Die Eersterivier as verteller in Abri de Swardt se Kammakamma

Die Eersterivier as verteller in Abri de Swardt se Kammakamma

Installasiefoto’s by POOL x Fieldstation deur Mia Thom.

'As die riviermond kon praat, wat sou dit sê?'

Vanuit die Jonkershoekvallei stroom die Eersterivier vir byna 40 kilometer totdat dit die Atlantiese Oseaan in Valsbaai naby Macassar ontmoet. Die rivier is deur Simon van der Stel “Eersterivier” gedoop omdat dit die eerste rivier sedert Kaapstad was wat hy op sy ekspedisie vir grond vir setlaarlandbou teëgekom het. Die terrein wat hy vir hierdie doel geannekseer het, ken ons vandag as Stellenbosch (essentially, “Van der Stel se bos”). The rest, as they say, is history: Deur die res van die koloniale geskiedenis en beyond vloei die rivier en haar sytakke na gelang van die reënval van Jonkershoek deur Stellenbosch, Eerste River, Kuilsrivier en Macassar om by Valsbaai in ’n sameloop van see-, stroom- en rioolwater by die riviermond uitgespoeg te word. ’n Stil getuie van die ewig-veranderende seisoene en tye, verbygaande landskappe en hulle gepaardgaande ekonomiese en sosiale realiteite, just passing through. ’n Draer van beide dít wat onthou word en dít wat deur die stroom van koloniale uitbreiding weggespoel is – dit is byvoorbeeld onbekend wat die rivier genoem is deur inheemse bevolkings vóór Van der Stel. Intussen is die Eersterivier vandag onderworpe aan ’n versmorende ekokrisis, ’n stortingsterrein vir riool en pesticides.

In Kammakamma (2022–4) vra kunstenaar Abri de Swardt aan die Eersterivier: “As die riviermond kon praat, wat sou dit sê?”

Maar hierdie vraag noop dat ’n opvolgvraag eers beantwoord word, naamlik: “Hoe luister ’n mens na wat die riviermond sê?” De Swardt bied in sy nuutste werk ’n antwoord: ’n Mens luister na die riviermond deur ’n herordening (re-enactment) van daardie afsonderlike dog verbonde gebeure waarvan die rivier deur die oneindige stroom van tyd ’n getuienis was en is. Só ook kan brokke van uitgewiste narratiewe moontlik tot die oppervlak dryf.

Still uit die beeldmateriaal van die video-installasie Kammakamma (2024).

Kammakamma vorm die tweede werk in ’n trilogie waarin De Swardt die Eersterivier as visuele en soniese argief – as beide getuienis en draer van verswelgde narratiewe en hulle impak – ondersoek. In die eerste werk in hierdie trilogie, Ridder Thirst (2018), word die rivier en sy Stellenbosch-omgewing gebruik as agtergrond vir De Swardt se ondersoek van (onder meer) Wit heteroseksualiteit en die anti-monumentgesindheid van die Fallist Movement. Soos in Ridder Thirst, ondersoek De Swardt in Kammakamma die moontlikheid van die rivier as beide storieverteller en historiograaf. In ’n onderhoud met Francois Lion-Cachet oor Ridder Thirst kontekstualiseer De Swardt die Eersterivier as motief en metafoor:

Ridder Thirst neem die loop van die Eersterivier as mikrokosmos van Suid-Afrikaanse realiteite, maar ook as getuienis van geskiedenisse, ’n onmenslike getuie wat op materiële vlak hierdie geskiedenisse beliggaam en dra. Narratief-gewys vloei die werk uit die rivier en neem dit selfs die vorm van die rivier aan. […] Hierdie kronkelende vloei [van die rivier] is die antitese van die beweging van die setlaar vanaf die see tot die rivier: Die pylende beweging van die setlaar is onnatuurlik en is ’n demonstrasie van sy heerskappy.

In Kammakamma word hierdie metafoor verder ondersoek deur verskillende modusse van vertelling. Die video-installasie met akteurs Ben Albertyn, René Cloete, Ibtisaam Florence en Cole Wessels bring lewe tot drie afsonderlike dog verbonde tekste geskryf deur De Swardt, digter en skrywer Ronelda Kamfer en geskiedkundige Saarah Jappie. Hierdie tekste is beskikbaar as ’n e-publikasie wat saam met die video-installasies beskou kan word. Hierdie e-publikasie (ontwerp deur Heléne van Aswegen) bestaan uit skanderings van nat papiere wat toenemend meer gekreukel, geskeer en modderbevlek word — asof vanuit die rivier geskep in ’n poging om die narratiewe daarop te red. (Kry die volledige e-publikasie hier.)

Die titel Kammakamma sinspeel reeds op die geskepte, man-made aard van geskiedenis, ’n konstante speling tussen feit en fiksie. Kammakamma verwys natuurlik na die Afrikaanse woord “kamma”: om voor te gee, te maak asof, to make believe. Dit verwys ook na die Khoekhoe-woorde vir water (//amma) en vir ewebeeld (khama), laasgenoemde die oorsprong van die Afrikaanse woord “kamma”. Deur hierdie wisselwerking tussen tale en betekenisse bewerkstellig De Swardt die rivier as ’n bron van veranderende stories.

In die openingsepisode van Kammakamma, Tuimeldeursamevloeing, roep De Swardt tekstueel, visueel en deur middel van klank vir Hendrik Biebouw in die lewe. Biebouw, ’n tiener en (famously) ’n leeglêer, het in 1707 saam met drie ander in ’n toestand van drunken rage een van die VOC se watermeule aan die Eersterivier aangeval (Dutch courage, I guess). Tydens ’n konfrontasie met die magistraat, het Biebouw infamously verklaar:

[…] ik wil niet loopen, ’k ben een Africaander al slaat die landrost myn dood, of al setten hij mijn in den tronk. Ik sal, nog wil niet swygen. 

Toe Biebouw hierdie woorde uitgespreek het, was dit ongewoon om na homself as ’n “Africaander” te verwys — die woord is destyds uitsluitlik gebruik om te verwys na slawe, vrygestelde slawe of inheemse mense. Biebouw se uitlating word dus beskou as die eerste keer dat ’n Wit mens, gebore in Afrika, na hulself as ’n “Africaander” verwys. Sy woorde word deur sommiges beskou as die eerste seedling vir die ontwikkeling en definiëring van ’n afsonderlike en duidelike (Wit) “Afrikaner”-identiteit en -kultuur. Só word Biebouw ’n byna mitologiese figuur wie se woorde in Afrikaner-nasionalistiese geskiedskrywing ’n draer van die Afrikaner-oorsprongmite word. (Mens kry vandag T-shirts met sy woorde op gedruk, soos ’n slogan vir ’n theme park.)

Ben Albertyn in die eerste episode van Kammakamma (2024).

In De Swardt se herordening van gebeure in sy video-installasie van Tuimeldeursamevloeing is Biebouw (gespeel deur Albertyn) gevange in die gedeelte van die Eersterivier waar die samevloei daarvan met die Plankenbrugrivier deur sandsakke gekeer word. In hierdie toestand word die Eersterivier Biebouw se purgatory. Dronk en waansinnig, is hy vasgevang in ’n eindelose feedback-loop waarin hy sand vanuit sandsakke wat afkomstig is van die riviermond, terugsif in die rivier, en die sandsakke wat die samevloei van hierdie riviere keer, omstoot. Sy spraak is dig en deurmekaar, bestaande uit omgekeerde stylfigure en vermengings van Afrikaans, Nederlands, Duits en Malgassies. Hy is aangetrek in waders (daardie waterdigte dungaree met die gumboots aan) en handskoene, ’n Kreepy Krauly-halskraag om sy nek. Drie sprakelose figure, gespeel deur Cloete, Florence en Wessels, ook in waders en handskoene, dra Biebouw en ondersteun sy liggaam (soos wat water sou) in vlakker gedeeltes van die rivier. Hierdie stom figure demonstreer die versmorende, drukkende effek wat die instrumentalisering van Biebouw se infamous woorde gehad het en steeds het.

Stills uit die dubbelprojeksie van Kammakamma (2024).

Die video-installasie bestaan uit twee skerms wat gesinkroniseer is, maar wat blikke vanuit verskillende perspektiewe gee. Hiermee sinspeel De Swardt op die nosie van seeing double as ’n toestand van intoksikasie, maar ook as disoriëntasie. Persepsie en geskiedenis (en uiteraard die persepsie van geskiedenis) is vloeibaar, en daarom bedrieglik.

Die installasie-spasie en dubbelprojeksie by POOL x Field Station, Groenpuntpark.

Props wat in die video verskyn, is ook deel van die installasie. Kykers sit op dieselfde wit sandsakke om na die twee skerms te kyk en Biebouw se waders, handskoene en Kreepy Krauly-halskraag is teenwoordig in die spasie. De Swardt verduidelik dat alhoewel waders en handskoene water van die liggaam afhou, dit nie water keer om steeds teen die liggaam te druk en te beweeg nie. Soos Biebouw en die ander drie figure se waders, is tyd maar ’n dun membraan waardeur die drukking van die geskiedenis in die hede tasbaar gevoel kan word.

Alhoewel hulle stom is in die openingsepisode, verskyn Cloete, Florence en Wessels se karakters in opvolgepisodes om lewe te gee aan Kamfer en Jappie se tekste. Hierdie opvolgepisodes, tesame met die prelude, vorm Kammakamma in totaliteit. In Kamfer se bydraes volg die Eersterivier ’n tiener wat in die 1990’s tussen Eersterivier, Stellenbosch en Faure beweeg. Saarah Jappie skryf oor die kramat van Sheikh Yusuf langs die rivier in Macassar. Sodoende bied Kammakamma as e-publikasie ’n transgenerational en transcultural blik op die verhoudings tussen die Eersterivier en die gemeenskappe waardeur dit vloei — gemeenskappe wat histories en steeds volgens rassistiese, ruimtelike en ekonomiese skeidslyne verdeel en bestuur word. Uiteindelik bewerkstelling De Swardt met Kammakamma die moontlikheid vir samevloeiing: om onsself nie as apart van mekaar, van die geskiedenis en van die natuur te beskou nie, maar as onlosmaaklik verstrengel in en verbonde aan mekaar. Só beskou, word dit ook moontlik om die (mensgemaakte) skeidings tussen ras, klas, ruimte, natuur en geskiedenis eerder te sien as vloeibare strome wat mekaar kontamineer.

Uittreksel van een van Ronelda Kamfer se bydraes tot die e-publikasie wat deel vorm van Kammakamma (2024).

In die laaste episode (Endless song) sluit De Swardt Kammakamma af in ’n maalkolk van verskeie stemme en tale om die afbreek van taal te bewerkstellig. Taal is ook — nes water — vloeibaar, maar kragtig. Dit kan verswelg, oorspoel, wegspoel; dit kan duister en besoedeld wees, erosie veroorsaak, die proporsies van beelde verdraai. Dit kan die geskiedenis dra.

So, as die riviermond kon praat, wát sou dit sê? Die rivier kan nie in mensetaal praat nie, maar dit onthou en dit vertel — en om te luister, moet ons hoor. Soos Pieter Odendaal in sy gedig ‘eersterivier’ (uit Asof geen berge ooit hier gewoon het nie, 2018, Tafelberg) dit stel:

Hoor die rivier die rivier was eerste hier
sy dra die stories van geslagte
ons verledes skuim oor klippe
ons is altyd onderweg
eendag keer ons see toe
dan herinner ons die golwe
aan die swaartekrag wat alle strome
laat vervloei tot rivier

hoor die rivier die rivier was eerste hier


Kammakamma word aangebied deur POOL . Dit het 1 Februarie 2024 by Field Station in Groenpuntpark in Kaapstad geopen en was daar te sien tot 3 Maart 2024. Die installasie is van 8 tot 30 Maart 2024 in Stellenbosch by GUS te sien.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Die Eersterivier as verteller in Abri de Swardt se Kammakamma gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand