Anja Venter en die Patriargie as 'n dinosourus

Anja Venter en die Patriargie as 'n dinosourus

Oeroud en vandag byna mities

Anja (Nanna) Venter is ’n illustreerder en visuele ontwerper van Kaapstad. Sy het ’n doktorsgraad in mediastudies (Universiteit van Kaapstad) en is ’n nadoktorale genoot by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie. Sy beskryf haarself as ’n punk en “Artstronaut” wat die kruispunte tussen kuns, kultuur en tegnologie deur ’n verskeidenheid van media, mediums en praktyke verken. Jurassic Patriarchy is Venter se tweede solo-uitstalling wat in Januarie by die Cape Town Creative Academy in die Silo District uitgestal is.

In Venter se eerste solo-uitstalling Monsters at the Cape of Good Hope het sy koloniale Kaapstad herverbeel deur mitiese wesens in bestaande historiese kunswerke van Kaapstad te plaas. In hierdie jukstaposisies ondersoek Venter kolonialisme en die spore wat dié “monster” in die hedendaagse Suid-Afrika gelos het. In Jurassic Patriarchy rig sy haar visie op ’n ánder monster wat ’n aldeur teenwoordigheid in die historiese geskiedskrywing en die hedendaagse leefervaring het: Die Patriargie.

Venter verduidelik dat “Die Patriargie” ’n “catch-all term” geword het om te verwys na die voortdurende en oënskynlik onuitwisbare ongelykhede wat in samelewings wêreldwyd oor grense van gender, ras, seksuele oriëntasie en klas sny. Sy verduidelik dat die sogenaamde “rule of the father” oor die afgelope 10 000 jaar van opgetekende geskiedenis ontwikkel het as ’n onsigbare dog alomteenwoordige meganisme wat Wit manlike mag en heerskappy in “law and state, home and workplace” enkodeer het. Dit dring deur opvoeding, geloof en tradisie en onderskraag kulturele norme en waardes regoor die wêreld. Dis ’n monster wat, byna soos die dinosourusse self, oeroud is en vandag byna mities klink.

Tog is daar ook regdeur die geskiedenis voorbeelde van figure wat Die Patriargie en sy mites van Wit manlike oppergesag ontbloot en uitdaag. In Jurassic Patriarchy bied Venter ’n visuele lys van tien van hierdie figure.

Soos in Monsters of the Cape of Good Hope, jukstaponeer Venter in Jurassic Patriarchy historiese kunswerke met haar moderne, comic-style illustrasies om kommentaar te lewer op die kruispunte tussen die verlede en die hede. In Jurassic Patriarchy word portrette van Venter se tien gekose figure in helderkleurige komposisies gejukstaponeer met illustrasies uit Hutchinson se Extinct Monsters (1892), van die eerste illustrasies van dinosourusse wat in die publieke domein verskyn het. Deur hierdie jukstaponering bied Venter dus haar eie metaforiese herverbeelding van Die Patriargie as “monsters of an antique world: out of place and out of time”.

In Monsters at the Cape of Good Hope roep Venter JJ Cohen se Monster Theory (1996) op, en dit is weer relevant in haar nuutste versameling. In Monster Theory, verduidelik Venter, skryf Cohen oor die kulturele fassinasie met monsters as “a fixation that is born of the twin desire to name that which is difficult to apprehend and to domesticate (and therefore disempower) that which threatens”. Só ook word Die Patriargie mak en magteloos in Jurassic Patriarchy – Hutchinson se dinosourusse hou geen bedreiging in vir Venter se figure nie, wat op of voor hierdie prehistoriese diere sit en staan.

Venter se figure kom uit uiteenlopende historiese periodes en geografiese plekke: daar is ’n punk icon, ’n koningin, ’n hairdresser, ’n beeldhouwerker, ’n skrywer, ’n drag queen, ’n predikant – elkeen figure wat genderverteenwoordiging en patriargale verwagtinge en narratiewe uitgedaag het. Die uitbeelding van hierdie individue in die konstante teenwoordigheid van dié prehistoriese diere noop ’n mens om na te dink oor die greep wat patriargale ideologieë, diskriminasie en ongelykheid op ons kollektiewe geskiedskrywing het.

Saam met elke portret bied Venter ’n kort biografie van elke figuur. Hierdie verhale van opstand teen Die Patriargie beklemtoon ook die belang daarvan om stories te vertel wat dikwels in patriargale geskiedskrywing stilgemaak of uitgewis is. Met Jurassic Patriarchy bied Venter dus ’n belangrike korrektief tot Die Patriargie se geskiedskrywing: hier word die stemme wat regdeur die geskiedenis opklink teen die dempende hand van Die Patriargie belig.

Met haar nuutste uitstalling bewys Venter dus (om die woorde van Alok Vaid-Menon te gebruik): “Things are not only spoken into existence. They are also spoken into extinction.”


Anja Venter se toptien-patriargieslayers

Venter verduidelik in haar kunstenaarsbeskrywing dat hierdie lys haar eie gunstelingfigure bevat en dat dit in geen bepaalde volgorde voorgestel word nie. Van hierdie figure sou dalk ook nie noodwendig self as feministe identifiseer nie, en hulle almal verteenwoordig ook geensins perfekte voorbeelde van ’n feministiese agenda nie. Venter bied eerder ’n versameling stories van mense wat, in haar oë, die “farce of patriarchal power and its subjugations” deur hulle liggame, oortuigings, aksies en stryde ontbloot het.

Venter se biografieë is hier vertaal en aangepas deur Andréa Müller.

  1. Kathleen hanna (1968—)

Kathleen Hanna (1968—)

Kathleen Hanna is in Portland in 1968 gebore, en is reeds as jong kind aan feminisme blootgestel: op negejarige ouderdom woon sy saam met haar ma ’n Solidarity Day rally in Washington DC by, waar sy Gloria Steinem hoor praat. Moeder en dogter moes egter hulle betrokkenheid met die vroueregte-beweging vir haar pa wegsteek, omdat hy dit nie goedgekeur het nie.

Hanna is ná skool kollege toe in Olympia, waar sy begin strip het om haar studiegelde te betaal, en as vrywilliger by ’n organisasie vir slagoffers van huishoudelike geweld gewerk het. Tydens hierdie tydperk het sy ook begin om temas van seksisme en geweld teen vroue te ondersoek in spoken word performances. Haar spoken word performances was egter net die begin van haar betrokkenheid in Olympia se musiekscene.

Hanna vorm in 1990 die musiekgroep Bikini Kill met die doel om meer vroue te inspireer en aan te moedig om betrokke te word by Olympia se opkomende dog hoogs heteronormatiewe en manlik-gedomineerde punk scene. Hanna skep in samewerking met lede van Bratmobile en Heavens to Betsy die zine Riot Grrrl, wat ’n oproep op jong vroue maak om die samelewing se patriargale verwagtinge van vroue te ondermyn en vir gendergelykheid te veg. Hierdie zine het bygedra tot die ontstaan van die derde golf feminisme en die Riot Grrrl-beweging. Waar die eerste twee golwe van feminisme gerig was op vroueregte, reproduktiewe regte en genderdiskriminasie, het die derde golf feminisme gefokus op interseksionele onderdrukking – naamlik hoe ras, klas, seksuele oriëntasie en genderidentiteit deur patriargale magstrukture geaffekteer word. Vanuit hierdie fokus en die ondergrondse Riot Grrrl-punkbeweging kon vroue woede, frustrasie en rage uitdruk – emosies wat as sosiaal-onaanvaarbaar beskou is vir vroulike musikante om uit te druk. Onder die banier van die Riot Grrrl-beweging en punk se DIY-etiek kon vroue sing oor seksualiteit, rassisme, patriargie, huishoudelike geweld, verkragting, aborsie, anargisme en klassisme. By konserte sou Hanna vir vroue in haar gehoor vra om na die voorkant van die verhoog te beweeg om teistering in die meestal manlik-gedomineerde punk scene te voorkom, waar mosh pits ook geneig was om gewelddadig te word.

Riot Grrrl is gou deur die hoofstroom gekoöpteer en hulle “girl power”-slagspreuk is deur groepe soos die Spice Girls aangeneem.

Hanna speel steeds in bands as ’n aktivis en kunstenaar.


2. Queen Nzinga (c. 1583—1663)

Queen Nzinga (c. 1583—1663)

Nzinga (Njinga in moderne Kumbundu) is in 1583 gebore in die koninklike familie van Ndongo in wat vandag Noord-Angola is. Haar ma was een van haar pa se slaafvroue. Alhoewel sy nie as ’n moontlike opvolger tot die troon beskou is nie (omdat sy ’n vrou was, en boonop die kind van ’n slaaf), het haar pa haar ingeskryf vir weermagsopleiding. Sy het hier besonderse talent getoon met die tradisionele Ndongese gevegsbyl. Ná haar pa se dood, het haar broer koning geword.

Omdat sy Portugees kon praat, het haar broer haar gestuur om hom te verteenwoordig in ’n ontmoeting met goewerneur Joao Corria de Sousa. Venter vertel: “Legend has it that on arrival Nzinga noticed that the only chair in the room was provided for Governor Corria and promptly ordered one of her assistants to fall on their hands and knees and act as a chair for her.” Nzinga het die strategiese waarde van ’n alliansie met die Portugese raakgesien, veral as ’n bron van gewere vir haar eie weermagte. Ten einde diplomatiese verhoudinge te versterk, het Nzinga tot Christendom bekeer en die naam Dona Anna de Souza aangeneem.

Ná haar broer se dood in 1626 het Nzinga sy plek op die troon ingeneem en haar verhouding met die vyand — naamlik Portugese koloniste — heroorweeg. Sy het Christendom afgekeer en geweier dat die Portugese haar nasie beheer. Sy het alliansies met verskeie krygshere in Afrika gevorm. Sy het meer manlike eienskappe aangeneem en ’n volledige vroulike lyfwag vir haarself gestig. Sy het beveel dat sy aangespreek word as “Koning”.

Teen die laat-1630’s het Nzinga ’n strategiese alliansie met Nederland gevorm om ’n weermag teen Portugal te lei – wat ’n 30 jaar-lange oorlog teen die Portugese voortgesit het.

Nzinga het haar koninkryk met militêre oorwinning ná militêre oorwinning uitgebrei. Haar magshonger het haar die reputasie gegee as “the most potent adversary to Europeans in all of Africa”. Sy het troepe fisies in veldslae in gelei en guerrilla-aanvalle teen die Portugese georkestreer tot diep in haar sestigs.

Nadat die oorlog met Portugal geëindig het, het Nzinga Mtamba as ’n handelsmag gevestig, en haar greep op slawehandel hierdeur versterk. Nzinga se mode het in hierdie post-oorlog tydperk meer vroulik geword, en sy het gedurende hierdie periode hernude fokus op die opvoeding van haar mense geplaas. Sy is in 1663 oorlede. Sy het haar suster, Kambu, aangewys as haar opvolger.


3. Lady Godiva (c. 990—1066)

Lady Godiva (c.990 —1066)

Lady Godiva is rondom 990 n.C. gebore en is bekend as ’n jong Anglo-Saxon adellike wat bekend was vir haar barmhartigheid teenoor en gewildheid onder die mense van Coventry, waarvan haar man, Leofric, heer was. Haar verhaal is deur orale geskiedenis en folklore oorgedra, en gaan as volg:

Die mense van Coventry het gely onder onderdrukkende belastings wat deur Leofric gehef is. Godiva het haar man gesmeek om die belastings op te hef, maar hy het geweier — totdat hy verklaar het dat hy haar wens sou toestaan onder een vernederende voorwaarde: “Mount your horse naked and ride through the market place of the town, from one side right to the other, and when you return you shall claim what you desire.”

Godiva het sy voorwaarde aanvaar en ’n boodskap deur die dorp gestuur dat alle inwoners hulle hortjies moet sluit, binne hulle huise moet bly en hulle oë afwend. Sy het ontklee, haar lang hare los laat hang om haar kaal liggaam te bedek soos ’n sluier, en op haar perd geklim. Met twee begeleidende soldate het Godiva naak te perd van een end van Coventry na die ander gery. Haar man is geforseer om sy swaar belastings op te hef.

Legend has it dat dit ook uit hierdie verhaal is wat die term “peeping Tom” ontstaan het: Een man genaamd Thomas het gekyk hoe Godiva verbyry — as straf het die dorpsmense hom (letterlik) blind geslaan.


4. Edimonia Wildfire Lewis (c. 1844—1907)

Edimonia Wildfire Lewis (c. 1844—1907)

Edmonia “Wildfire” Lewis is in 1844 gebore aan ’n Chippewa ma en ’n Haïtiese pa, wat beide oorlede is toe Lewis nege was. Haar broer Samuel “Sunrise” Lewis verkry rykdom in die Gold Rush in die weste, waarmee hy Lewis se opvoeding finansier – ’n skaarste vir ’n vrou, selfs meer vir ’n vrou van kleur of van inheemse herkoms in die wending van die negentiende eeu. Lewis gaan voort om kuns aan die Oberlin College te studeer. In 1862 word Lewis daarvan verdink dat sy twee van haar klasmaats vergiftig het. As gevolg van dié gerug is Lewis een aand op pad huis toe deur ’n Wit mob aangeval – sy is in ’n veld gewelddadig aangerand en gelos vir dood. Die insident is ondersoek en Lewis moes tereg staan. Die aanklagtes is egter teruggetrek weens ’n tekort aan bewyse.

Ná dié skandaal trek Lewis Boston toe om ’n loopbaan as beeldhouer na te streef. Sy kry opleiding onder Edward Augustus Bracket, ’n spesialis in marmer borsbeelde. Ná haar opleiding begin sy beelde van afskaffingsgesinde (abolusionist) helde skep. Met die opbrengs van die verkope van hierdie borsbeelde kon sy Rome toe trek om haar loopbaan verder uit te brei. Hier begin Lewis met die hulp van Rome se progressiewe kunsgemeenskap met marmer in ’n neoklassieke styl beelde skep. Terwyl baie ander vroulike beeldhouwerkers Italiaanse beeldhouwerkers gebruik het om beelde vanuit hulle klei- en wasmodelle te kerf, was Lewis bekend daarvoor dat sy haar eie werk fisies uit marmer uitgekerf het.

Lewis se werk het temas behels wat aangesluit het by Swart en inheemse Amerikaanse kultuur. Dit het vir groot somme geld verkoop, en sy het aan talle groot uitstallings deelgeneem.

Die uitstalling van Lewis se beeldhouwerk The Death of Cleopatra by die Centennial Exposition was ’n hoogtepunt in haar loopbaan. Die beeld het egter gemengde reaksies van kritici ontlok, en het uiteindelik nie verkoop nie. Lewis se loopbaan het uiteindelik stagneer, en daarmee het haar roem gekwyn. Sy het in 1901 Londen toe getrek, waar sy in 1907 oorlede is aan nierontsteking.

The Death of Cleopatra het vir ’n honderd jaar byna verdwyn uit die kollektiewe kulturele geheue — dit is tydens die Tweede Wêreldoorlog uit ’n stoor aan ’n eienaar van ’n resiesperd verkoop, wat dit op die graf van ’n geliefde perd genaamd Cleopatra geplaas het. Dié resiesbaan is later in ’n gholfbaan verander, waarna dit ’n vloot se krygstuig en toe ’n massa-posverspreidingssentrum geword het. ’n Skolier van African-American-kuns het uiteindelik die beeldhouwerk hier gevind, en die stuk is eindelik in 1994 aan die Smithsonian American Art Museum geskenk, waar dit herstel is tot sy oorspronklike glorie.


5. Kewpie Fritz (1942—2012)

Kewpie Fritz (1942—2012)

Kewpie Fritz is in 1942 gebore as Eugene Fritz. Op 14 begin Fritz balletklasse neem by die Universiteit van Kaapstad, wat lei tot ’n geleentheid om oorsee te dans. Haar pa weier egter die aanbod. Hy ondersteun wel Fritz se loopbaan as hairdresser, en koop haar eie salon vir haar in Distrik Ses. Fritz was openlik en trots genderfluid, en het self met vroulike voornaamwoorde geïdentifiseer.

In ’n tyd waarin homoseksualiteit onwettig was en apartheidswetgewing geseëvier het, het Kewpie se salon, Salon Kewpie, as ’n veilige, inklusiewe ruimte vir Distrik Ses se queer gemeenskap gedien, waar drag-konserte opgevoer is en waar queerness gevier is. Kewpie het een van die invloedrykste queens in Suid-Afrikaanse drag-kultuur geword, en sy is gevier as ’n ikoon in dié gemeenskap. Daarbenewens het sy byna alle sosiale konvensies van die tyd uitgedaag.

Met die verklaring van Distrik Ses as ’n Wit area het Kewpie geweier om te trek en saam met vriende in Kensington ingetrek. Sy het volgehou om na haar gemeenskap om te sien, ook ná die einde van apartheid. Sy is in 2012 oorlede op 71.

Kewpie se dokumentasie van Distrik Ses se queer scene was integraal vir die historiese preservering daarvan: In 1999 het Kewpie om en by 700 van haar persoonlik-geëtiketteerde foto’s van haar dae in Distrik Ses in die 1950’s tot 1980’s aan GALA Queer Archive gegee. Dit is uitgestal in die uitstalling Kewpie: daughter of District Six. Die Kewpie Legacy Project eer vandag steeds Kewpie se nalatenskap.


6. James Barry (1789—1865)

James Barry (1789—1865)

Barry is in Ierland in 1789 gebore as Margaret Anne Bulkley. Ná die dood van haar oom, die kunstenaar James Barry, verdwyn Margaret en verskyn James Barry: ’n sogenaamde jonger susterskind wat vernoem is na Barry. Die jong Barry arriveer in 1809 in Edinburgh om medies te studeer en behaal drie jaar later graad. Dr Barry se loopbaan begin by die St Thomas-hospitaal in Londen, waarna hy aansoek doen by die weermag se mediese raad. In 1816 word dr Barry na die Kaapkolonie gestuur. Hier begin hy ’n verhouding met Lord Charles Somerset, wat byna sy geheim onthul; ’n hof van ondersoek is geloods, maar is laat vaar weens ’n tekort aan bewyse. Ná hierdie ervaring het Barry ’n hewige humeur ontwikkel: hy het intolerant en bakleierig geraak, gesag uitgedaag en gereeld beledigings uitgedeel.

Behalwe vir sy humeur was Barry bekend vir sy onberispelike higiëne. Hy het sanitasie en watersisteme verbeter, sowel as die lewensomstandighede van slawe, gevangenisse en sielsiekes. Barry was ook bekend daarvoor om platformskoene te dra en klein wit honde aan te neem, wat almal “Psyche” genoem is. Hy is verder bekend as die eerste mediese professionalis wat ’n suksesvolle keisersnit in Afrika uitgevoer het.

Barry was uiteindelik ’n volledige brigade-bevelvoerder wat poste in Engeland, St Helena, Jamaica, Trinidad, Malta, Corfu, Scutati en Montreal gehad het. Sy sukses het egter aan die einde van sy lewe tot ’n einde gekom. Sy humeur het uiteindelik opgevang met hom toe hy verlig is van sy Noord-Amerikaanse bevel nadat hy die dekaan van Montreal, die biskop, aartsdeken en ander lede van die geestelike stand met “insulting conduct” beledig het.

Barry is in 1865 oorlede aan cholera. Sy ware seks is deur lykskouers ontdek en aan die lig gebring.


7. The Public Universal Friend (1752—1819)

The Public Universal Friend (1752—1819)

The Public Universal Friend is in 1752 in Rhode Island, VSA, gebore as Jemima Wilkinson. Wilkinson is grootgemaak in die Quaker-geloof. Op 23 word Wilkinson dodelik siek met ’n aansteeklike koors; hulle oorleef, maar word deur dié ervaring heeltemal getransformeer: Hulle vertel vir vriende en familie dat Jemima Wilkinson dood is, en dat hulle nuwe beliggaamde gees nie manlik of vroulik is nie. Hulle is nou The Public Universal Friend, en “only lived to serve God”. Wanneer gevra is of hulle ’n man of ’n vrou is, het The Friend geantwoord: “I am that I am.”

The Friend het voorts ’n kombinasie van manlike en vroulike klere gedra; hulle hare was kortgesny bo-op hulle kop met lang lokke aan die agterkant. Hulle het openlik gepreek oor hulle eie spirituele ontnugtering en hergeboorte, en het deur Nieu-Engeland gereis om te preek vir hulle groeiende groep volgelinge, wat later bekend gestaan het as die Society of Universal Friends. The Friend het gelykheid van alle mense en die nastreef van ’n regverdige en vreedsame lewe gepreek. Hulle het hulle volgelinge aangemoedig om hulle slawe vry te laat; talle van die lede van die Society of Universal Friends was Swart.

In die 1790’s verkry die Society of Universal Friends grond in Wes-New York, en vorm hier die dorp Jerusalem. Onder die leierskap van The Friend het lede buite die grense van tradisionele genderrolle van die tyd geleef; vroue het gereeld leierskaprolle aangeneem wat gewoonlik vir mans gereserveer is. Baie van The Friend se volgelinge het, soos The Friend, eng-omskrewe genderuitdrukking afgekeur.

Vandag word The Friend as ’n belangrike vroeë figuur in transgendergeskiedenis beskou, veral as ’n voorloper van nie-binêre-identiteitsuitdrukking.


8. Ru Paul (1960—)

Ru Paul (1960—)

RuPaul Andre Charles is in 1960 gebore. Hy het grootgeword in Kalifornië en het op 15 Atlanta toe getrek om opvoerende kunste te studeer. In die 1980’s tree hy met sy punk band, Wee Wee Pole, by die Celebrity Club op. Hy kry internasionale blootstelling as ’n ekstra in The B-52’s se musiekvideo vir ‘Love Shack’.

In New York word RuPaul ’n bekende in die LGBTQI+ club scene, en neem hy deel aan gender-bender-styl optredes en maak hy gereelde verskynings op televisie. In 1993 neem hy sy eerste album op, en verwerf hiermee nasionale roem met sy treffer ‘Supermodel (You better work)’. Hy verwerf verdere sukses wanneer hy ’n modelkontrak met MAC Cosmetics teken en sy eie talk show, The RuPaul Show, in 1996 begin. Met The RuPaul Show word RuPaul die eerste openlike gay aanbieder om op Amerikaanse televisie te verskyn. In 2008 begin RuPaul RuPaul’s Drag Race, ’n televisiereeks waarin drag queens kompeteer om Amerika se “next drag superstar” te word. Die reeks het vandag 14 seisoene, drie spin-off’s en talle internasionale weergawes, en dit het al 14 Daytime Emmy’s gewen.

RuPaul is regdeur sy loopbaan ’n kampvegter vir die toleransie en sigbaarheid van LGBTQI+-uitdrukking. Met RuPaul’s Drag Race het RuPaul die weg gebaan vir die uitbeelding van LGBTQI+-kultuur in die kulturele hoofstroom, en die uitbeelding van LGBTQI+-identiteite in populêre media gerevolusioneer. Aan die einde van elke episode van Drag Race vra RuPaul die retoriese vraag: “If you can’t love yourself, how in the hell are you going to love somebody else?”

Vandag is RuPaul internasionaal ’n baken van toleransie, self-invention en die viering van nonkonformiteit.


9. Ursula Le Guin (1929—2018)

Ursula Le Guin (1929—2018)

Ursula Kroeber is in 1929 in Kalifornië gebore aan ’n antropoloog en ’n outeur. Sy is van jongs af blootgestel aan boeke en fantasie- en wetenskapsfiksie, en het veral ’n voorliefde vir Noorse mitologie en inheemse Amerikaanse legendes gehad. Ná skool studeer sy Renaissance Frans en Italiaanse letterkunde aan Harvard; sy verwerf haar MA-graad aan Columbia-Universiteit en word ’n Fullbright-beurs toegeken om haar PhD in Frankryk te voltooi. Op pad Frankryk toe ontmoet Ursula die historikus Charles Le Guin op die Queen Mary. Hulle trou later daardie selfde jaar, wat Ursula gereken het ook die “einde van haar doktoraat” was.

Le Guin hou egter aan om stories te skryf en publiseer vele hiervan in Fantastic Science Fiction – ’n prestasie wat skaars was vir vroue in ’n manlik-gedomineerde genre. Teen die 1960’s het Le Guin haar eerste trilogie, die Hainish-trilogie, gepubliseer. In 1968 vra Playboy Magazine om haar kortverhaal ‘Nine Lives’ te publiseer sonder haar eerste naam, sodat haar gender verswyg sou word. In latere jare sou sy hierdie voorval as haar “first and only brush with prejudice from an editor” beskou.

In 1968 publiseer Le Guin Wizard of Earthsea, wat baie goed deur kritici ontvang is. In die daaropvolgende jaar publiseer sy The Left Hand of Darkness, waarin feministiese kwessies aangespreek word en temas van gender en seksualiteit in ’n verhaal waarin mense geen vaste seks (gender) het nie, ondersoek word. Die roman word bekroon met beide die Hugo- en Nebula-pryse, en Le Guin word hiermee die eerste vrou om elkeen van dié pryse te verower. Sy word weer in 1973 vir The Word for World met die Hugo-prys bekroon, en in 1974 word sy nogmaals met beide die Hugo- en Nebula-pryse vir The Dispossessed bekroon. Ondanks haar groot sukses het Le Guin opgemerk dat sy bedremmeld en selfs verleë was oor haar eie “skaarste as ’n vrou in letterkunde” was.

Haar loopbaan as skrywer het oor byna 60 jaar gestrek, en sy het in hierdie tydperk meer as 20 romans, ’n 100 kortverhale, meer as ’n dosyn volumes van poësie en 13 kinderboeke geproduseer. Haar werk het regdeur haar loopbaan genderstereotipes en -ongelykheid uitgedaag en temas van bemagtiging en patriargie aangeraak. Sy het verder diverse stemme aangemoedig “to pick up pens and write”.

Le Guin is in 2018, vier jaar voor haar dood, met die Foundation’s Medal for Distinguished Contribution to American Letters bekroon. Tydens haar aanvaardingstoespraak het sy die kapitalistiese aard van die literêre establishment gekritiseer, en die mag van letterkunde en die kunste om sosiale verandering aan te bring, onderstreep: “We live in capitalism, its power seems inescapable – but then, so did the divine right of kings. Any human power can be resisted and changed by human beings. Resistance and change often begin in art.”


10. Olympe De Gouges (1748—1793)

Olympe De Gouges (1748—1793)

Marie Gouze is in die suide van Frankryk in 1748 gebore. Haar ma het ’n bourgeoisie agtergrond gehad, en daar word vandag steeds oor die identiteit van haar pa gespekuleer; Olympe het die gerug aangemoedig dat dit nie haar ma se man, Pierre Gouze, was nie, maar die dramaturg Jean-Jacques Lefranc. Op 17 is Olympe getroud met ’n veel ouer besigheidsvennoot van haar ma se man, en gee geboorte aan sy seun. In dieselfde jaar word sy ’n weduwee – alhoewel dit gespekuleer word dat sy die dood van haar man gefabriseer het en eintlik gevlug het van hom en haar ongelukkige huwelik.

In plaas daarvan om as ’n weduwee met haar man se van te lewe, het Olympe haar ma se middelnaam aangeneem, die aristokratiese “de” voor haar van geplaas en die spelling van haar pa se van verander. Hierdie nuwe en waaghalsige self-verklaarde naam mag dalk ook ’n verwysing na die Oksitaanse woord “gouge” gewees het, wat as ’n neerhalende term vir “lowly and lewd women” gebruik is.

In Parys, met finansiële ondersteuning van haar wel-af lover, het De Gouges begin skryf: poësie, novelle en dramas. Ná die stormloop van die Bastille in 1789 het De Gouges geradikaliseer en pamflette en vlugskrifte geskryf wat ’n oproep gemaak het om huise vir toevlug vir vroue en kinders; belasting vir werkswinkels vir werkloses; die legitimasie van kinders wat buite die huwelik gebore is; gelykheid van erfporsies; die wettiging en regulering van sekswerk; die wettiging van egskeiding; skoon strate; ’n nasionale teater; en die opening van professies aan almal, ongeag ras, klas of gender.

As lid van die Girondistiese faksie tydens die Franse Revolusie was sy ’n voorstander van ’n konstitusionele monargie. Sy is tydens die skrikbewind van die Franse Revolusie in hegtenis geneem en op 3 November 1793 met die guillotine tereggestel.


Getekende, ongeraamde prints van hierdie werke is hier beskikbaar.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Anja Venter en die Patriargie as 'n dinosourus gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand