Rooi Rose: Handelsmerk van die Wit Afrikaanse vrou?

Rooi Rose: Handelsmerk van die Wit Afrikaanse vrou?

Jy kan alles wees, solank jy slank, getroud en godvresend bly, sê die Susterbond

Die Wit Afrikaanse vrou, haar belangstellings en haar identiteit is al deur menigte navorsers bevraagteken en bewonder. Maar hoe sien die media haar en stem hierdie siening ooreen met die navorsing daaroor? 

Die Afrikaanse vrouetydskrif Rooi Rose is al sedert 1942 in publikasie. Sedertdien het Rooi Rose haarself nie net as suksesvolle tydskrif gevestig nie, maar as handelsmerk van die Wit Afrikaanse vrou. Met die indelf in hierdie kulturele artefak, wou ek uitvind: Hoe verteenwoordig Rooi Rose en haar redaksionele filosofie die identiteit van die Wit Afrikaanse vrou post-apartheid? Is ek hierdie vrou wat Rooi Rose uitbeeld? Of is ek iets anders, iets wat glad nie in haar bladsye pas nie? Ek het besluit om my honneursstudie in uitgewerswese aan die Universiteit van Pretoria (UP) te wy daaraan om hierdie vrae te ondersoek, deur sistematies te kyk na hoe die Wit Afrikaanse vrou ná apartheid in dié tydskrif voorgestel word, en of die ruimte aan haar toegelaat word vir verskeie identiteite, nie net een enkele identiteit nie. 

Die media, en veral kulturele artefakte soos tydskrifte, speel ’n enorme rol in die identiteitskepping van ’n kultuur en kultuurgroep. Hierdie identiteitskepping is veral ter sprake wanneer politiese en sosiale verandering plaasvind in die kultuur en/of kultuurgroep. Wat ek tydens my analise bevind het, is dat die rol van redakteurs en uitgewers doodeenvoudig afgeskryf word – asof tydskrifte hulleself maak en publiseer. Maar elke bladsy, elke beeld, elke byskrif is ’n keuse. ’n Keuse wat iets sê oor wie jy – die leser – is, of veronderstel is om te wees. Publikasies, en die mense agter hulle, dra ’n reuse verantwoordelikheid om identiteitsuitbeelding ernstig op te neem. ’n Tydskrif is nie net papier en glans nie – dit het ’n kulturele impak. Dit beïnvloed hoe ons onsself sien en hoe ons leer om ander te sien. En in ’n land soos Suid-Afrika is die onderwerp van identiteit nie net ’n warm saak nie; dis ’n pot wat altyd op kookpunt bly.

’n Tydskrif is nie net papier en glans nie – dit het ’n kulturele impak. Dit beïnvloed hoe ons onsself sien en hoe ons leer om ander te sien. En in ’n land soos Suid-Afrika is die onderwerp van identiteit nie net ’n warm saak nie; dis ’n pot wat altyd op kookpunt bly.
— Lezli Edgar

My ondersoek is gebaseer op kriteria wat uit bestaande navorsing oor media, feminisme en die Afrikaanse kultuur handel (sien Sonnekus, 2014; Coetzee, 2021 en 2025; en Wasserman, 2009). Hierdie kriteria is ontwikkel om gebruik te word as maatstaf vir die voorblaaie en redakteursbriewe van Rooi Rose se Januarie-uitgawes tussen 2000 en 2022. Die samestelling van ’n tydskrif bestaan uit die visie, onderwerpsinhoud, skryfstem, styl, leser, marknis, formaat en ontwerp. Al hierdie elemente maak die redaksionele filosofie van die tydskrif op, wat uiteraard die “brand” is wat die tydskrif aan die wêreld uitbeeld. Die redaksionele filosofie word ook deur die uitgewer van die tydskrif beïnvloed, omdat dié entiteit die groter geheel van die tydskrif se verteenwoordiging oorsien. (Rooi Rose het oorspronklik aan die Nasionale Pers behoort voordat dit tot 2020 ’n tuiste by Caxton House gekry het. Teen einde 2021 het Habari Media Rooi Rose oorgekoop en weer in sirkulasie gebring. Vanaf 2025 is Novus Media die uitgewer van Rooi Rose.)

Christi van der Westhuizen (2016 en 2017) se navorsing — wat ordentlikheid as die Wit Afrikaanse vrou se kenmerkende eienskap identifiseer en ondersoek hoe die patriargie Wit Afrikaanse vroue steeds inperk — is toonaangewend in die bestaande navorsing rondom hoe Wit Afrikaanse vroulikheid gemeet en gekonstrueer word. Azille Coetzee (2021) omskryf ook die Wit Afrikaanse vrou, oftewel die volksmoeder, se verantwoordelikhede en pligte. Theo Sonnekus (2014) beskryf verder die Wit Afrikaanse vrou se kenmerkende eienskappe as Wit, Afrikaans en christen. Hettie Mans en Jenni Lauwrens (2013) brei uit deur te sê dat die Wit Afrikaanse vrou se christelike, middelklaslewe haar in staat stel om Wit nasionalistiese ideologie uit te leef (en te laat voortleef). 

Omdat my analise gerig is op beide die voorblaaie en redakteursbriewe, het die analise ook antwoorde gegee op wat presies Rooi Rose se redaksionele filosofie is: Die tydskrif teiken die Afrikaanse vrou wat op soek is na betroubare inligting rakende die komplekse fasette wat haar lewe opmaak, en stel dit aan haar voor op ’n “stylvolle, sinvolle” manier (aldus die tydskrif se slogan).

Rooi Rose se visuele voorkoms het aansienlik verander in die ondersoekte tydperk. Onder Caxton House en met Martie Pansegrouw as redakteur, het Rooi Rose se visuele voorstelling ’n streng formule gevolg van 8 tot 11 dekbladreëls aan die linkerkant, met die model geposisioneer aan die regterkant van die voorblad. Onder Habari Media en redakteur Anlie Janse van Rensburg het die tydskrif ’n heel nuwe baadjie aangetrek. Die huidige Rooi Rose is visueel vergelykbaar met internasionale vrouetydskrifte soos Marie Claire en Vogue – dink hoëgehalte-fotografie, -formaat en uitleg wat deur minimalisme die moderniteit van die tydskrif en die Afrikaanse vrou beklemtoon.

Die tydskrif stel ’n magdom onderwerpe aan die Wit Afrikaanse vrou voor. Van resepte tot seks tot tegnologie – maar hierdie onderwerpe dra wel nie ewewig in die oë van die tydskrif nie. Resepte is die tydskrif se mees bespreekte onderwerp. Seks is welkom, maar eers ná 2019. Buitendien, as dié onderwerp geopper word, handel dit ook oor die negatiewe aspekte daarvan. “Haal die pyn uit pynlike seks” (Desember-uitgawe, 2022) is hoe een dekreël lui. Ook eers toe, in 2019, begin die tydskrif artikels oor tegnologie publiseer. In 2022 vra die tydskrif of kunsmatige intelligensie die (Wit, Afrikaanse?) vrou se werk gaan oorneem (Maart-uitgawe, 2022). Stereotipiese Wit Afrikaanse vroulikheid word (nog steeds?) voorkeur gegee in die gefasiliteerde gesprekke tussen die tydskrif en leser. Hoewel Rooi Rose erken dat die Wit Afrikaanse vrou meer as net ’n vrou en ’n ma is, handel die oormeerderheid dekreëls hieroor – “Ma is moeg…”'; “Ek voel niks vir my man nie”, “Bou ’n band met jou kind” (Maart-uitgawe, 2020; Maart-uitgawe, 2022), en so meer. Mode, skoonheid en gesondheid is ook onderwerpe waaraan Rooi Rose aandag skenk. Ander interessante bevindinge is dat die Afrikaanse vrou meer geneig is om alkoholinname as ontspanningsaktiwiteit te beskou, en dat sy Kersfees skei van christenskap. 

Hoewel dit geargumenteer kan word dat die tydskrif ’n platform skep wat toelaat dat die Wit Afrikaanse vrou haar identiteit buite stereotipiese verwagtinge ondersoek en omhels, blyk dit vanuit my analise dat die Wit Afrikaanse vrou se heteroseksualiteit, christenskap en gesin volgens Rooi Rose die kern van haar identiteit bly. Sy hoef byvoorbeeld nie preuts te wees om haar ordentlikheid te behou nie. Sy heg moontlik waarde aan die huwelik, maar sy kan geskei wees. Sy kan ook ’n enkelma wees. Dit gee ’n aanduiding dat Rooi Rose ’n meer diverse Afrikaanse vrou wil verteenwoordig. 

Tot ’n mate kry die tydskrif dit reg, maar die band van die voorskoot is dubbelgeknoop. ’n Tydskrif wat jou vertel jy kan alles wees, solank jy verkieslik slank, getroud en godvresend bly. Patriargie? Check. Minki van der Westhuizen en Rolanda Marais op repeat? Dubbel-check. Dié twee Wit Afrikaanse vroue het al die meeste op Rooi Rose se voorblad verskyn. Beide het al swanger gepronk op die voorblad, en afgesien van hulle afsonderlike, gerespekteerde loopbane, bly gespreksaanknopingspunte hulle ma-wees en hulle huwelike.

Ander glanspersoonlikhede soos Jo-Ann Strauss en Crystal-Donna Roberts (RIV) verskyn ook ’n hele paar keer op Rooi Rose se voorblaaie. Roberts was die eerste Bruin Rooi Rose-voorbladmodel wat met haar natuurlike hare op die voorblad verskyn het, wat ’n betekenisvolle verskuiwing in die publikasie se visuele voorstelling en insluitingspraktyke aandui. Dit het wel eers in 2019 gebeur, 25 jaar ná Suid-Afrika tot demokrasie oorgegaan het. Hier herinner ek jou: Afrikaans is nie ’n taal eksklusief aan een rassegroep nie. 

In hierdie opsig is dit die moeite werd om te noem dat Rooi Rose diversiteit ondersteun, maar nie soveel as wat hulle kan nie. Vroue van verskillende rasse en ouderdomme moet meer gereeld op die tydskrif se voorblaaie verskyn, wat sal bydra tot die beeld dat Rooi Rose as handelsmerk Afrikaanse vroue in geheel ondersteun en help lei tot die vorming van ’n nuwe, inklusiewe, vroulike, Afrikaanssprekende identiteit ná apartheid.

Die tema van sussies-wees word ook etlike male deur Rooi Rose opgehaal. Die romantisering van die Susterbond (if you will), veral in terme van feminisme, is dat ’n voorafbepaalde eenheid onder vroue geen weerstand teen patriargale onderdrukking bied nie. Verder, as vroue se opinies en oortuigings oor feminisme slegs aan hulle geslag en ras gekoppel word, sal feminisme as ’n gesprekstema uitsterf.

So, hoe verteenwoordig die tydskrif Rooi Rose en haar redaksionele filosofie die identiteit van die Wit Afrikaanse vrou post-apartheid? In geheel kan Rooi Rose beskou word as ’n tipe gids vir die Wit Afrikaanse vrou in die 2020’s. ’n Gids wat haar aanmoedig om haar individualiteit te aanvaar en om self ’n identiteit te skep wat by haar steeds-veranderende rol en waardes binne die samelewing en haar kultuur pas. Rooi Rose verkoop die droom van diversiteit, maar net as dit nie die voorblad se glans verdof nie. Sy beeld nog haar ordentlikheid uit met die live laugh love-bordjies op haar kombuismure, maar daai voorskoot is steeds styfgeknoop, selfs al is die kombuis nou oopplan.

Sy beeld nog haar ordentlikheid uit met die live laugh love-bordjies op haar kombuismure, maar daai voorskoot is steeds styfgeknoop, selfs al is die kombuis nou oopplan.
— Lezli Edgar

Lezli Edgar doseer uitgewerswese aan die Universiteit van Pretoria met ’n navorsingsfokus op Wit Afrikaanse identiteit in tydskrifmedia ná apartheid. Haar huidige studie ondersoek hoe die Wit Afrikaanse man – van die boer en die jagter tot die ontblote model – verbeeld en verkoop word in Landbouweekblad, Wild & Jag en Loslyf.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Rooi Rose: Handelsmerk van die Wit Afrikaanse vrou? gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand