaatprogram Boer Soek ’n Vrou gemaak het. 

“Selfs wanneer gay karakters in gewilde TV-reekse die woede van sommige konserwatiewe kykers ontlok, kan die belangrikheid van hulle bestaan ​​in die populêre kultuur nooit oorbeklemtoon word nie,” voeg Angie by. 

Dit is wel interessant om daarop te let dat flieks soos Kanarie (2018) en Moffie (2019) amper die teenoorgestelde kykersreaksie as die laasgenoemde ontlok het. 

Eersgenoemde het reeds tientalle toekennings opgeraap by die 2019-Silwerskermfees. Dié toekennings sluit onder meer in die toekenning vir beste speelfilm en vir beste regisseur. Op internasionale gebied is Kanarie in Chicago by die 36ste Reeling Film Festival vereer met die toekenning vir die beste narratiewe film. Dit is ook so ’n paar weke daarna by die 31ste OUT on Film Festival in Atlanta, Georgia met ’n toekenning vir beste internasionale film, sowel as beste narratiewe film, vereer.

Dit was dieselfde geval toe kykNET & Kie se telenovella Arendsvlei hulle gay storielyn met Roberto Kyle en Craig Adriaanse se karakters begin het. Beide die flieks en die reeks word tot vandag toe nog met lof besing, nie net deur kritici en die relevante mediasirkels nie, maar ook deur dieselfde konserwatiewe gehore wat ’n paar jaar vantevore ’n moerse bohaai gemaak het oor ’n viersekonde piksoen in Oppiekoffie.

Sekerlik ’n teken van vordering? 

Teen die begin van 2020 was dinge in werklikheid vir gay paartjies egter nie noodwendig veel beter nie. In ’n jaar waartydens die Covid-19-pandemie amper alle ander nuus verdring het, het die Beloftebos-debakel plaasgevind. 

In kort: ’n Kaapstadse paartjie kon nie hulle troubeloftes by dié gewilde trou-venue maak nie, bloot omdat hulle gay is. Die paartjie het in die daaropvolgende weke aan die media verduidelik dat hulle deur die eienaars van Beloftebos op Stanford in kennis gestel is dat Beloftebos “vanuit ’n persoonlike geloofsoortuiging nie gasheer kan wees vir troues tussen paartjies van dieselfde geslag nie”. 

Dit was nie die eerste keer dat so iets gebeur nie. Dié venue was in 2017 weens dieselfde rede in die nuus toe Alex Thorne en Alex Lu ook weggewys is.

Hoe kan dit nog wees dat mense steeds glo hulle kan hulle haat en dwepery regverdig en dan geloof as verskoning gebruik? Vooroordeel is vooroordeel, ongeag die erns daarvan of poging om dit te regverdig.

Hoe versoen ek my sigbaarheid met my veiligheid?

Positiewe sigbaarheid rondom gay verhoudings speel nie net ’n rol daarin om die siening van die samelewing oor queer mense te verander nie, maar help ook diegene wat met identiteitpolitiek worstel om veilig te voel om hulle liefde/verhouding voluit te leef.

Die 2020-Beloftebos-saga het vir maande in die media gedraai, soveel so dat dit mettertyd moeilik geraak het om met die verwikkelinge by te bly. Die debakel het wel baie onsekerhede oor gay verhoudings en oor die teenwoordigheid (ook sigbaarheid) daarvan by my ontwaak:

“Hoe lyk dit?”
“Wanneer is dit okay om dit te wys?”
“Tot watter mate mag ek dit wys?”
“Is my begeerte aan konneksie net welkom op apps en beperk tot die liggaamlike?”
“Wie bepaal wat appropriate is en wat nie?”
“Hoe versoen ek my sigbaarheid met my veiligheid?”

Dit is sekerlik ’n tipe paradoks wat ons as gay pesone vrede mee moet maak in ons soeke na liefde. Dr Louis van der Riet, wat in Maart 2019 die eerste openlike gay persoon geword het wat in die NG Kerk as leraar beroep is, het hierdie paradoks perfek verwoord tydens ’n gay troue wat ek so ’n paar weke ná die Beloftebos-saga begewoon het:

“Al leef ons met die ironie dat liefde — queerliefde — verdeeldheid en verwerping by ander kweek, weet ons dat julle liefde ’n teken van hoop en protes is teen ’n wêreld wat nie liefde weerspieël nie.” 

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Renaldo Schwarp oor die paradoks van gaywees gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand