Crystal-Donna Roberts se debuutroman is eg, plat, eerlik

Crystal-Donna Roberts se debuutroman is eg, plat, eerlik

Dit bevestig baie vroeg vi tieners dat angs okay is

Ek skryf hierdie resensie annie begin van 2023 en steeds sien ekkie baie gegons en buzz oor Crystal-Donna Roberts se debuutroman Speurder Sammi: Die Blou Steen (2022, Tafelberg) nie. Maybe issit nie scandalous enough of gekoppel mettie themes wattie literary market van vedag consume en wil push nie. Daa moet mos altyd ’n gesukkel wies byrie hys – ’n dronk uncle, ’n sletterige antie of ’n kind op drugs, ’n ma wattie na haa kinnes kykie en ’n pa wat loep siep koep het. Dis vi my verbasend dat nie meer kinnes angemoedig wôd om Roberts se wêk te liesie, cause dis ’n storie wat positief is, relevant is, en oek vi jou die geleentheid gie om te reflect op jou eie liewe en hoe jy met jou emosies omgegan het toe jy 13 jaar oud was. 

Roberts was in 2021 een van vier opkomende skrywers wat ’n skrywersresidensie in Somerset-Oos bygewoon het, aangebied deu die Jakes Gerwel Foundation en NB Publishers. Moenie ’n fout maak en dink dis ’n SAFTA-bekroonde aktrise wat nou skielik verveeld is en probee skryf nie. Roberts probee nie. Sy skryf. En blerrie goed oek. In dié jeugroman het sy ’n verhaal opgedish wat fokus oppie emosionele welstand en geestesgesondheid van tieners, maa wat oek die undiscovered talents, hidden qualities ennie waarde van goeie vriendskappe en stêk familiebande assie hart vannie storie het. 

Hoewel die boek die structure van ’n speurverhaal volg, wil ek in my bespreking oppie ytbeelding van mental health and trauma focus. Speuder Sammi is ’n broodnodige vegrootglas op tieners se ervaring van trauma en oek die belangrikheid van onnersteuning vanaf familie en vriende in moeilike en onbekende tye. Sammi, die jong protagonist, lat jou onmiddellik dink an hoe vinnig kinnes vedag groot moet raak – veral wannee emosionele potholes voo hulle is. Nie ammel se liewe is ’n gesukkel en ’n geswaarkry nie, maa dit is tough wannee die liewe vi jou pynlike cards deel en jy net moet anbeweeg asof alles okay is. 

Sammi probee die dood van haa ouers vewêk en soe oek probee sy vegiet van haa audition by Richfire Arts Academy en onnedruk haa musikale talente. Die vakansiekuier by Dedda en Oumie isse welcomed break. Maa dis hie innie Noord-Kaap op Oumie en Dedda se plaas waa sy die blou steen ontdek, eienaardige dinge begin notice mettie ytslag op haa bors en oek ’n heightened use of senses ontwikkel. Dis hie waa Speurder Sammi ontstaan en waa sy ’n spenner rol in dodgy George se planne met Oumie en Dedda. Met dié dat sy Speurder Sammi fully embody, begin sy besef sy kan anbeweeg en cope en steeds excel in alles wat mooi was voorie tragedie. Die storie van mental health en trauma overshadow glattie die speurverhaalie, maa enhance en layer die storielyn en sequence of events eerder en highlight weereens die deursettingsvermoë wat tieners besit.

In die eerste hoofstuk wôd Sammi se familieagtergrond, ervaring van post-traumatic stress disorder (PTSD) ennie cause van haa angsaanvalle bekendgestel. Dit is treffend dat haa reaksie op haa omstandighede is om op te hou om haa kreatiewe stokperdjies te geniet. “En toe het sy haar droom van die vorige aand onthou. Dit was twee jaar terug, en dis toe Sammi opgehou het om musiek te maak” (bl.10). Dit is oek opvallend dat daa nie wee innie boek oor haa trauma gepraat wôd nie, wat anslyt by hoe die karakter net wil vegiet wat met haa gebee het. Maa dis nie soe maklik nie.

Die karakters innie roman is almal mense wat mens voel jy ken of eens op ’n tyd al raakgeloep het. Vanaf Sammi, Lerato en April – die drie 13-jariges wat oppie drumpel van hulle teenage phase staan, tot Valerie, Sammi se antie, wat haa hart volg en verf en queer is. Ek hou oek daavan dat daa nie ’n bohaai gemaak wôd oor Valerie se queerness nie. Dit vorm net deel vannie narrative. Soes in real life. Dan is daa Dedda Darries en Ouma Lena, wat soes varsgebakte brood en hys voel, en dan die mense vannie dorp wat vinnig inpas en plek volmaak innie storie. Dis eg. Dis plat. Dis eerlik. 

Roberts skryf karakters wat wegdoen met tipiese storielyne van swaakry. Dis gewoonlik die tipiese challenges van wêk soek om te sorg vi iets virrie pot innie hys, skool los om sieke te maak iemand is byrie hys, of nie kan gan swot ná matriek nie, want daa issie ’n income nie. As dit nie dit is nie, issit die stereotipiese gedragsprobleme wat veral met Bruin karakters associate wôd. Roberts flip egter die coin. 

Wat ek refreshing vind, is hoe gemaklik Roberts die karakters in hulle omgewing en liggame geskep het. Die gesprekke is natuurlik en effortless. Oumie is bewus van Sammi se stryd met haa angsaanvalle en ek is mal oorie feit dat Sammi nie die nagevolge van trauma wegstiekie. “‘Maar,’ praat Oumie terwyl sy botter smeer. ‘Vertel my nou eers, hoe gaan dit met jou.’ Die manier waarop sy dit vra, is meer as net die terloopse ‘Hoe gaan dit met jou?’ Sammi sug en glimlag skeef. ‘Ek is fine, Oumie. Ek … uhm, ja …’ Sy trek haar skouers op. ‘Ek is fine.’ […] ‘En hier?’ Oumie sit haar hand op haar hart. ‘Hoe’s dinge hier?’” (bl.27.) Dit normaliseer hierdie gesprek ennie feit dat almal angs ervaar, oppie een manier of die anner, en bevestig baie vroeg vi tieners dat dit okay is. Dat niks fout is met jou nie en dat jy daaroor kan praat. 

Temas van verlies, van determination, oorbegin, bieter wies, simpatie en empatie toon, ennie besluit om nie ’n slagoffer van jou omstandighede te wiesie, kô stêk voo innie teks. Die ytbeelding van vriendskap innie roman lat jou oek dink an jou 13-jarige self ennie dae toe puberty begin strike het. 

Ek is opgewonde om te lies wat Roberts volgende gan skryf. Haa debuut gie ’n nod an tieners. ’n Salute om te wys hulle wôd gesien, dat iemand vestaan en dat hulle nie soe allien is soes wattie nagtelike ure in hulle kamer vi hulle wil convince nie. 

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Crystal-Donna Roberts se debuutroman is eg, plat, eerlik gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand