'n Naweek op Theefontein met Antoinette Pienaar en Oom Johannes

'n Naweek op Theefontein met Antoinette Pienaar en Oom Johannes
IMG_3838.jpg
b9b189f26fbd90d246f80ca229e8df19.JPG

Sprokkelhout, vosman, fynspog, katjiedrieblaarbos, stadsneurose…

14 Mei 2020: Dit is ’n gepaste tyd om terug te kyk op my naweek saam met die kruiekenners. Die wêreld voel vreemd. Dit wat hulle nie met kruie regtoor nie, maak hulle met woorde reg. Ek het daardie woorde om op terug te val. Ek onthou hoe ons deur daardie dorre veld gery het en wat die eerste woorde was wat my bygeval het. Oom Johannes sê dat wanneer die lewe swaar trek, moet ons groei soos die bossies. In ’n tyd van droogte lyk die bossie dood, maar dit is wanneer hy sy energie in sy wortels sit en in sy “wortels groei”. 

Dit is eintlik waarom ek wou gaan kuier. Ek voel by tye skuldig, want ek het nie nukke of kwale nie, maar versamel graag. Stokke, dooie insekte, takkies, lappies, inligtingstukke, klanke, verhale, mooi woorde. Ek wil bloot gaan om woorde te versamel en my binnelandskap (soos ek later leer Antoinette sê) aan te vul.

1 November 2019: “Oom Johannes sal darem seker die rugbywêreldbeker-finaal op die radio luister,” sê ek vir my pa in die bakkie. “Kan nie glo ek mis dit nie,” sê ek asof ek enigsins iets van rugby weet of al ’n wedstryd deurgekyk het. Ek en Lezanne het ons naweek al maande gelede bespreek. Ons gaan na die kruiekenners toe. Antoinette en Oom Johannes. 

My pa neem my vanaf Williston tot by een of ander godverlate vulstasie langs die godverlate N1. Lezanne gaan ons daar kry, dan klim ek oor. 

Ons laai oor. Koelbokse, agt sakke vol Woolies-kos (jirre, mens sal sweer ons het gepak vir ’n Desembervakansie by die see), warm klere, leesboeke, notaboeke, sketsboeke, verf, potlode, flitse, kopligte, beskuit, biltong... My pa stuur vir Antoinette-hulle twee pakke Kangosrand-tjops en roosterkoeke wat Maria gebak het. ’n Tannie van Williston stuur ’n bak stroop-fokken-soet pampoenkoekies en orige verjaarsdagkoek (iemand het verjaar, ek kan nie onthou wie nie).  

c11c2790f6da50f074163b97402061d5.JPG

Beaufort-Wes. Ek het eenkeer gehoor iemand verwys daarna as ’n verheerlikte vragmotorstop. Ek kan nie help om te dink aan die sentrale rol wat Beaufort speel in die lewens van die kreatiewes wat hy uitspoeg nie. Ek het ’n diep liefde vir hierdie dorp (todat ons by die Checkers aankom en wil geld trek. Dis payday. Foktog.) 

Op pad na Juriesfontein sit en dink ek wat ek graag vir die kruiekenners wil vra. Daar lê vrees iewers in my, maar dis ’n vreemde gevoel om te verwoord. Ek voel kwesbaar om dit te erken. Kom ons kyk maar eers. 

Ons kom aan by ons verblyf op Juriesfontein. Dis ’n tipiese jaghuis. Dit het ’n groot grasperk en selfs ’n groter skerm (braai-area). Ons is nie seker wat die naweek se agenda is nie. Ons pak af, klim in die kar en val in die pad na Theefontein. Ons is nie seker of ons na hulle moet ry of hulle na ons toe kom nie. By die boonste hek sien ons Antoinette se bakkie, oftewel “Die Groot Wit Haai”. Ons reverse terug na die jaghuis. Almal ontmoet mekaar. 

Die organiseerder in my wag vir die inligtingsessie van wanneer en waar ons wat gaan doen, maar organisasie is ’n nagedagte. Ons gaan sit almal buite op die gras en binne twee minute trek Antoinette en Oom Johannes weg met ’n storie. Ek onthou daardie oomblik so helder soos gister. Ek dink: “Elzahn, hier sit jy nou. Neem elke oomblik in, jy wag al jare hiervoor en hier sit jy nou.” Fok, ek is opgewonde.

Ons sit buite op die gras en gesels. Die program is los, maar ons gee nie om nie. Ons hang aan hulle lippe. Lezanne gaan maak ’n moerse sterk pot koffie. Ek vertel vir Oom Johannes hoe ek veldskool gedoen het saam met die ou jakkalsjagter, Oupa Klaas, op my pa se plaas. Ek vertel dat ek met opgewarmde oë reg voel om te kyk wat in die veld lê, maar dat ek sukkel om raak te sien. Oom Johannes trek weg met sy eerste bietjie advies: ek kort ’n groen lap. “Mens moet al die tyd dinges, uh, ’n groen lap, veral as ’n mens nou so met tille werk dan moet jy jou groen lap so voor jou sit dat mens altyd groen sien, dan werk jou oë lekker oor die groen.”  

33cc018c3fc01730e8a25a7d3b7b6e52.JPG

Ná omtrent twee uur se gesels sê Antoinette: “Oom, ek wil nou nie uit my beurt uit praat nie, maar ons moet die diere gaan versorg.” Ek sê vir Antoinette hoe baie kos ons hier het, hulle moet asseblief niks bring vir môreaand se braai nie. 

Antoinette: “Hier raak ’n mens LUS vir alles wat onmoontlik is! Ons is so as ons in die veld stap. Kwaaibul is ’n tipe krui en jy kry vir hom nie as jy hom soek nie. Dan het ons ’n kompetisie, die een wat eerste Kwaaibul kry, is koning vir ’n week. As jy koning is, kan jy ALS vra wat jy wil hê. Ek vra altyd vir ’n draairoomys met ’n cone! Want dít kry jy nie op Theefontein nie!”   

Ons begin die volgende oggend vroeg. Lezanne maak weer van haar sterk koffie. Ons val in die pad na Theefontein. Daar aangekom, staan die Groot Wit Haai reg vir ons. Ons ry die klowe stadig tussen die Man- en die Vrouberg uit. Oom Johannes vertel hoe hulle jou manlike en vroulike energie gelyktrek. Ek merk op hoe mooi die wolke lyk. “Daai is vliese,” sê Antoinette. 

Die veld is onmenslik droog. Van die Karooboere het jare laas reën gehad. Dit klink vreemd om te sê, maar dis waar. Die veld is bles, voskleurig en takkerig. Ek merk op dat dít beter lyk as daar aan Williston se kant. Antoinette sê dis omdat ons in ’n kloof is. 

90677a094addce65b6abb3e05ae811da.JPG
5231f3f4935872851ed270d35c04fa09.JPG

Antoinette: “Ek weet nie of ons veel kruie gaan kry nie, dis te droog, maar ons gaan braai lekker worsie in die Katjiedrieblaarbos.” Sy vertel hoe mens die Swartberge kan sien van hulle huisie af. “So, as jy wil weghardloop,” sê sy, “kan jy tot by die Swartberge hardloop!” En die volgende oomblik: “OOOOOOHHH! Wil julle penne hê?!” (Ystervarkpenne). Ek is mal oor Antoinette se skielike “Ooohs!”. Dis so sing, half kinderlike opwinding, half skrik-my-in-my-moer. Ná die penne-opwinding gaan ons voort met ons lesse. “Die kapokbos is familie van die roosmaryn. As mens met ’n vol blaas oor ’n aar stap, dan pie jy jou sommer nat!” (’n Wateraar onder die grond). “Katjiedrieblaar is die vroulike krui, dit help met jou siklus, help met die oorgang as jy nou ’n gisooi is soos ek, als wat vroulik is.” 

Hier is waarhede ingevleg tussen raaisels en spookstories. Hulle spring van die een na die ander. Ons ontleed niks. Ons luister met gerekte oë. 

Antoinette: “Dit maak ’n mens se breins oop as mens raaisels doen, dan kom jy uit jou rondekop, want geen denkproses bring jou daar nie. Mens moet dink soos ’n spiraal en dan ’n tou wat knoop!” 

30f5d1b18fa980f4d310b54832830e3c.JPG

Oom Johannes trek weg met ’n raaisel: “Ek het ’n witperd en hoe meer water hy drink hoe maerder word hy, RAAI ’n bietjie!? Julle gebruik dit elke dag... Soggens en saans miskien... Mens kan nie sonder hom nie...” 

Ons dink. Ek is skoon op my senuwees.  

“Seep!” skree Lezanne. 

“Ja!!” skree Antoinette. 

Antoinette vertel ’n storie in volkleur en met ’n vol spektrum musieknote. Ons sit op die punt van ons verbeeldingstoele en luister na haar liriese, teatrale stories vol handgebare. Sy bring die dogtertjie wat binne my skuil na vore. Hier het ons toestemming om te speel. Ons tel stokke op. “Hierdie een lyk soos ’n walvis! Hierdie een lyk soos die Eiffeltoring!” Ons teken prentjies in die sand. 

Oom Johannes vertel ’n storie saggies en eindig meestal met ’n lag. ’n Lekker uit-die-maag-rokers-lag. Hy sê iets ernstigs, maar lag dan vreeslik lekker terwyl ek sit en dink oor hoe indrukwekkend sy stelling was. Dit voel vir my daardie lag is sy mic-drop. Hy vertel hoe sy pa gesê het jy moenie spoke baie kyk nie, want hy draai jou nek om. As jy met ’n spook kommunikeer, moet jy ’n mes op jou skouer sit. En dan spring hy van spoke na wyshede: “Mens doen so als partykeer aan ’n mens self dan wil jy nou loop skrik daarvoor.” 

IMG_3739.jpg

Daar is niks in die Karoo waarvan Oom Johannes nie ’n kenner is nie. Ek versamel die woorde van al sy vorige beroepe. Hy het klipkrale gebou; pompe opgesit en reggemaak; pos gedra tussen plase; jakkalse, rooikatte en luiperde gejag en skaapwol geklassifiseer. Hy is ’n waterwyser, kruiekenner en leermeester. Hy ken selfs die geluide van ’n gesonde windpomp, hy gaan ke-tak-tak-tak-tak, ke-tak-tak-tak-tak! (Van hard na sag). 

Op ’n stadium bekyk hy vir my en Lezanne en sê, “Lyk my julle twee is mak vir mekaar.” (Ons verstaan mekaar goed).  

Dis ons laaste dag. Ons sit onder die peperboom. Voor ons begin eet, staan almal in ’n kring en hou hande vas. Antoinette bid. Ná die gebed swaai almal hul arms saam en skree: “Liefde, liefde op Theefontein!” 

Op Theefontein praat hulle gereeld van die Here, maar hierdie Here is nie die Here waarmee ek grootgeword het nie. Hierdie een is die regte Here, dink ek. Dit is die Here wat dwaal in plante en diere en lief is vir ’n spookstorie. Dis die Here wat lag in plaas van skel. Dis die Here wat aanvaar. 

Ons eet lamsvleis wat vir ure sag gekook is in ’n pragtige La Creuset-pot. Antoinette vertel hoe sy en Oom Johannes af Kaap toe is na die La Creuset-winkel, met ’n sakvol gespaarde show geld. Hulle gaan hulself bietjie bederf. Sy vertel hoe die verkoopsmense agter haar en Oom Johannes aangeloop het en elke nou en dan opmerk het: “Mevrou, hierdie potte is baie duur.” Sy sê dan heel rustig: “Ja, dankie. Ek weet.” Hulle koop daardie dag ’n ekstra pot. 

Saam met die saggekookte lamsvleis eet ons patats wat bedruip is in heuning en so gebak is. Anna Maria Martinez (die kat) wil-wil net iets uit een van ons borde steel. (Ek neem haar nie kwalik nie.) Antoinette praat haar een of twee keer in ’n baie diep stem aan en toe sy die derde keer haar geluk toets, toe besluit Antoinette genoeg is genoeg. Sy begin vir Anna Maria skel. “ANNA MARIA MARTINEZ! HOEVEEL KEER MOET ’N MENS PRAAT! HET EK NIE NOU AL MOOI GEVRA NIE? JY GAAN NIE VIR JOU SO LOEP STAAN EN GEDRA NIE, ALLAMAGTIES, NEE! OPERASANGERS VAN SULKE STATUS SAL NIE SO TEKERE GAAN NIE!” Dit hou vir ’n goeie paar minute so aan. Ek en Lezanne verstik amper aan ’n lamsbeen van die lag. 

Ek is nie reg om te gaan nie. Ons het dan nou net hier aangekom. Ons viertjies raak dan nou net “mak” vir mekaar. Ons kry elkeen ’n kans om ’n vraag te vra oor ’n kwaal of ’n nuk. Ek brand om te weet wat hulle advies is vir al hierdie fokken vrees wat ek voel. Ek’s nie ’n bang mens nie, maar iewers oor die laaste paar jaar het vrees my beetgekry en ek kry hom nie geskud nie. Ek vra my vraag. Oom Johannes dink ’n tydjie en sê: “Sit net jou glo voor jou bang.” 

My woorde laat my in die steek wanneer ek hierdie storie probeer afsluit. Ek dink dis omdat my tyd daar maar nog net begin het. 

Woorde wat ek met my saamneem: sprokkelhout, vosman, fynspog, katjiedrieblaarbos, stadsneurose...

Ek het vergeet van die rugby. Ek wonder wie gewen het. 

Alle foto’s deur Elzahn Nel.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van 'n Naweek op Theefontein met Antoinette Pienaar en Oom Johannes gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand