Joernaal van 'n inkommer

Foto’s verskaf
Opdaag en oplet is die teengif vir 'n gevoel van ontheemding, skryf Risha Lötter
Vanoggend word ek wakker met ’n naamlose hartseer in my lyf. Ek gooi al my deure oop, maak vir my ’n koppie koffie en gaan sit op die dek. Voor my ’n volmaakte uitsig oor die woud. Dis winter, maar na ’n klompie reëndae sê die weervoorspelling dit gaan vandag bloedig warm word. Reeds tuimel ’n warm wind deur die huis; wanneer dit tussen asemteue vir ’n ruk gaan lê, weerklink die oggendgesange van voëls glashelder deur die bos. Kakelaar, lawaaimakerjanfrederik, grootloerie, bosloerie, bosduif, tortelduif, fiskaallaksman, bontrokkie, mikstertbyevanger, swartkopwielewaal, suikerbekkie. En ander, soveel ander waarvan ek nie die name ken nie: klein, vaal voëltjies met groot attitudes, swerms vol singende moeilikheidmakers, ondeunde koggelaars, skinderbekke. Dit wemel van die gesels.
Die naamlose hartseer groei deur my borskas en rank by my keel uit, dit strek voelers uit na die bos en die bos omarm dit.
Ek het al geleer: Hierdie woordelose ding in my lyf wat soos verlange voel, is iets heiligs. Dis nie angs of depressie of selfs eensaamheid nie, dis nie ’n probleem om op te los nie – dis ewigheidsbesef. En wanneer die gevoel te groot raak vir my om alleen te dra, dan is daar net een ding wat werk, en dis om te gaan na waar ek die gevoel ook buite myself kan hoor weergalm. En dus, wanneer ek hier klaar geskryf is, gaan ek in die bos gaan stap en by die stroompie onder in die kloof sal ek op ’n klip gaan sit en my voete in die water druk. Ek sal lank na die paddavisse kyk; mettertyd sal die paddas gewoond raak aan my en ongeërg nader kom. Miskien sal ’n houtkapper-voël bo my kop meedoënloos in die sagte vlees van ’n geelhoutboom begin inboor totdat vlokke saagsels oor my kop neerdaal. ’n Loerie sal beslis kom ondersoek instel, van tak tot tak nader wip en my met gekantelde kop dophou.
Ek is nie goed met stilsit nie – was nog nooit nie, en die aanhou-beweeg-en-geraas-maak van ons dopamien-najagende samelewing het dit vererger. En dus sal ek onrustig raak, ’n paddastoel begin bestudeer, opstaan en na die mos teenaan ’n boom gaan kyk, ’n paar voëls probeer namaak, verder stap. Dis oukei. Ek hoef nie iemand anders as my hiperaktiewe self te wees nie. Ten spyte van myself sal die grootsheid van die bos deur my vel begin sypel en die naamlose emosies binne my herenig met die buitewêreld. Al wat ek hoef te doen, is opdaag en oplet.
(Terwyl ek sit en skryf, vlieg ’n oranjebors-suikerbekkie by my kamer in en gaan sit op my klerekas. Wip vir ’n oomblik singend op en af, vlieg dan weer uit. Gepraat van hiperaktiwiteit – net wanneer ek skryf oor my ewige behoefte na beweging reik die Aarde uit na my in die bonsende vorm van ’n voëltjie. Nogal een wat ek in my drie jaar hier nog nooit tevore gesien het nie; ek moes dit google om die naam daarvan uit te vind. Die Aarde praat in voëltjies.)
’n Loerie in Wittedrif
Mikstertbyevangers kom kuier
***
As ek vir mense sê ek woon in dieselfde bosgebied waaroor Dalene Matthee geskryf het (wel verder wes, Wildernis se kant toe), dan sug hulle dromerig. Net so het mense ’n paar jaar gelede gesug wanneer ek gesê het ek is van die Klein-Karoo af. Die Karoo, die Oos-Vrystaat, die Tuinroete, die Laeveld – sekere Suid-Afrikaanse landskappe verleen hulle net maklik aan verromantisering. Deels omdat hulle so mooi is, ja, maar ook, dink ek, omdat die meeste van ons ’n bietjie ontheemd voel. Hoe meer tyd ons in verkeer en voor rekenaars deurbring, hoe vaer maar meer allesomvattend raak die gevoel van vervreemding binne-in ons. Dan nog die klimaatkrisis, berigte van spesies wat by die minuut uitsterf, kwynende biodiversiteit, dreigende droogtes ... Alles voel erg, alles voel buite ons beheer. ’n Verlange ontstaan na ’n idille wat ons sal red van hierdie dolle gejaag, hierdie nimmereindigende verlies-op-verlies.
“Die Karoo, die Oos-Vrystaat, die Tuinroete, die Laeveld – sekere Suid-Afrikaanse landskappe verleen hulle net maklik aan verromantisering.”
Maar ’n plattelandse bestaan op sigself is in my ervaring niks meer as ’n piepklein pleister op hierdie eindelose wond nie. In my geval, hoewel ek lewenslank al in die een of ander iterasie van “platteland” woon (in 19 verskillende liggings, as ek reg getel het) ontbreek daar nog altyd iets. Iets waarop ek nie my vinger kon lê nie, maar wat vir lank ’n noemenswaardige impak gehad het op my verhouding met die natuur en met myself.
Ek praat al vandat ek baie klein is met elke landskap – kranse, bome, branders. En van die begin af voel ek asof die kranse, bome, branders met my terugpraat ook. Tog is gesels nie dieselfde ding as hóór nie, en om ’n gesprek te voer is nie dieselfde as om te voel jy behoort nie. Oral waarheen ek getrek het, het ek dieselfde ontheemding met my saamgeneem; dit eintlik as normaal aanvaar. Ek het maar gedink ’n landskap, ’n plek, is iets waarvoor ’n mens lief is sonder verwagting dat dit ’n mens liefde terug sal kry. Soos my vroegste idee van God: genoeg dat dit groots en verdraagsaam is. Genoeg dat dit my sonder te veel verwyte toelaat om myself uit te woed.
Verlede jaar herlees ek Dalene Matthee se eerste drie bos-boeke: Kringe in ’n bos, Fiela se kind, Moerbeibos. En baie daarvan is vir my bitter mooi, veral noudat ek self hier leef en weet hoe ruik en klink die landskap waarvan sy praat. Maar iets wat my tref en ongemaklik laat in haar boeke, is hoeveel klem sy plaas op die “inkommers teenoor virtuous locals”-tema, en op belonging by wyse van oorerwing en arbeid. Saul Barnard hoort in die bos, want sy familie kap al vir generasies daar hout; dis deel van die rede waarom die olifant Oupoot hom kies as sy mens-broer. Benjamin Komoetie – Fiela se optelkind – voel nooit vredig in die bos nie en vind dan uit dat sy voorouers heelwaarskynlik seevaarders was. Die boeke loop oor van sulke voorbeelde: Nina en haar ingebore band met die bos, Silas Miggel (local) versus die Italianers, al die bose inkommer-Britte ...
Die werklike inheemse mense, die Outeniqua-stam, ontbreek noemenswaardig in Matthee se boeke. Maar buiten hierdie glaring weglating is haar boodskap duidelik, al het sy dit dalk nie so bedoel nie: Om te hoort by ’n plek moes jou voorouers al X hoeveelheid generasies daar gewees het, en verkieslik daar ge-suffer het. En dít is ’n storielyn wat ek tot ’n paar jaar gelede nog hook, line and sinker ingesluk het – nie ek of my voorouers het al ooit lank genoeg op een plek ge-suffer om daar te mag hoort nie. (En boonop was my voorouers se gedrag alleenlik genoeg om mý ook vir ewig uit die paradys te skop.)
“Die werklike inheemse mense, die Outeniqua-stam, ontbreek noemenswaardig in Matthee se boeke. Maar buiten hierdie glaring weglating is haar boodskap duidelik, al het sy dit dalk nie so bedoel nie: Om te hoort by ’n plek moes jou voorouers al X hoeveelheid generasies daar gewees het, en verkieslik daar ge-suffer het.”
Vir my het daardie spesifieke storielyn eers begin omkantel vroeg in 2022, toe ek vir ’n tydjie vrywilligerswerk op ’n wilde stuk grond in die Laeveldse berge teenaan die Eswatini-grens gaan doen het. Om daar uit te kom moes ek vir drie uur met my Hyundai i10 in eersterat teen ’n berg opkruip, my hond en al my aardse besittings skommelend op die agtersitplek, met klippe wat onder my wiele uit teen die afgrond af spat. Dit was nooit deel van my plan om daar op te eindig nie; ek sou iewers op ’n hippie-plaas in Gauteng gaan werk, maar toe val daardie planne op die laaste nippertjie deur, en toe ontferm die Nyalungu Retreat-mense hulle oor my. En met “Nyalungu Retreat-mense” bedoel ek net die twee wat op daardie stadium daar bedrywig was: Nick (SiSwati eienaar) en Luzuko (isiXhosa mede-vrywilliger). En dan ek, Wit Afrikaanse meisiekind, vars uit die Kaap met ’n Labrador en arms vol goeie bedoelings.
Later het Nick aan my verduidelik dat hy en Luzuko aanvanklik teruggetrokke was, omdat hulle bang was dat ek vir hulle bang sou wees. (Elke keer dat ek aan daardie sin dink breek my hart ’n bietjie. Ook omdat hy nie verkeerd was nie.) Ons ontdooi egter vinnig teenoor mekaar en bring die volgende klompie weke op kampstoele deur onder die enigste afdak, terwyl somer-donderstorm op -donderstorm oor ons neergiet, en praat oor God en Credo Mutwa en aliens en familietrauma en voorouers. Ons luister Kanye West en Benjamin Clementine op ’n roggelende luidspreker wat ons elke tweede dag by die bure gaan herlaai. En wanneer dit ophou reën, stap ons die berge plát.
In baie opsigte is ons drie baie dieselfde: Ons huil maklik en gereeld (ek dalk selfs die minste). Ons het ingewikkelde gevoelens oor ons ouers en ons erfenisse. Ons glo in God op ’n ander manier as wat die kerk ons vertel het om te glo. Ons hou van ons witbrood met NikNaks volgestop, en van pampoenblaarbredie met grondboontjiebotter, en van honde. Maar dit vat nie lank voor ’n groot verskil tussen ons vir my ongemaklik sigbaar raak nie. Dis dat ek myself nie kan toelaat om te voel asof ek hier hoort nie, want ek is ’n inkommer. En oral waar ek al geleef het, was ek altyd net ’n inkommer.
Nick, Luzuko en Woud, die Labrador, in die Laeveldse berge.
Laeveldhoogtes
Die klippe in die Laeveld is sag en as jy hulle oopbreek is hulle rooi en groen gepigmenteer. Daar is arende in die lug en boerbokke teen die berghange. Saans klouter piepklein paddatjies teen die binne-gaas van my tent op en kwaak heelnag lank sielsgeluksalig neffens my gesig. Reg voor my tent kronkel die Shiyalongubo-dam verby, ’n massiewe stuk water waarin daar volgens gerugte ’n slang-ondier woon. Swaziland se nasionale voël, die ligwalagwala (oftewel bloukuifloerie), flits sy verbysterende rooi vlerke wanneer hy met groot lawaai uit ’n boom opstyg, en blou-apies skuifel-skuifel telkens nader aan ons kampplek om te sien wat hier te stele is. Ek is van die begin af onvermydelik, onteenseglik lief vir álles wat ek hier sien en ruik en hoor. Lief en tog afgunstig, soos ’n mens voel by ’n pasverliefde paartjie wat net oë het vir mekaar en ’n mens genadeloos herinner aan jou eie eensaamheid.
Dit kos Nick en Luzuko se skouerophalende vanselfsprekende belonging vir my om te besef dat ek nog nooit gevoel het asof ek mag hoort nie, en nog nooit kon ontspan in my liefde vir Suid-Afrika nie. Want ek is so fokken bewus van my voorouers se vergrype, van my white privilege, van die selfvertroue en verwysingsraamwerk waarmee ek blindelings in ’n ruimte intree, dat ek myself nie enigiets wil toe-eien wat ek nie met bloedsweet en opperste nederigheid verdien het nie. En om te behoort aan die heiligdom van Afrika, aan hierdie kleigrond en geurige veld, voel soos die hoogste voorreg, een wat my sekerlik nie beskore kan wees nie. Nie met al dié bloed op my (voorouers se) hande nie.
Wanneer ek skugter hierdie gevoelens aan Nick en Luzuko verduidelik, huil hulle albei saam met my. En dan maak hulle dit duidelik: Om jouself ’n tuiste te ontsê is nie dieselfde as om herstelwerk te doen nie. Inteendeel. Dis om vergifnis te probeer systap met goeie dade en gemaak-hoogheiligheid (my woorde, nie hulle s’n nie). Niemand baat daarby as ek nie voel asof die grond waarop ek loop my nie liefhet nie. Ek hou myself dan aspris buite die bereik van ubuntu, en ek kyk heeltemal die geskenk van Afrika mis.
Die volgende dag gaan staan ek by die damoewer en gesels. Ek sê vir Afrika ek verlang. Ek vra of ek maar mag sê ek kom van hier af, of ek myself maar ’n kind van Afrika mag noem. Ek probeer die swaargeid in my hart verduidelik. Die opgehoopte skuld. Die kriewelende embarrassment.
Afrika sê vir my: “Kom ons begin hier: Ek is nie jou pa nie. Ook nie jou Vader in die hemel nie.”
Woud in die Laeveld
***
Mense kla gereeld oor Catholic guilt en dan dink ek altyd by myself: “Uhm, probeer ’n bietjie Calvinist guilt, dan praat ons weer.” Die Katolieke kon (kan) ten minste hulle vergifnis aanhelp met ’n belydenis en ’n klompie goedgeplaaste Hail Mary’s. Maar toe kom Martin Luther en sê nee, dis die Bloed, die Bloed alleen wat vergifnis kan bring, en toe grinnik Calvyn en sê “bloedswéét, ja,” en nouja, hier is ons 500 jaar later: hardwerkend, hardnekkig, getraumatiseerd en traumatiserend.
Die God waarmee ek grootgemaak is, en die lang lyn voorvaders wat in sy ewebeeld geskape is, hou van my as stil, slim, gewillig en vol berou. En dis een ding om daai idee bewustelik af te skud, ’n ander om ontslae te raak van die laag-op-laag brainwashing wat my nou nog vang op onverwagse tye en my laat dink dat ek my belonging met die sweet van my aangesig moet verdien. Dat ek my plek in die hemel moet opeis deur myself aardse vreugde te ontsê.
Nog moeiliker omdat die meeste van ons stelsels steeds volgens dié Calvinistiese meritokrasie werk. Selfs in die ruimtes waar ons onsself doelbewus probeer dekoloniseer – universiteite (soms), interdenominale geloofsgroepe, linksgesinde denkforums en publikasies – trippel-trappel die meeste van ons suutjies rond, so bemoeid daarmee om gewillig en berouvol te lyk dat dit ’n polisiërende performance raak eerder as ’n wederkerige transformasieproses.
Hoeveel vreugde en versorging kon ek al gekry het uit my verhouding met die Aarde as ek net bereid was om te laat gaan van my eie deugdelikheid?
En dis die Aarde wat hiervan boet. Dis wat ek verstaan daai dag by die Shiyalongubo-dam: Solank as wat ek ’n God-die-bliksem-in-vadermodel op die Aarde en al die Aarde se kinders toepas, sal ek hier geen heimat vind nie.
“Solank as wat ek ’n God-die-bliksem-in-vadermodel op die Aarde en al die Aarde se kinders toepas, sal ek hier geen heimat vind nie.”
Hoe ontgroei ’n oorgewillige, oorpresterende, oorordentlike Afrikaanse vrou haar sielsdiep behoefte om handeviervoet in Afrika se goeie boekies in te kruip? Soos mens ’n olifant eet: baie fokken stadig. Dis om daai spiertjies in my siel wat alweer snaarstyf gespan is oor en oor en óór te verslap, elke liewe keer dat ek daarvan bewus raak. Dis om vir daai binnestem wat lag omdat ek dink bome kan praat, te sê: “Sjaddap.” Dis om doelbewus die patriargie in my kop te queer deur die Aarde te verbeel as ’n wreedaardige moeder, ’n poetsbakker, ’n heks, ’n bestie, ’n ongekende ondier, ’n lover, ’n dief in die nag.
Ek was ’n inkommer in die Boland, in die Klein-Karoo, in die Laeveld. Ek is ’n inkommer hier in die Tuinroete. Maar elke ekosisteem kan met gemak rondom my vreemdheid oopvou en floreer. Al wat ek hoef te doen, is om uit my eie pad te kom en bly opdaag en oplet. En – mettertyd – saam te speel.
Risha op die stoep van haar eerste boswoning.
Seven passes-pad
Naakslak
Risha Lötter is ’n tolk en storieverteller wat tans in Wildernis woon. Sy road trip so gereeld moontlik deur Suid-Afrika, verslind elke fantasieboek waarop sy haar hande kan lê en dink vreeslik baie na oor mitologie en bome. Vind haar podcast en meer van haar skryfwerk by Case Files of a Fool for Life.
Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896
Ons bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaanswees lyk, lees en klink. Het jy van Joernaal van 'n inkommer gehou? Dan ondersteun ons. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy gelys.