Raaskopleef, die Bolandse 90’s punk band voor Fokofpolisiekar

Raaskopleef, die Bolandse 90’s punk band voor Fokofpolisiekar

Foto’s verskaf. Raaskopleef is is Louis Duvenhage, Almuir Botha, Pierre Tredoux, Aalwyn Jordaan en Johan “Sol” Rosseau.

Sjaka Septembir luister na hulle 2021-album, Wens ek was 

Ek gly die stokkie by die rekenaar in terwyl elke Raaskopleef-gig wat ek al beleef het, weer voor my oë afspeel. Raaskopleef is ’n Afrikaanse punk band van die Wes-Kaap. Hulle het in die 90’s ontstaan lank voor bands soos Fokofpolisiekar. Ek proe steeds hulle bitter anargistiese geraas, en ek sien hoe Lang Louis, die sanger, sy poems mompelend deur donderende musiek, lewe gee. Suiwer woede en nihilisme wat die kuierplek vul voor ’n opgewonde klein skare. 

Dis 2021 en ek wag vir die rekenaar om die Raaskopleef-legger oop te maak terwyl  my hart klop met heimweë oor daai dae wat deurspek was met jeug en geraas. Boonop mis ek albums en albumkuns. Ek mis dit om ’n musiek-album se plastiekomhulsel oop te skeur, die reuk van ’n plaat. Met ’n album betree ’n mens die musiek, soos om ’n vreemdeling se huis in te stap. Die omslagkuns gee jou ’n leidraad oor waarvoor jy jou inlaat. (Byvoorbeeld, Twisted Sister se Come Out and Play, het baie anders vertoon as U2 se The Joshua Tree) Die rekenaar lees die legger in sy koelblou lig en die speler op my laptop maak stadig gereed. Ek is opgewonde om te hoor wat die Raaskoppe opgetoor het. Ek is ook waaksaam daarteen dat – 20 jaar later – dit wat ek gaan hoor my glad nie gaan roer of raak nie. Ek hou my asem op en druk die speel-knoppie.  

‘Andringastraat’ (of: ‘Die Slag van Andringastraat’) is die naam van die eerste track, alfabeties rangskik. Ek ken dié straat in Stellenbosch. Die lied val weg met ’n bluesy, rustige, skoon guitar-klank. Die woorde is duidelik hoorbaar. Ek is verras, dit klink meer soos Valiant Swart of Andries Bezuidenhout. Waar is die vuil-skreeuende geraas van die eerste Raaskop-album? Dis anders, verrassend, maar nie ’n slegte ding nie. Geen mens kan vashou aan tyd, kan vashou aan die verlede, of aan ’n ou idee van hoe dinge was nie. Verandering is groei en hier ween die guitar roerend oor ’n seun wie se lewe uitbloei oor die genadelose teer. Daar is geen haas nie, die Raaskoppe – Almuir Botha, Louis Duvenage, Sol Rousseau en Pierre Tredoux – maak al dekades lank musiek en hierdie gesoute musikante vat dit rustig. Pierre was ’n lid van die heel eerste vergestalting van die Valiant Swart Band en het ook vir Kobus! gespeel. Almuir het sy tande geslyp in Delta Blue en Sol in Virus. Louis speel deesdae in Orwellington. Hulle gee elke beeld sy tyd, laat toe dat die gevoel in die luisteraar se binneste asemskep. Die storie wat deur die lied vertel word, bloei tragies in ’n volle sewe minute en 40 sekondes tot stilte. Die tweede snit is ‘Bobbie’. Louis se ongekunstelde stem is meer herkenbaar, soos hy op die maat van ’n ligte deuntjie die melankoliese verhaal van sy vriend Bobbie vertel. Dis ’n gedig met die hart van Nick Cave, wat vertel word in ’n plat Bolandse Afrikaans. Kort en kragtig skets hulle vir Bobbie in ons geheue in.  

wens ek was raaskopleef album cover

Wens ek was (2021)

‘Diamante’ begin met iets wat herinner aan elevator-musiek, Louis se praat-sing begin ongemaklik teen die beat, die mondfluitjie bring ’n Gert Vlok Nel-geur na vore. Dis lekker om die lirieke te hoor, hoe eerlik deel die spreker met ons sy lewe, getroud met kinders, tevrede in sy dorp. In plaas daarvan om homself aan ons voor te doen met allerlei maskers en grimering, kry ons ’n eerlike blik op die eenvoud van die verteller se lewe en die prag wat daarmee gepaard gaan. Boonop is die sanger gelukkig. Min songs in die kanale van pop-musiek of rock beaam ’n sanger se gevoel van geluk. ‘Diamante’ is eers moeilik op die oor, maar gee dit ’n kans. Dit dring skelm deur tot ’n mens en wanneer dit eindig wil jy nog aan die note vasklou.  

‘Diana’ vang my weereens onkant; ek het nog nooit die Raaskoppe as speels en  seksueel-tartend ervaar nie. Hierdie lied klink soos kabaretmusiek. Die verskeidenheid van klanke wat Raaskopleef hier oplewer, verstom my. Raaskop smeek Diana vir soene en maak Afrikaans vir almal wat luister, stout en lekker.  

‘Die Helenag’ is die 5de snit. Bietjie banjo, bietjie hillbilly gesout met Tom Waits. Mooi mellow song, braaivleis-onder-die-sterre-musiek. Ek begin wonder: “Gaan hulle nie iewers bietjie raas nie?”  

‘Maanwater’ se lirieke het ’n Laurika Rauch-gevoel. Ek glo Louis; – met die rigting wat hulle tans inslaan, – kan hierdie mooi song versterk word deur ’n vrouesanger wat saamsing. Kyk hoe goed het dit gewerk op Gert Vlok Nel se albums. 

‘Onverwacht’ skop weg met iets wat belowe om te raas, maar dan boul die Raaskoppe ons weer onderstebo wanneer ’n dans-beat posvat. Ek is versot op die wyse waarop die guitar ingespan word om ’n funk-klank op te toor, wat neig in die rigting van die Red Hot Chili Peppers se klank.  

Die hele album is storie-vertel met musiek. As jy aanklank vind by mense en hulle stories, prop hierdie musiek in jou ore. Ek wonder of die album nie eintlik bedoel is om ’n Raaskopleef-teaterstuk te wees nie; hulle eie Piekniek by Dingaan

Raaskopleef by Wingerdstok.

‘Solastalgia’ – nou sal elke nuuskierige siel Google moet naderpluk. “Solastalgia”  verwys basies na die gevoel wat jy ervaar as jy lank van die huis af weg is. Hierdie een is ’n kampvuurlied, lekker rustig, denkend, dit laat jou kop die heelal in verdwaal in Afrikaans. 

‘Spoed’ is ’n cover van een van my gunsteling Brixton Moord en Roof Orkes-songs. Dis lekker om dit so te hoor met meer klem op die woorde. 

‘Verbeelt’ is ’n ska-punk song. Die band het hier ’n kans gemis om een goeie geraastune vir ons op te dis. Dis ’n goeie song, mens kan lekker op hom dans, maar miskien rev hulle in die toekoms die song ’n bietjie op dat hy meer raas.  

In ‘Verskyn en Verdwyn’ val Sol weg in Portugees. Hy klink soos ’n ou visserman wat verlang na die see. Deur dié lied stal hulle die mooi van Raaskop uit, want as jy nie Portugees verstaan nie, kyk jy van buite af in, sonder die verstaan van die woorde, en dit stel ons vry om net na die klank te luister. Die ander taal maak ’n mens los van vashou aan betekenis en ek besef meteens ook hoe ek ’n baie sterker oordeel vel oor dit wat in my eie taal geskep is. Hier hoor jy hoe tegnies vaardig die Raaskoppe werklik is.

‘Wens Ek Was’ sluit hierdie album af met ’n laaste bietjie storie-vertel. ’n Deuntjie waarop die Raaskoppe wegdryf en waardeur ek gerustelling vind. Dit is ook die titelsnit van die nuwe album.  

Ek kyk terug op hierdie musikale reis met wabi-sabi; ’n waardering vir die album met al sy imperfeksies los my met ’n melankoliese gevoel van spirituele verlange. Ek druk weer play.

 

Wens ek was van Raaskopleef is binnekort beskikbaar op Spotify, YouTube, Deezer,  Apple Music en al die ander platforms. Daar is ook ’n website waar al die nuwe songs gratis geluister en afgelaai kan word, en waarop ’n aantal video’s vrygestel word. 

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Raaskopleef, die Bolandse 90’s punk band voor Fokofpolisiekar gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand