Skryf nou in vir Silwerskermfees 2025

Skryf nou in vir Silwerskermfees 2025

Foto: Retha Ferguson (verskaf)

Hier is al die inligting wat jy nodig het

Sedert die eerste kykNET Silwerskermfees in 2011 op Prins Albert gehou is, waar slegs een speelfilm vertoon is, het hierdie Suid-Afrikaanse en Afrikaanse filmfees oor die afgelope 10+ jaar tot die vervaardiging van meer as 170 kortfilms en 50 vollengtefilms gelei. Die fees, wat deesdae jaarliks in Kampsbaai, Kaapstad plaasvind, is ’n wonderlike geleentheid vir ontluikende talent om die plaaslike filmbedryf te betree deur mentorskap te bied aan ’n aantal kortfilms wat jaarliks onder die feesvaandel vervaardig word. Sedert 2023 sluit hierdie mentorskapprogram ook dokumentêre kortfilms in.

Die 2024-Silwerskermfees beloof kykgenot uit die boonste rakke. Volgens Tina Kruger, die feesprogrambestuurder, neem komedie, drama en romanse die voortou by die genre van vanjaar se speelfilms, terwyl daar ’n reuse-verskeidenheid style, stemme en verrassende stories te sien is by die opkomende filmmakers se kortfilms.

“Met die twaalfde Silwerskermfees voel dit amper of ons terugkeer na waar ons eens gewortel was. Ons het destyds as jong spruite wortel geskiet, opgegroei, sterk gestaan, die pandemie (net-net) oorleef, en laas jaar in vol kleur gebot,” vertel sy. “Hierdie jaar is die fees aards en eerlik, met films en ander inhoud wat vermaak, uitdaag en bekoor vanuit ’n outentieke Afrikaanse invalshoek.”

Hierdie jaar is daar ook gevestigde filmmakers wie se “shotgun shorts” van die program gaan deel vorm — ’n eerste vir die fees. “Ons gaan ook weer, soos verlede jaar, voorsmakies van TV- en stromerreekse vertoon, iets wat laas jaar opspraak gemaak het en ’n brug bou vir die fees om by meer internasionale inhoudsfeeste en -neigings kers vas te hou.”

Oor die ontwikkeling van dokumentêre films by die fees, sê Tina dat verlede jaar se kort dokkies ’n enorme treffer was. Die fees het nou ook ’n kompetisie-kategorie vir kort dokumentêre deur gevestigde filmmakers oopgestel. Ervare filmmakers kan nou hiervoor inskryf en die gekose projekte sal mentorskap en befondsing van die fees ontvang om in 2025 op die grootskerm te wys.

Vir Tina is dit ’n bewys van die Silwerskermfees se positiewe impak dat soveel filmmakers wat jare gelede hul debuutkortfilms by die fees première het, nou suksesvolle en selfs internasionale loopbane het. “Daardie filmmakers kon in die veilige ruimte van ’n ondersteunende bedryf hul styl uittoets en hul byle skerp maak, en nou staan hul op pienk en rooi tapyte elders en hou die Silwerskermfees se naam omhoog.”

Alhoewel die Silwerskermfees oorwegend ’n platform vir Afrikaanse films skep, hou die temas, filmtegniek en kwaliteit tred met wat internasionaal op die silwerdoek te siene is. “Dit is ons voorreg en ons verantwoordelikheid om, ten spyte van en te midde van moontlike plaaslike beperkinge, stories te vertel oor ons mense vir ons mense, en ek glo die fees het oor die jare in daardie eerbare doelwit geslaag,” sê Tina. “Voeg boonop by dat TV- en stromerinhoud ook ’n plekkie in die program vind, en ’n vermaaklikheidsindustrie word algeheel gestimuleer, geskool en gevier.”

Wil jy inskryf vir die 2025-Silwerskermfees? Lees die persverklaring hieronder vir al die besonderhede.


Gesoek: Vars talent én ervare hande vir die 2025-kykNET Silwerskermfees 

Die 12de kykNET Silwerskermfees, wat tussen 28 en 31 Augustus 2024 in Kampsbaai plaasvind, bou voort op sy visie om ’n wegspringblok en platform aan aspirant-filmmakers in die TV- en rolprentbedryf te bied. 

Onder vanjaar se Silwerskermfees-debuutwerke tel agt kortfilms (deur opkomende filmmakers), ses shotgun-kortfilms (deur gevestigde filmmakers) en vyf kort dokumentêre films. 

Intussen kan Suid-Afrika se eie toekomstige Christopher Nolans, Greta Gerwigs, Martin Scorseses en Cord Jeffersons ook reeds inskryf vir 2025 se Silwerskermfees-kompetisie vir kort- en dokumentêre films. 

Vanjaar word die kompetisie in twee kategorieë verdeel met opkomende filmmakers wat vir beide kortfilms en kort dokkies kan inskryf, en gevestigde filmmakers (draaiboekskrywers, regisseurs en vervaardigers wat voorheen aan die Silwerskermfees-kortfilmkompetisie deelgeneem het) wat nou ook hul idees en konsepte vir sowel kortfilms as kort dokkies kan voorlê. 

Met beide kategorieë is die fees op soek na diverse en verbeeldingryke storievertellers wat die pas in die snelgroeiende film- en televisiebedryf van vandag en môre kan aangee. 

Die keuringsproses vir die kompetisie strek oor verskeie fases.

Indien ’n kort dokumentêr in jou visier is, sal jy aanvanklik die titel, genre, ’n beskrywing van die storie en temas wat aangeraak word, verwysings en die beoogde tydsduur moet verskaf. Die dokkie mag nie langer as 30 minute wees nie en ’n verdere vereiste is dat 60% van die inhoud Afrikaans moet wees. Enige variant van Afrikaans is welkom. 

Die finaliste vir die volgende ronde, wat in Mei 2024 gekies sal word, moet ’n voorleggingsvideo instuur. Daarna volg ’n derde siftingsronde wat, onder meer, ’n formele voorlegging met ’n begrotingsplan en regisseursvisie behels. Dié ronde sal bepaal wie die suksesvolle kandidate is wat finansiering en mentorskap om hul dokkiedroom ’n werklikheid te maak, sal ontvang. 

Die 2025-Silwerskermfees-kortfilmkandidate sal deur ’n soortgelyke keuringsproses aangewys word. As jou voorstel uiteindelik die groen lig vir finansiering en mentorskap kry, kan jy in die voetspore van ’n rits veelbekroonde Suid-Afrikaanse rolprent- en televisiemakers volg wat hul eerste buiging in die bedryf met ’n Silwerskermfees-kortfilm gemaak het. Daaronder tel Christiaan Olwagen, wat later talle pryse verower het vir rolprente soos Johnny is nie dood nie, Kanarie en Poppie Nongena; die baanbrekers Ephraim Gordon en Amy Jephta van Barakat-faam en die filmmakerpaar Corné en René van Rooyen wat Vaselinetjie, Toorbos en Hans steek die Rubicon oor op hul kerfstok het.

Verskeie Silwerskermfees-kortfilms, soos Vuil wasgoed en Beurtkrag, is ook al in vollengterolprente omskep.

Die 2025-kortfilms kan tussen 7 en 30 minute lank wees, in enige genre en enige Afrikaanse variant. Dit kan ook ander landstale insluit, maar 80% van die dialoog moet Afrikaans wees. 

Jou inskrywing vir die eerste ronde van beoordeling moet ’n konsepvoorstel van 250 tot 300 woorde bevat. Die draaiboek, regisseursvoorlegging en begroting sal later volg.

Besoek hierdie blad om toegang tot die inskrywingsvorms te kry. Die sperdatum is Maandag 15 April 2024 en die inskrywingsfooi beloop R350. 

Vir enige navrae kontak silwerskerm@ideacandy.tv.

Deel hierdie storie


Eerste en oudste Afrikaanse tydskrif, sedert 1896

Divers, progressief en vars. Waardeer jy ’n stem soos Klyntji s’n? Het jy van Skryf nou in vir Silwerskermfees 2025 gehou? Dan ondersteun ons. Donasies van lesers word gebruik om ons bedieningkostes te betaal: jou bydrae hou Klyntji aanlyn. Vriende van Klyntji word op hierdie bladsy erken. Elke bietjie help.


 Eenmalig R
 Maandeliks R


Klyntji verklaar 'n klimaat en ekologiese noodtoestand