Danie du Toit van Spoegwolf oor hul nuwe album

Danie du Toit van Spoegwolf oor hul nuwe album
Omslagontwerp deur Tertia du Toit

Omslagontwerp deur Tertia du Toit

Danie du Toit, van Spoegwolf, praat oor Die Donker Toring

 

Is daar pertinente tema’s in die nuwe album? Die klank en lirieke is sekerlik gekoppel aan die fases en plekke waarin julle julself, gesamentelik en individueel, bevind.

Ek dink daar is ’n paar temas. Elke ou in die band het in hul lewe ’n donker toring beleef. Die album, voel ek, wys meer na ons almal se pad weg van hierdie torings af. ’n Tema wat vir my belangrik is, is die uitstaan, opstaan en wegstaan van donker dinge. Die wêreld is maar ’n funny plek, en al wat ons almal kan doen, is om Noord te kyk. Die album gaan eintlik wel nie heeltemal net oor ons persoonlike lewens nie. Baie goed sien ’n mens raak. Die skrywer, in my opinie, moet liewer ’n joernalis wees (weergee wat rondom hom gebeur), en nie ’n dagboek-draer nie.

Dis sowat twee jaar ná die release van julle vorige album; wanneer het julle aan hierdie een begin werk? Die wagperiode tussen jul vrystellings neig na die langer kant. Julle het voorheen genoem dit gee julle kans om die finale produk meer te verfyn, tog gebeur die meeste seker tydens die finale studiotyd? Buiten vir die pas-vrygestelde musiekvideo vir Noorde, wat kan ons nog verwag?

Ons het al begin werk hieraan die naweek na die release van Somer. Net so is ons besig met ons volgende projek (ek hou baie van die idee van Glas). Ons hou daarvan om genoeg tyd daaraan te spandeer – maar ek dink ons behoort nie langer as ’n jaar en ’n half met hierdie een te vat nie.

Julle behartig die meeste van die produksieproses onafhanklik - verkies julle die outonomie daarvan? Dit kom met uitdagings ook.

Ons sien die prokek maar as een lang braai. Dis onafhanklik omdat dit ons plekkie in Stellenbosch gebeur tussen die vuur, die bier en die samesyn. Ons is almal maar besig met klomp dinge, so Spoegwolf gebeur as die son onder is. Daarom kan ons nie regtig die projek aan iemand anders oorlaat nie. Chris is ’n monster as dit kom by produksie, wat beteken dat ons die eerste opnames met gemak by die huis kan doen. Daarna, natuurlik, doen ons die hele album oor in ’n groot studio (Sunset Recording Studio).

Enige colabs tussen julle en ander kunstenaars op die nuwe album? Julle word geken in die bedryf - interdissiplinêre samewerkings kom nou meer tot speel met jul optredes, produksieproses en dies meer. Jy werk ook nou saam met die ATKV.

Ons het ’n awesome colab met Die Hooflig. Ek het hom wel ontmoet deur die ATKV! Musiek is kleiner as wat jy dink, en alle musikante in Suid-Afrika is broers en susters. Sommiges het net nog nie hul broers en susters ontmoet nie. Wie dink jy is ons pa? David Kramer?

Julle faam neig na die Afrikaanse bogrond, op pad op van die ondergrond, maar tog is julle aanhangers besonders betrokke en aktief - meer as wat normaalweg gesien word, veral op social media. Hoe mobiliseer julle die skare só?

Ek is dankbaar vir die kompliment. Ek dink ons is liewer onder die water as onder die grond. En klank travel op snaakse maniere onder die water.

Al die lede van Spoegwolf werk en/of studeer effektief voltyds, as ’n sjef, ingenieur, kopieskrywer, wynmaker… Dan doen julle nog landswyd optredes en toer gereeld. Is die sprong na ’n voltydse Spoegwolf op die kaarte, of vereis dié bedryf meer grit? Hoe weeg julle rolle as musikante op teen meer konvensionele roepings? Is daar uitdagings om die lede bymekaar te hou, soos julle nuwe rigtings in die oë staar?

Ons wil baie graag voltyds musiek maak – en dalk val dit op die kaarte (hoe dink ek nou aan Bob se Jack of Hearts!). As die ondersteuning so volhou vir musiek wat gemaak word om te luister, en nie om te verkoop nie, sal ons dit hopelik nog kan doen. Vir nou hou ons goeie moed (Zinkplaat?), en braai ons lekker aan.


Die album en merch kan hier bestel word, dis ook op iTunes.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Danie du Toit van Spoegwolf oor hul nuwe album gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand